Boekresensie: Split deur Debbie Loots

  • 4

split250

Titel: Split
Skrywer: Debbie Loots
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795800986

Wanneer Debbie Loots op bl 86 van haar debuutroman die ingeboude kombuistafel en bankies beskryf, besef mens hoe goed sy ‘n tema kan raakvat. Daardie retro jare.

Hoe is die lewe in Suid-Afrika na 1989? En na 1994? Het ons regtig so geleef in die apartheidsjare? Het ons ons regtig moes bekommer dat gesprekke met anderskleuriges suspisie sou uitlok? Was ons regtig OK daarmee dat ons nie teenoor almal gasvry kon wees nie? Dis mos weird. Hoe het ons dit geduld?!

En dan verdere vrae: Hou ons dalk nog ons handsakke stywer vas as die geselskap dit verlang? Is sommige vreemdelinge meer vreemd as ander?

Tog gaan die boek nie oor die politiek nie. Dit is oor owerspel en seks! Maar ook nie dit nie. Debbie Loots se debuutroman handel oor die alledaagse storie van ‘n gebroke familie.

As mens op die agterblad hierdie beskrywing lees van die gebroke familie wat moet rondtrek van een woonplek na ‘n ander, dan sal jy dalk nie die boek optel nie. Die onderwerp is dan so alledaags. Totdat jy besef hoe Loots dit vertel. Haar skryfstyl is aanloklik. Eerstens: toneel en konteks. Die besonderhede waarin sy die retro items uit die jare 70 en 80 beskryf, is akkuraat, kleurvol en amusant. En Loots is ‘n meester as dit kom by kontinuïteit. Daar is nie besonderhede wat tussen tonele wegraak nie.

Tweedens is haar karakters goed deurdink, haar storielyn goed beplan, en haar struktuur netjies. Die liefde wat baie van ons maar het vir die kitsch-cool van retro goeters word deurgedra na die liefde-haat-gevoelens wat mens as leser vir ‘n karakter soos Willem kweek. Loots se karakters is so te sê perfek geskep. Mens kry die idee dat Loots lekker gespeel het toe sy hulle geskep het, tog sou dit ure se harde werk gekos het. (Glo drie jaar altesaam, vertel sy my.) Loots se karakters is kinderlik eerlik en opreg. Haar kritiek van haar karakters is deel van die subteks, tog word hulle so koesterend ontbloot. Loots sorg ook dat ons lank en gretig karakters moet inwag: Brenda word baie na verwys voordat sy uiteindelik die toneel betree. Met elke nuwe brokkie inligting raak die karakters al hoe meer interessant, selfs die kameerolle, soos die oom op bl 283.

En hierdie karakters is gewone mense – middelklas mense, mense in die woonbuurte van ‘n groot dorp of ‘n voorstad. Life in the ‘burbs, waar die opinies van bure tel.

Die storielyn ontwikkel natuurlik. Loots het immers ‘n maklike storie gekies: die verbrokkeling van ‘n huisgesin en ‘n liefdesverhouding is so alledaags. Tog maak sy dit vol interessante en snaakse draaie, wat mens opnuut laat dink oor die saak. Vera verander oor tyd aan die hand van doodgewone gebeurtenisse: goed wat by die werk gebeur, nuwe verblyf en daarmee saam nuwe romanse.

Loots se slotte (by elke hoofstuk, maar ook by onderafdelings) is almal fantasties, amper asof sy ‘n reeks kortverhale skryf. Maar karakters en storielyn en struktuur is nie al wat ‘n roman goed maak nie. Wat van Loots se skrywerstem? Die aantal verwysings na retro goed is verstommend hoog; amper ‘n katalogus van die jare 70 en 80 op sigself; dit raak genotvolle leesstof apart van die karakters. Skrywers wil dikwels weet of hulle hoegenaamd handelsmerke mag noem in ‘n boek. Is daar dan nie wette daarteen nie? Maar gelukkig het Debbie die slaggate vrygespring (lees hier vir ‘n bespreking van jou regte as ‘n skrywer: http://www.rightsofwriters.com/2010/12/can-i-mention-brand-name-products-in-my.html).

Soos in baie boeke is haar karakters op ware mense gebaseer, maar hulle kom outentiek oor. Hul sinskonstruksies, hul grappies, hul maniertjies, alles voel eg. Dit is nie ‘n klomp mini-me’s van Loots self nie. Dalk is hulle selfs stereotipes, maar Loots het elkeen haarfyn voltooi tot volle karakters.

‘n Derde belangrike punt is dat die boek aktueel is. Die sosiale en politieke kommentaar, die verhoudings, die aannames oor seksualiteit en geloof en dit wat sedelik is versus dit wat heidens is, is eintlik nog deel van ons gesprek in Suid-Afrika. Selfs die vrae oor rassisme – “Is jy ‘n rassis?” is nog deel van ons gesprekke. As mens dink aan Nico Koopman, visekanselier van die US, se antwoord op Cape Talk Radio van 26 Augustus in verband met die Luister YouTube kwessie, dan moet ons met hom en met Debbie Loots saamstem: rassisme in ons land in die geheel is nog ‘n vraagstuk, en soos die US-rektor, Wim de Villiers, byvoeg: “Transformation is an incomplete but ongoing, steadfast issue.” Al word daar net van een universiteit gepraat, is dit waar vir ons ganse land.

Vierdens wend Loots dialoog en interaksies tussen karakters slim aan. Sy is duidelik ‘n kenner van menslike gedrag. Van haar tegnieke is gegrond in die sielkunde van die behaviorisme. Kyk byvoorbeeld na hierdie paragraaf op bl 96:

“Is jy bly Hendrik kom kuier?” Haar ma kyk ver oor die tuin uit na iets anderkant die heining. Vera staan op die rooigepoleerde stoepie. Sy probeer sien wat haar ma sien, maar daar is net nog ‘n mynhuis oorkant die straat, een wat nes hulle s’n lyk.

Daarna volg ‘n beskrywing van mynhuise. Loots ken haar hedendaagse lesers. Ons is haastig en ongeduldig. Ons stel nie “sommer” in hierdie tipe beskrywende besonderhede belang nie. Ons stel belang omdat ons ook wil sien wat Vera se ma sien!

Te dikwels verwag skrywers dat die leser ‘n toneel moet bestudeer omdat dit mos leestradisie is, omdat ons op skool geleer het van die literatuur en toneelskep en omdat ons dit moet bestudeer om konteks te verstaan, of dalk simboliek, of metafore, en om afleidings te maak oor die karakters en die drama. Maar Loots is slimmer. Sy spits jou aandag op die toneel omdat jy tog ook so graag wil sien wat die karakter dan so kyk. Amper soos mense by die toneel van ‘n ongeluk. Sodra daar na ‘n ding gekyk word, wil ons almal mos ook loer.

Haar skrywersvernuf kan ook raakgelees word in haar bondige uiteensetting van feite. Die Engelse sou sê punchy. Mens moet wonder of haar werk by tydskrifte (Visi) haar geleer het hoe. In een paragraaf sal sy ‘n huisgesin se gewoontes en woning slim opsom, soos in die voorbeeld op bl 153 waarin die oupa en ouma opgesom word.

Maar werk die boek as roman? Debbie se manier van drama skep is intelligent. Sonder om te traai. Die karakters struwel met algemene, alledaagse goed, soos: Hoekom moet ek vanaand kos maak in stede van my vrou? Hoekom is daar nie bier in die yskas nie? Wie gaan vir Ma bad noudat sy nie meer kan nie? ... en so meer. Krapperige goed wat ons almal weet eintlik maar, in die groter prentjie, onbenullig is, tog struikel ons elkeen daagliks oor sulke alledaagse besluite. Dit is mos so belangrik, dié onderonsies, wat op die ou end ophoop en lei tot verskriklik groot en onherroeplike veranderinge in die gang van die lewe: egskeiding, dood, vriende, vyande. Die feit dat die storie oor ‘n gebroke familie gaan en dat gesprekke tussen familielede ontstaan, lei ook tot talle tonele waarin mense van mekaar praat of skinder. Die manier waarop Loots dit bewerkstellig, wat mense van mekaar te sê het, is dramaties eg en natuurlik, ook bondig en sappig. Sodra jy voel die storie gaan begin vervelig raak, vang sy jou weer met ‘n verrassing of skokkende beelde, soos van die tortelduifie op bl 301.

Hoofstuk 1 is ‘n wenner. Daar besef mens al klaar die boek gaan werk. Vera se lot en die ironie van haar planne is goed uitgespel. En al is dit ‘n gewone storie van ‘n vrou wat te jonk trou, het Vera ‘n tipe edelheid oftewel suiwerheid wat mens boei. Die suiwerheid kom dalk uit Loots se taalgebruik te voorskyn: die ritme van haar sinne is lekker, die woordkeuse heerlik: “Die gevoel dat hy iets van haar probeer steel het.”

Maar Loots gooi nog ‘n laag oor die eenvoud van haar styl. Elke hoofstuk skop met ‘n definisie af. Loots het besluit op die Engelse titel Split, en soortgelyke woorde (volgens die etimologie) word gedefinieer en aangebied as tema vir elke hoofstuk. (Dit sorg vir genotvolle terugblaai.) Met ander woorde, Loots het op ‘n slim manier haar teikenmark aangedui: dit is ‘n boek vir belese mense, mense wat hou van intellektuele prikkels, wat oor die samelewing nadink, wat oor verhoudings en kwessies van seksualiteit nadink, wat hoop om intelligente afleidings te maak. Sonder dat dit ooglopend aangedui word, is die feministiese boodskap orals ingeweef. Om op ‘n man verlief te raak word geskets as ‘n tipe “flop”, ‘n deel van die lewenspad waarop die vrou nog steeds hoop moet probeer vind. Die storie word oorgedra uit die oogpunt van twee vroue en twee mans (Vera, haar dogter Lien, Willem, en Hendrik). Alice Bach verwys in haar boek Women, seduction and betrayal in Biblical narrative na ‘n definisie van die patriargie (wat ook tel vir die matriargie): dat dit gegrond is in strukture en dialoog wat vryheid van reaksie wegneem. As iemand nie ‘n kans kry om sy kant van die saak te stel nie, ontstaan ‘n magspel. Hierdie definisie sluit allerhande gedrag in, byvoorbeeld: om iemand dood te praat, passiewe-aggressiewe gedrag, boelietaktiek, egotisme, en so meer. Dit is ‘n baie breë definisie, maar ‘n nuttige een. Loots gee die mans in haar verhaal ‘n kans om reaksie te lewer, hul eie kant van die saak te stel, en so spring die skrywer self die magspel vry.

Die vertelling uit die oogpunt van die dogtertjie, Lien, is belangrik, omdat die stem van die tienermeisie en jong vrou erken word: Lien is hedendaags, raak self met haar UFO-neigings ‘n simbool vir die vrou van die toekoms. Tog is al gewaarborgde troos vir die vroue in die verskillende huise van hierdie boek (want daar word baie rondgetrek) die waarborg van ‘n lekker koppie tee!

Orals is fyn en soms snaakse kommentaar oor die patriargie oftewel oor ‘n stelsel wat ons daai jare in Suid-Afrika geken het en dalk nog ken. Wie in die samelewing word belangrik geag en wie nie? Wie kry status en wie kry respek en hoe word dit bewerkstellig en wanneer is dit ‘n gegewe? (Byvoorbeeld die oupa wat oortyd moet werk sodat die dominee se nuwe betonmuur teen Sondag kan klaarkom – bl 157.)

Hoe doen mens dit sonder om aanstoot te gee? Loots kry dit met humor reg – scenario-based humour. Op bl 61 moes ek hardop lag, en toe telkemaal daarna. Mens voel heeltyd dat die leser genooi word om saam te praat of saam te besin, al is van die sinne skokkend en die tonele opsetlik speels-uitdagend. Die lokvalle wat sy vir haar karakters stel, soos wat alle skrywers moet doen, is meesterlik. As leser lag jy uit verligting, soms omdat jy iets in jouself raaksien, of soms bloot omdat die mensdom so vol oordeel is. Life has its funny moments.

Soms is Loots duidelik tong-in-die-kies: die karakter Poppie se naam sê dit klaar. Die tonele tussen Willem en Poppie is voortreflik cheesy. Uit die staanspoor uit weet mens klaar Willem gaan sy moses by Poppie ook teëkom. Hierdie duidelike lokval wat die skrywer vir die karakter stel met die pop van ‘n vrou is van die lekkerste leesstof in die boek. Dit is ‘n stereotipe, vol hoop en mislukking.

Het Loots ons dalk met haar kleurvolle beskrywings ingetrek, met haar rooi kannas en Cutex-naellak en kleurvolle koelerbokse? Debbie Loots is natuurlik ook ‘n kunstenaar (soek gerus op die internet inligting oor haar uitstallings Homesick en Huisvlyt). In haar kuns gaan sy soortgelyk te werk: bont raak boeiend. Retro, kleurvol, misteries, intiem huislik met donker, brutale vrae. Ook humoristies, Suid-Afrikaans tog universeel, en die debat oor man versus vrou wat dit deurvleg. Haar beeldspraak in Split is heerlik. Pruike en fluitjies en ander props gee die tonele ‘n surrealistiese karakter. So vat sy ons weg van die “eish”-faktor of grilfaktor wat mens soms by ander Afrikaanse skrywers kry: die gevoel dat hulle self vasgevang is in die kultuur waarop hul kommentaar lewer. Loots neem die aandag van die emosie en karakter en die kultuur weg na ‘n abstraksie of ‘n beeld wat nader is aan digkuns. So bly sy onpartydig. Al is die boek ‘n kommentaar op Afrikaanse kultuur, staan die skrywer self buite die kultuur.

Oor die huwelik en gebroke families is daar baie interessante brokkies. Gelukkig tree Vera soms “snaaks” op. Dat sy soms figuurlik buite die lyne inkleur, is die draadjie hoop waaraan die karakter hang, en vroue in die algemeen. Die aanvaarding van die mal vrou is ‘n nuwigheid in die samelewing, en op hierdie manier is die boek subtiel toekomsgerig. Die groot romans gaan dikwels oor die huwelik. Dink maar aan Pride and Prejudice. Hoekom trou mense? Status? Gemeenskaplike kulturele agtergrond? Om grond en rykdom te bekom? Of omdat daar “ware liefde” bestaan? En hoe het die konsep van romantiese liefde en erotika hierop ‘n uitwerking? Loots doen nie huweliksberading nie, tog het my gedagtes teruggeflits na ‘n brokkie wat ek onlangs oor die huwelik van die toekoms gelees het: http://www.thebookoflife.org/how-we-end-up-marrying-the-wrong-people.

Maar dalk is dié idee te idealisties of te kreatief. Die romantiese liefde is seker nog lank nie uit die mode nie.

Preutse taalgebruik vir moeders (bl 346) is ‘n goeie aanduiding van hoe instansies ons sosialiseer en onderliggend aan dit alles is die koppeling tussen idealisme, romanse en kuisheid. Loots stel die saak goed vir talle hedendaagse vroue: Hoekom moet ons trou? Hoekom moet ons ‘n metgesel hê om ‘n kind groot te maak? Wie beskou ons as familie?

Split se erotiese tonele is prikkelend, maar die spul draai eintlik om besonderhede. Besonderhede, besonderhede, besonderhede. Unieke besonderhede. (En besonderhede is dalk juis die verskil tussen pornografie en erotika.) Dit is die emosies van die karakters wat so goed beskryf word aan die hand van hul gedetailleerde gewaarwordings (wat hul sien of hoor of voel) wat die skrywer se unieke stem beklemtoon. Die besonderhede van gewaarwordings word baie noukeurig opgeteken, asof ‘n rekenmeester boek hou, maar sonder om indringerig te wees. Die beskrywings van die gedrag van babas, kinders en tieners, en die sienings van die volwassenes teenoor die jonger geslag byvoorbeeld, is fyn en akkuraat oorgedra sonder om onnodige aandag daarop te vestig. Dit is bloot ‘n deel van die drama. Dus, mét erotika of daarsonder, die boek is, soos die Engelse sou sê, alive.

Wat van die lesbiërvraagstuk? Bladsy 41 is vir my een van die teleurstellings in die boek. Dit klink net nie na egte vrae nie, veral as die betrokke karakter se ma openlik daaroor praat. Op daardie bladsy kry ek die gevoel dat Loots die onderwerp op ‘n polities-korrekte manier probeer hanteer. Dalk is daar nie genoeg navorsing oor hoe Suid-Afrikaners destyds oor die onderwerp gepraat het nie? Ek glo net nie dat die karakter dié vrae sou stel nie: “Wat is dit in elk geval?” Daardie frase het vir my meer geklink soos die skrywer wat nie etikette wil toedien nie, asof die skrywer te hard probeer om hierdie onderwerp te open. Wat sou beter gewerk het? Hier sou die karakter heel moontlik al ‘n opinie daaroor gehad het, al is dit ‘n baie simpel opinie, soos dalk hoe lesbiërs lyk of optree – veralgemenings wat gemaak word as mens lui is. Dit voel vir my hier asof die skrywer bietjie rondval met die onderwerp.

Die storie raak aan ‘n reeks vrouebelange.

In hoofstuk 1 kry mens die gevoel dat ‘n grens oorgesteek is en dwarsdeur die boek is Vera se emosies tot ‘n mate afgestomp en bot. Dit stel belangrike vrae oor hoe vroue dikwels moet maak om te “cope”. Daar is gevolge vir die nageslagte, vir Vera se dogter, Lien, vir Vera se seuns ook. Loots lê klem op die ma-dogter-verhoudings. Verdere vrae ontstaan: Hoe word daar oor emosie gepraat tussen ma’s en dogters? En hoe word daar oor seksualiteit gepraat? Vrae wat in die meeste gesinne opduik. Ook die vraag: Hoekom voel familie soms soos mense van ‘n ander tribe?

As mens kyk na ander feministe wat skryf, moet mens die karakter Lien vergelyk met Fransi Phillips se hoofkarakter in Net ‘n lewe. Die punt wat beide Loots en Phillips maak, is dat dit moeilik is vir ‘n vrou wat nog jonk is om ‘n goeie dwarstrekker te wees. Sy moet eers ondervinding opdoen, uitvind hoe die lewe werk, onder andere hoe sy meer realisties te werk moet gaan met die sjarmante man, die charmer, of die engel-man. Loots raak dus aan die onerkende rites of passage vir ‘n vrou. Split bied konserwatiewe sienings, veral die idee dat ‘n vrou wat onbepland swanger raak, ‘n fout gemaak het, asook opinies oor die huwelik: saambly is vir heidene en trou is dus vroom en reg. Dit laat natuurlik verdere kulturele vrae ontstaan: Wie se sienings is dit? Is dit dalk die opinie van die wit middelklas? Hoekom het wit mense nooit gemaklik geraak met die idee van voorkinders nie, en hoekom moet daar ‘n man wees as ‘n ouma die kind kan help grootmaak? Hoe ook al, die boek wys daarop dat die beperkings in die lewe dikwels vir ons gestel word deur ons nearest and dearest, ons ma’s of pa’s, en die patrone word herhaal, miskien bloot omdat diepgaande gesprekke tussen die generasies nie plaasvind nie, maar ook omdat elkeen van ons foute moet maak, verskeie paaie moet wandel, om by ons eie siening van die lewe uit te kom.

Loots werk goed met die idee van impulsiewe gedrag wat die individu se lot bepaal. Tjaaf lei tot trou, dan kinders, dan skei, en daarna kan mens dalk stop, om jouself te ontdek. (Die resep vir the midlife crisis.) Loots dui aan dat kultuur, soos kommersialisme, aan die gang bly omdat dit nooit rus nie. Die boek raak aan kulturele standaarde en verwagtinge wat nog bestaan, idees oor wat die liefde is en wat die perke is vir ‘n vrou in die samelewing in terme van beroep en politieke deelname. Dit gaan dan terug na die oeroue vraag vir die ma in die samelewing: familie of roeping? Hoe bekom mens die een en dan die ander, en hoe balanseer mens die twee? Loots het besef dat om hierdie ernstige vrae goed te beantwoord, mens oneerbiedig daarmee te werk moet gaan. Stereotipes is tog komieklik. Dit is immers nie net Trevor Noah, Riaan Moosa en Nik Rabinowitz wat weet dat ons die lekkerste lag vir dit wat ons intiem ken nie, en intiem daaroor nadink eers wanneer ons lekker lag nie.

Die vrouekwessie het ‘n feministiese ondertoon wat wel krities teenoor albei geslagte is. Loots spring ook die dualiteit van maagd-versus-slet vry. (Ek was amper verlig om agter te kom Vera het nie ‘n beste vriendin nie.) Dalk is hierdie debat dan verby? Of dalk traai ons nie meer so hard om dit te debatteer nie, die ding van die preutse vrou teenoor die losbandige vrou. Hoe het ons daaroor geskryf net na 1994? Vir ‘n voorbeeld kan mens gerus weer Riana Scheepers se Die heidendogters jubel lees. Dit raak ook aan die raskwessie en die vrouekwessie (bedoelende sensualiteit en ontwakende seksualiteit), maar die beskrywings is meer wat ek sou noem die skool van “the feminine divine”, ooglopend in sulke sinne: “Dogters van Sion, weermagvroue van Suid-Afrika, heidendogters sonder skaamte, jubelend onder die storte.” Scheepers het ook eg Suid-Afrikaanse verwysings, na die Spur of na Jeyes Fluid, maar steun op Europese kultuur en mites en verwysings. Die romanse met ‘n “beter standaard”. Loots se boodskap is dat ons nie meer na hierdie ideale hoef te hunker nie. Wat ons het is ideaal.

Loots skets die losbandige vrou meer skertsend, as ‘n tipe etiket wat die samelewing uitdeel vir vroue wat die biblioteek besoek. (Uit die karakter Willem se oogpunt is die siening van hierdie dualiteit tegelykertyd snaaks en hartseer.)

In Loots se styl is die kwessie van ‘n vrou se seksuele drange interessant. Die oorkoepelende boodskap is dat daar oomblikke is wanneer elke vrou lus is om te vry, om wilde dinge te doen, en dan weer oomblikke wanneer sy rem moet aanslaan. Die kwessie word baie meer subtiel geskets, met verskillende veranderlikes vir elk van die vroue in die boek. In teenstelling hiermee hanteer sy die mans in die klassieke dualiteit. Hendrik is kuis. Teenoor Hendrik staan Willem met sy wellus wat sy dryfkrag is en sy alewige gesoek na ‘n nuwe vrou as prikkeling. Dit is baie snaaks, en baie belangrik: ek self dink hierdie aspek maak die boek belangrik as voorgeskrewe boek op skool. Loots beperk die karakterontwikkeling van die mans, terwyl sy haar vroue meer ruimte gee vir verandering – hul seksuele drange gaan altyd hand aan hand met ander drange of belange, al is die karakterontwikkeling soms nie baie diep nie: konflik tussen (vae) loopbaandoelwitte en (vae) biologiese drange; aantrekking tot ‘n man wat tot ‘n (oppervlakkige) politiese ontwaking lei; liefde vir kuns wat ‘n invloed het op die keuse of beoordeling van ‘n metgesel en die (vae) soeke na ‘n lewensdoel. Deur die geslagte raak die vrouekarakters meer aanpasbaar as die mans, meer progressief, en sienings van seksualiteit ontwikkel meer as wat dit vir die manskarakters ontwikkel. Mens kry die gevoel dat Loots vir vroue omgee. Loots kry dit self reg om die storielyn by die belange van die ou vrou in die samelewing te bring.

En dan is daar natuurlik die bekoring van vlieënde voorwerpe. Ek wonder nog steeds of Loots probeer om die Suid-Afrikaanse Lugdiens met die NG Kerk te vergelyk, of is dit bloot my eie waansinnige aanname?

Die boek is vir my ‘n 9 uit 10. Talle mense sal dit geniet bloot vanweë al die retro verwysings: Uniewinkels, gholfbalposbusse, en so meer. Dit is ‘n blaadjie uit die boek van die verlede en ‘n wonderlike opname van die kommersiële en kulturele Ou Suid-Afrika. Tog word die verlede nie sentimenteel benader nie, en dit is goed. Loots laat ons eerder met die tipe lagbui wat haar karakter Lien soms tref, want die boek is eintlik maar ‘n viering van ons vordering as Afrikaners in ‘n landskap van kommersialisme waar die tradisionele gesin (Pappie en Mammie en kinders wat luilekker verkeer in ewige geluk, soms langs die swembad en hul praghuis) nog deur glanstydskrifte en mediese fondse aan ons verkoop word. Ten minste kan studente nie sommer net in ‘n Ku-Klux Clan-uitrusting by ‘n huisdans opdaag bloot omdat hul nie ekstroverte is nie, soos daar in die laat ’80’s op Stellenbosch gebeur het, sonder dat die universiteitsraad ‘n wenkbrou hoog lig en die media hulle uitmekaar uit trek nie. Ten minste praat ons deesdae openlik oor seksualiteit, oor politieke onreg, en oor liefdesverhoudings. En ook oor kombuistafeltjies wat swak ontwerp is.

  • 4

Kommentaar

  • Dis heerlik om hierdie resensie te lees nadat ek die boek gelees het. Nou verklaar dit waarom dit genotvol was.

  • Avatar
    Marie Beukes.

    'n Puik boek ... Randfontein, Pietersburg, Durban. Waar kom jy vandaan? Aan watter plek of dorp het jy blootstelling gehad? 'n Lekkerlees boek ...'n Moetleesboek vir jongmense om hulle aan die dink te sit om hulle hier en nou in te lig oor die lewe ... Die lewe met al sy tragiese fasette. Verrassend dat Ben en Dawid hulle tot die kerk wend. Ook dat Lien op die laaste bladsy koers kry; die boodskap van Hoop ten spyte van omstandighede.

  • Avatar
    TJ Steenekamp

    Ek het dit ontsettend moeilik gevind om hierdeur te worstel. Die boek is vervelend, nikseggend en teleurstellend. Ek sal baie moeilik weer enigiets lees van die outeur...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top