Boekresensie: Boas Mei is verward deur Tinus Horn

  • 1


boasmei250

Boas Mei is verward

Tinus Horn

Penguin SA

ISBN: 9781415207680

 

Tinus Horn is in die bedryf eintlik 'n bietjie meer bekend as ‘n skilder van briljante en gesogte karikatuuragtige portrette as wat hy bekend is as skrywer. Dit lyk asof die skryflus hom slegs sporadies, en dan in sarsies, bydam. Sy eerste twee romans, Droster en die grafiese roman saam met Alastair Findlay, Hemel op Aarde, het kort na mekaar in 1995 en 1996 verskyn. Na ‘n stilte van byna twee dekades volg hy dit op met nog twee vinnige opstoppers na mekaar: die sensasionele histories-gebaseerde vertelling Bomskok (2014) en nou, uiteindelik, ‘n boek wat heeltemal afwyk van sy vorige werke, ‘n absurde fabel genaamd Boas Mei is verward.

Ek hoop regtig nie dat ons nog twee dekades moet wag voordat Tinus Horn weer ‘n roman publiseer nie. Iets sê vir my dat dit dalk nie sal gebeur nie. Iets sê vir my dat hierdie man ‘n spreekwoordelike late bloomer is wat met hierdie nuutste roman die aar raakgeboor het wat hom laat besef het hoe hy eintlik wil skryf, en wat hy wil sê.

Boas Mei is verward dra die stempel van ‘n skrywer wat sy eie stem ontdek het. Met iets wat op die oog af lyk soos ‘n flambojante gemak, pak hy, al skertsend en ligvoets soos ‘n dartelende kapokhaanbokser (en in ‘n skryfstyl wat mens soms laat dink dis alles stream of consciousness) een van die moeilikste en mees komplekse onderwerpe denkbaar aan: geestesiektes, en die skynheiligheid van psigiatrie as beroep.

Die hoofkarakter van die verhaal, Boas Mei, is kennelik verward. Wie sou nie verward wees as hy opgesaal is met so ‘n naam nie, en boonop nie kan onthou waar hy sy bokser-shorts gebêre het nie? Hy word ondersoek deur ‘n span dokters en verpleegsters wat duidelik ewe verward is, en opgesaal is met ewe absurde name (en, in sommige gevalle, selfs nog vreemder onderklere). Soos in Ken Kesey se One flew over the cuckoo’s nest is mens, veral namate die storie vorder, nie seker wie van die karakters die gekste is nie, die mediese personeel of die pasiënt.

As die skrywer hoofstuk 31 begin met die sinne “Niemand is onskuldig nie. Niemand, niemand”, kon hy net sowel gesê het “Niemand is normaal nie. Niemand, niemand.”

Want Boas se obsessiewe geskryf teen mure en spieëls (hy probeer sy lewensverhaal oor-verbeel in driftige leestekenlose prosa met behulp van kokipenne en selfs lipstiffies) is bloot neuroties vergeleke met dokter Kranko se psigopatiese obsessie om teen elke prys die pasiënt se kop oop te sny en dokter Appelman se dubbele lewe as alkoholis, om nie te praat van dokter Mia Amat se terugkerende delusies of Boas se girlfriend Talia se onstabiele denke en irrasionele vrees vir ‘n “dwaalkoeël” nie.

Om fiksie soos hierdie te laat werk, is moeiliker as wat dit lyk. Deborah Steinmair het dit reggekry in Die neus, maar dit plek-plek verloor in die boeke wat daarop gevolg het. Henry Cloete het baie talent hiervoor getoon in Draalnoot vir ‘n janfiskaal. Etienne Leroux het die genre jare lank bedryf, met gemengde sukses. Dit sit nie in enigiemand se broek (bokser-shorts of te not) om ‘n Ionesco te wees nie. Absurde skryfwerk stel eise wat moeilik definieerbaar is en deur geen skryfkursus aangeleer kan word nie. Wanneer ‘n absurde roman slaag – of nie slaag nie – is dit moeilik om te sê presies hoekom – of nie. Waarom is selfs kinders – of verál kinders – nou nog lief vir Lewis Carroll se irrasionele verbeeldingsvlugte?

Selfs absurde skryfwerk moet egter iewers ‘n anker hê in die alledaagse werklikheid, anders sweef dit weg in die lug en word blote enumerasie van woorde en beelde, irrelevant tot ons daaglikse bestaan. As ek enige moontlike swakpunt in hierdie roman kan blootlê, is dat Horn se storie eindelik so absurd word dat dit feitlik alle kontak met die gewone wêreld verloor. “Anker-loos”, noem ‘n ander resensent die werk, en besluit eindelik dat dit ‘n pluspunt is. Ek is nie so seker nie. Ek sou gehou het van ‘n einde wat Boas Mei se dilemma meer spesifiek konnekteer aan die huidige waansin van Suid-Afrika.

Of is dit net ek? Dalk is ek verkeerd. Dalk probeer ek onbewustelik om hierdie verhaal te kontekstualiseer in terme van ander onlangse romans of selfs Horn se eie vroeëre werk (in die besonder Bomskok, wat juis so ontsettend swaar dra aan die kollektiewe skuld en paranoia van blanke Suid-Afrika). Moet alle Suid-Afrikaanse kuns noodwendig sosiale kommentaar wees net omdat ons so ‘n enorme behoefte aan sosiale kommentaar het? Mag ‘n skrywer, selfs in Suid-Afrika, selfs in Afrikaans, homself nie soms toelaat om uit te styg bo die plaaslike malheid om die meer universele malheid van die ganse mensdom te ontgin nie?  

Iets sê vir my ek het dalk iewers iets gemis. Iets sê vir my ek gaan eendag na hierdie teks terugkeer en dit weer lees. En dan gaan ek dalk dinge daarin sien wat nou nog vir my geslote is.

Dis ‘n goeie teken ...  

tinushorn400

Tinus Horn (kunswerk deur Tinus Horn)

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top