Adrenalien die waarheid
Leon van Nierop
NB Uitgewers
ISBN: 9780624073031
Gustaf Prinsloo het naam gemaak met sy debuutroman, Adrenalien. Sy grootste rolmodel is die rillerskrywer Edgar Alan Poe, en soos Poe, het Gustaf ook spoke wat sy kop oorheers. Dit reguleer hom, deurdrenk sy gedagtes en spoor hom aan om te skryf.
In Leon van Nierop se nuutste roman, Adrenalien die waarheid ('n boek wat twintig jaar ná Adrenalien verskyn, as herbesoek van Leon van Nierop aan dié roman ), het Gustaf se pen drooggeloop; sy vrou, wat ook sy muse as skrywer was, het hom gelos. “Hy kan net skryf wanneer iets hom prikkel, of wanneer hy ’n aasvoël is wat afkyk. Anders het hy in sy gemaksone rondgerol, nes ’n oorgewig politikus in die vet van die land wat hy geplunder het.”
Die geleentheid kom wanneer Lothar, ’n filmmaker, vir Gustaf nader om sy roman in ’n rolprent te omskep. Met behulp van ’n wulpse draaiboekskrywer, Astrid, neem hy die verantwoordelikheid om die draaiboek te skryf. Hy word sak en pak gestuur na ’n afgeleë en verlate spa in die bosveld om die draaiboek te skryf en dis op die grondpad op pad na die spa dat hy vir die eerste keer met die geskiedenis en gruwels van die spa te doen kry.
“’n Bobbejaanmannetjie lê op sy rug ... Die bobbejaan spring orent. Die woeste gewig laat die motor skud – die slagtande eensklaps teen sy voorruit. Die geel etter wat uit die wonde peul, maak taai strepe op die windskerm soos die bobbejaan sy maag oor die ruit skuur asof hy hom koggel.”
Die luukse spa is langs die Olifantsrivier geleë. Hier verwyl Gustaf sy dae en werk aan die draaiboek met ’n sinistere teenwoordigheid wat in die gange van die gebou dwaal. Dit beïnvloed hom. Spoor hom aan om te skryf. “Hoe verder hy skryf, hoe hoër styg sy bloeddruk, hoe meer gekruie raak sy taalgebruik. Hy gebruik selfs vloektaal in die dialoog wat hy nie geweet het hy ken nie en wat soos bloed uit sy duimwond stroom.”
Van Nierop kry dit reg om die grillertema grotendeels te regverdig dwarsdeur die roman en maak gebruik van beeldspraak wat die afskuwelike en die grillerige manifesteer in die leser se geestesoog. “Enkele ligte brand nog in die gang, maar knipoog soos honger katte teen die donker.”
Die vrees word diep in Gustaf ingeboesem as hy agterkom als is nie pluis in die spa nie. Hy raak bekend met die grusame geskiedenis van die plek. Die vrees laat adrenalien deur sy are pomp. “Die adrenalien skiet deur sy liggaam, maak hom gereed vir enigiets. Om gevaar te trotseer, vir ’n bedreiging om van weg te hardloop.”
Gustaf se skryfproses raak dralend soos Psalm 119 wat op ’n begrafnis gesing word en Van Nierop se poging tot die erotiek laat jou in jou vuis lag as hy die woord “plesierpoortjie” vir ’n vroulike skaamdeel gebruik.
Afgesien daarvan sal die hare van die leser rys. En hy sal besef dat dié roman nie net nog ’n eenvoudige storielyn is oor ’n sukkelende skrywer wat ’n bestaan probeer maak nie.
Afgesien van Gustaf is die ander karakters, soos Astrid en Lothar, egter eenvoudig en voorspelbaar, en die hoofstorie draai rondom Gustaf en sy geeste, maar die leser sal teen die einde van die storie besef dat die waarheid baie dieper skuil as wat daar voorgegee word, en sy medehelper, Astrid, wéét wat die waarheid is.
“Die waarheid. Net met die waarheid kan hy vry kom. Dan kan hy die res van die monsters in sy onderbewussyn aandurf. Hulle dryf te lank al daar rond, moeg om in die slik op die bodem tussen die paddavisse rond te ploeter.”


Kommentaar
Is dit 'n opsomming van die hele boek?
Kry mens nog die oorspronklike weergawe van die boek?