Daar is boeke wat die lewe die moeite werd maak. Hulle is van so ’n aard dat as ’n mens hulle in ’n boekwinkel sien, daar eintlik geen moontlikheid is dat jy sonder hulle daaruit sal stap nie. Vir my is Ronald Green se Nothing matters (Winchester: Iff Books, 2011, 279p) so ’n boek. Die newetitel op die omslag is: "A book about nothing. "Ek het voorheen oor die (skyn)begrip "niks" geskryf (SêNet, 9.02.2010). Dit is onverstaanbaarder as ’n moeilike begrip soos "oneindigheid" ("infinity", p 225-228) in tyd (dus "ewigheid") en ruimte. Dit is nie noodwendig (selfs beslis nie) ’n begrip nie, want sodra jy "niks"’n begrip noem, word dit iets, terwyl dit wesenlik nie-iets, naamlik niks, is. Daardie "wesenlik" is ook misplaas, want "niks"het nie ’n kern of enige ander eienskap en in die absolute sin selfs nie ’n konteks nie.
Green het nagraads in die wysbegeerte en linguistiek studeer en skryf duidelik en onderhoudend oor hierdie duistere onderwerp. Die teks het oor jare ontstaan en dit is ’n kompliment vir die outeur dat hy nie gek geword het of sodanige toestand by sy lesers veroorsaak nie. Die rede hiervoor is dat hy nie uitsluitlik oor "niks" in die absolute sin skryf nie, maar meesal oor niks in ’n beperkte sin, naamlik as ’n afwesigheid of gemis, wat ’n bepaalde konteks het. Hy verskaf ’n bruikbare lys van geraadpleegde werke, maar dit is teleurstellend dat hy nie David Benator se Better never to have been (SêNet, 3.11.2010) gelees het nie.
Ter verheldering van niks is woordeboeke van weinig nut (p 59-60). In die HAT staan daar bv: "niks - nie iets nie" en "bokkerol - absoluut niks". "Because of the difficulty in defining nothing, it is also impossible to classify it ... For nothing to be a noun it would have to be something, while their definition is that it isn’t something or anything" (p 61). Dit herinner aan Alice in Wonderland: "It Nobody had passed the messenger on the road, Nobody should have arrived first" (p 60).
Die outeur maak ’n deurslaggewende onderskeid: "There is a big difference between nothing that is the absence of something, and nothing that is the absence of everything" (p 32; ook p 58, 132). Oor eersgenoemde (niks in ’n beperkte sin) kan ons sinvol besin, bv oor iemand wat dood is. In die werklikheid, dus in ’n bepaalde konteks, dink ons oor die dooie. Maar in die absolute sin van niks, dus uit die perspektief van die dooie, kan ons nie eens met besinning begin nie, want die dooie is nie en daar is geen perspektief, konteks of enigiets anders nie. "Absence may make the heart grow fonder, but nothing is more inclined to drive us crazy" (p 33).
Die teks is vindingryk in vier verdeel. Die eerste deel handel oor "Nothing as zero". Wiskundig is nul ’n baie nodige syfer wat as ’n alleenstaande 0 die getal niks (eintlik none,’n afwesigheid, bv geen appels) aandui maar saam met die syfer 1 die getal tien (10) beteken. In hierdie Hindoe-Arabiese notasie is die plek van ’n syfer in ’n getal van deurslaggewende belang. Maar die Christelike Kerk was eeue lank teen nul gekant omdat gemeen is dat daar nooit niks was nie. "Nothing would mean a situation where there is no God" (p 53). "The very concept of nothing was heresy ... zero was born in sin. It was the origin of the word, the Arabic ’sifr’ ... because it meant ’a void’" (p 12).
Nul is van 200 vC af in die Ooste as ’n plekaanduider gebruik en met ’n punt (.) gesimboliseer. Mettertyd het sy simbool ’n sirkel geword. Die Kerk het aanvanklik Romeinse syfers verkies, wat nie ’n nul het nie. Die Medici-familie het drie pouse opgelewer en die Kerk was ’n kliënt van die Medici Bank. "The Medici Bank ... didn’t use zeros until the sixteenth century" (p 41). "If we thought that understanding zero, we would understand nothing we were sadly mistaken. While there is so much we can do with zero, we can do nothing with nothing"(p 63). Green wys op die interessante feit dat daar nie ’n jaar 0 tussen 1vC en 1nC was nie.
Deel twee van die teks handel oor "Nothing in the arts". Dit is makliker terrein omdat die bespreking in die konteks van die werklikheid is. "What makes nothing graspable - literally and figuratively - is having it wedged between somethings: comparing it to before and after. By giving nothing borders, it becomes something" (p 74). Green verwys bv na die Mona Lisa, die beroemde skildery van Leonardo da Vinci, wat in 1911 uit die museum Louvre in Parys gesteel is. Skielik het meer mense kom kyk na die leë ruimte waar die skildery was as toe die skildery nog op sy plek was. Hulle het gesien dat daar niks (geen skildery) was omdat hulle sy afwesigheid in daardie konteks kon waarneem.
Green noem die rol wat niks in die vorm van stilte en ’n gebrek aan handeling ("nothing happens twice", p 76) in die verhoogwerk van Samuel Beckett en Harold Pinter (SêNet, 22.12.2011) speel. Ook hoe al hoe minder woorde ("the unword", p 75) deur Beckett ("Silence is so accurate", p 122) en Ludwig Wittgenstein gebruik word. "Every word is like an unnecessary stain on silence and nothingness" (p 76). Die absurditeit van die werklikheid dryf sommige kunstenaars tot minimalisme. "If only they knew how, [they] would produce nothing"(p 77). Maar "the moment an artist begins a representation of nothing, something is being created" (p 126).
Ek het voorheen oor stilte geskryf (SêNet, 8 en 9.04.2010) en oor John Cage se klanklose komposisie 4’33" (SêNet, 23.05.2011). Cage: "I have nothing to say and I am saying it", p 90). Mike Batt het hierna A Minute’s Silence gekomponeer. Hy beskou dit "a much better silence piece. I have been able to say in one minute what Cage could only say in four minutes and 33 seconds ... My silence is original silence, not a quotation from his silence" (p 136). Ek het ook al na Adolph Reinhardt se swart skilderye verwys (SêNet, 23.05.2011). Reinhardt: "An artist-as-artist has always nothing to say, and he must say this over and over again" (p 107). Dan is daar Gustave Flaubert (SêNet, 8.12.2010 en 16.02.2011) wat ’n boek oor niks wou skryf: "un livre sur rien" (p 77).
Yves Klein se uitstalling in Parys in 1958, The Void, het uit ’n heeltemal leë galery bestaan. Die uitnodiging na die uitstalling "showed more art than what was in the gallery" (p 88). Robert Barry het in 1969 in Amsterdam met sy Closed Gallery gevolg. Op die deur was ’n kennisgewing: "For the exhibition the gallery will be closed" (p 93). Karin Sanders se Showing het in 2006 net die etikette van skilderye uitgestal. Die skilderye self het ontbreek maar dit was moontlik om na klankopnames oor die skilderye te luister. In 2009 het Michael Landy in Londen se Oxfordstraat sy Break Down gedemonstreer: "He threw everything he had ever created and, in fact, all his wordly possessions into his ’art bin’, while shoppers watched him do exactly the opposite of what they had come to Oxford Street to do - acquire things" (p 94).
Afdeling drie handel oor "Believing in nothing." Die skepping of oerknal kon nie met niks begin het nie. Niks in die absolute sin kan nie voortbestaan as, of ontwikkel in, iets anders nie. Parmenides (504-456 vC): "Something ... can only come from something, not from nothing" (p 165).Die oerknal kan ’n sikliese verskynsel wees (SêNet, 5.03.2010). Twee (religieuse) benaderings word gekontrasteer: "The Eastern approach: a diminishing from something towards eventual emptiness and nothingness, versus the Western approach: adding from nothing towards eventual fullness and something" (p 190). "Religions ... have one thing in common: they do not accept that at the end of life there is nothing" (p 197). "All religions and beliefs treat death as a continuation of life ... It is a complete inability to accept the existence of nothing" (p 205). Diogenes (4de eeu vC): "The ultimate mystery is not why we are here but what it means to not be here" (p 216).
Die tema van die laaste afdeling is "Thinking about nothing". Niks in die absolute sin kan gekontrasteer word met alles en eintlik met enigiets: "Anything makes nothing something" (p 219). Iets het moontlikhede, terwyl daar in die geval van niks net "non-possibilities" (p 223) en "non-characteristics" (p 231) is. Niks is nie en kan dus nie beskryf, verstaan of begryp en ook nie verbeel word nie. "The one thing that makes nothing something is us" (p 229). "Deducting ourselves would create an imponderable" (p 227). "We cannot solve anything about nothing, because it can exist only when we aren’t around" (p 235). "Nothing is what everything isn’t" (p xii).
Wetenskaplikes beweer dat mense uit chemiese elemente saamgestel is en dat materie en energie nie vernietig kan word nie. Ons ervaring dui daarop dat die ek (die self of indiwidu) net ’n beperkte tyd lewe, dus die werklikheid eenmalig as ’n bewuste en in ’n mate intelligente wese ervaar. Die ek as ek was voorheen nie, was niks, het tydens sy lewe eksistensieel iets geword, maar sal sterf en die ek is dan weer niks. In die absolute sin is dit uiteraard onmoontlik om niks te verstaan, maar daardie niks is ons almal se voorland.
Johannes Comestor


Kommentaar
Dankie Johannes. 'n Wonderlike beskouing wat jy met ons deel. 'n Bewuste en in 'n mate intelligente wese is inderdaad niks totdat ons Almagtige Lewende Skepper self asem daarin blaas.