Boekresensie: Ek kom terug deur Adriaan van Dis (vertaal deur Daniel Hugo)

  • 1

Titel: Ek kom terug
Skrywer: Adriaan van Dis
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485307679

In haar profiel oor Adriaan van Dis in die onlangs verskene geskiedenis van die Nederlandse literatuur in Afrikaans getiteld Venster en verbintenis, verwys die literator Karin Ratering Arntz na die “Van Dis-effek” (2019:525). Laasgenoemde verwys na ’n boekprogram waarvan Van Dis vir nege jaar op die VPRO-sender die aanbieder was. Die meeste Suid-Afrikaanse (en veral Afrikaanse) lesers sal Van Dis as vurige anti-apartheidsaktivis onthou wat sonder skroom die apartheidsregime op die internasionale arena kaalvuis getakel het. My eerste kennismaking met Van Dis se literatuur was tydens ’n Desembervakansie aan die Suidkus waar ek ’n kopie van sy reisroman Het beloofde land (1990) gelees het en aanvanklik geskok was oor sy subjektiewe en erg bevooroordeelde siening van Afrikaners. Namate ek my in Van Dis se skryfwerk verdiep het, het ek egter tot die besef gekom dat daar veel meer agter die fenomeen “Van Dis” skuil as wat op die oppervlak sigbaar is. Hier het die leser te make met ’n Nederlandse skrywer wat ‘zeer’ passievol oor die Afrikaanse taal en letterkunde asook die land self is.

Aangesien die onderrig van Nederlands aan Suid-Afrikaanse universiteite sedert die negentigerjare drasties afgeneem het weens kwynende studentegetalle in dié vakgebied, is dit haas onmoontlik om Nederlandse literêre tekste in Suid-Afrikaanse boekwinkels op te spoor. Dit maak dit des te meer bevredigend dat uitgewers soos Protea en Naledi met behulp van finansiële ondersteuning van die Nederlands Letterenfonds ’n groot aantal Nederlandse romans in Afrikaans laat vertaal en publiseer. Danksy vertalers soos Daniel Hugo, Zandra Bezuidenhout en Wium van Zyl kan Afrikaanse lesers (en die paar Neerlandofiele onder ons) hul literêre verwysingsraamwerk verbreed.

Die Nederlandstalige Ik kom terug het in 2014 verskyn en is in 2015 bekroon met die Libris Literatuurprys. Die Afrikaanse vertaling is behendig deur Daniel Hugo behartig. ’n Kort paragraaf wat hierdie boeiende roman die beste opsom, lui soos volg: “Ek sal haar verlos. Verlos van verhale, en as ek dapper genoeg is, sal ek haar verlos van die lewe en haar hand vashou.” Ek het laasgenoemde paragraaf ook as voorbeeld gebruik om Hugo se vertaling met die bronteks te vergelyk: “Ik zal haar verlossen. Verlossen van verhale, en als ik flink ben zal ik haar verlossen van het leven en haar hand vasthouden” (Van Dis, 2014:63). Alhoewel hierdie slegs ’n kort gedeelte van die teks as geheel beslaan, is dit myns insiens knap vertaal.

Van Dis se romans is grotendeels outobiografies van aard. ’n Interessante vergelyking kan tussen Van Dis en die Vlaamse skrywer Tom Lanoye getref word aangesien Lanoye se romans soos in Van Dis se geval talle outobiografiese gegewens bevat. Ek kom terug en Lanoye se Sprakeloos (2009 – in 2011 in Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo) bevat talle raakpunte waarin die protagonis sy moeder tydens haar sterwensproses bystaan. Alhoewel die dood nie ’n grappige onderwerp is nie, slaag beide Van Dis en Lanoye daarin om op humoristiese wyse ’n somber onderwerp by die spreekwoordelike horings te pak.

Ek kom terug vertel die verhaal van ’n moeder en seun se komplekse verhouding wat oor dekades strek. Die verteller se wanfunksionele en stram verhouding met sy moeder bevat talle humoristiese oomblikke wat amper tragikomies daarna uitsien: “Ons staan teenoor mekaar, ek en my ma. Sy aan die een kant van die kis, ek aan die ander kant. Ons ruk aan die handvatsels. Sy het pantoffels aan en ek skoene. Sy gly en ek gryp haar vas. Gewen” (2014:7). Die verhaal fokus op die verteller en sy ma se familiegeskiedenis wat terug dateer na voor die Tweede Wêreldoorlog. Waar die beskrywing van sy huislike omstandighede in Van Dis se novelle Nathan Sid (1983) amper belowend daarna uitsien, word geen heilige koeie in Ek kom terug ontsien nie. Die narratief neem die leser op ’n reis van Nederlands-Indië voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog en gee ’n volledige blik op Van Dis se familiegeskiedenis. Komplekse sosio-politieke temas binne die Nederlandse koloniale geskiedenis word aangespreek. Van Dis se skryfstyl is egter onpretensieus humoristies en die teks as geheel lees soos ’n lekker skinderbrokkie waarin vele familiegeheime ontbloot word sonder dat afbreuk aan die meer enstige historiese komponente van die narratief gemaak word.

Temas soos genadedood wat onlangs in Suid-Afrika opspraak gewek het, word op empatiese wyse deur Van Dis benader. Wat vir sommige lesers ’n weersinwekkende gedagte kan wees, word op humoristiese wyse met die gepaardgaande Nederlandse “direktheid” verwoord. So merk die verteller se ma op: “Jy kry ’n storie, ek ’n pil” (66). Alhoewel die verteller se moeder aanvanklik as ’n ongenaakbare vrou uitgebeeld word, word haar komplekse lewe en persoonlikheid stelselmatig blootgelê – die leser kan hom- of haarself nie keer om simpatie vir hierdie ietwat geharde Nederlandse boerin te voel nie.

Hierdie teks is myns insiens een van Van Dis se beste romans tot op hede. Dit is ’n roman vol aarselende ontboesemings, verraad en liefde wat veel meer as letterlike grense oorskry. Met Ek kom terug kan Afrikaanse lesers óók die sogenaamde “Van Dis-effek” eerstehands ervaar. Dié resensent kan bloot sê: “Goh, wat een leuke roman!”

 

Bronne geraadpleeg

Ratering Arntz, K 2019. Adriaan van Dis (1946-). In: Van Coller, H P (red.). Venster en verbintenis Deel 2: 523-535.

Van Dis, A 2014. Ik kom terug. Atlas Contact: Amsterdam.  

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top