Boekebrief-kompetisie: Duiwelskloof deur André P Brink I

  • 0

Ek bespreek een van André P Brink se boeke, omdat ek dink hy is een van die beste Suid-Afrikaanse skrywers wat my ure se genot verskaf.

Die verhaal van Duiwelskoof – wat reeds met die titel ’n aanduiding gee dat mens met iets onheiligs te doene kry, kry gestalte deur die oë van ’n nege-en-vyftigjarige joernalis wat ’n “scoop” dringend nodig het om sy mislukte lewe nuwe betekenis te gee. As misdaadverslaggewer het hy al die slegte kant van die lewe gesien en het die “sogenaamde” vryheid-van-spraak-vir-die-pers sy ambisie om ’n uitsonderlike verslaggewer te wees met tyd geblus. Vir Flip Lochner is vloek soos asemhaal, dit kom vanself en is deel van homself. Sy liefde vir whiskey en sigarette het sy merk gemaak, sy gesin het hom verstoot omdat hy die nikswerd geword het waarvoor hulle hom gedurig uitgekryt het. Totdat die geluk by die ongeluk hom tref.

By die seminaar waarna hy so opgesien het, ontmoet hy ’n boorling van Duiwelskloof, ’n ene Klein-Lukas Lermiet. Dertig jaar tevore het Flip navorsing begin doen oor die geheimsinnige Duiwelskloof waaroor bitter min in die argiewe beskikbaar was, hy het dit laat vaar omdat hy ander belange gehad het wat sy aandag vereis het. Nou kom die nerd oor sy pad en vertel hom hoe Duiwelskloof tot stand gekom het. ’n Hele paar whiskeys en ’n bottel sjerrie verder, raak Klein-Lukas se tong losser as wat dit moet en lap hy sommer ’n klomp stories uit, ’n paar dae later is hy dood.

Flip besluit om die plek te gaan soek en die onopgeskryfde geskiedenis te gaan neerpen, en ook Klein-Lukas se as vir die familie te gaan gee.

Hy kry baie meer as waarop hy gereken het, die Lermieters van Duiwelskloof is ’n klomp eksentrieke wispelturige mense. Uniek in hul wandel en weë, hul ongeskrewe wette, bygelowe en geloof.

Die eerste wat hy raakloop is die uitgerafelde spook van Lukas Lermiet (Siener), stamvader van Duiwelskloof, wat na onmoontlike teenspoed een honderd en vyftig jaar gelede, nie verder kon trek nie. Agt geslagte later kruip hul steeds soos hermiete in die onherbergsame kloof weg vir die beskawing. Die ontslape karakters van Lukas Nimrod “geweldige jagter”, Lukas Hemelvaart wat met behulp van die kinders al die voëls in die vallei gevang, hulle voor ’n waentjie ingespan en weggevlieg het oor die berge. Lukas Breker, ’n “gedugte man” (219) se naam is teen die Boesmanskrans uitgekap oor die heldedaad wat hy verrig het. Lukas Hangbal wie se vrou ’n knoop in sy balsak gemaak het. Lukas Duiwel was die befoeterdste van die Lermieters en het ’n konnotasie met bokpote. Lukas Dood, die “Rigter” beklee verskeie ampte soos skoolmeester, begrafnisondernemer en middelaar. Hy lewe nog en is die vader van Klein-Lukas, die nerd wat gaan studeer het en Flip Lochner van Duiwelskoof vertel het.

Vervolg ...

Esmé von Reiche

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top