Boekbekendstelling: Die SAW in die Grensoorlog 1966–1989

  • 3

Die bekende joernalis en historikus Leopold Scholtz wou ’n “klomp misverstande” oor die Grensoorlog in sy nuwe boek uit die weg ruim.

Die SAW in die Grensoorlog 1966–1989 is in boekwinkels landswyd beskikbaar.

Die beperkte vloei van inligting tydens die oorlog het wanpersepsies rondom Suid-Afrika se betrokkenheid in Angola laat ontstaan, meen Scholtz. Hy het Saterdagoggend by Protea Boekwinkel in Stellenbosch oor dié boek gesels.

“Dit het te dikwels gebeur dat van ons manne van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) op die Waterkloof-lugmagbasis op 'n vliegtuig gelaai is. As hulle weer hul oë uitvee, dan sit hulle skielik in Angola en dan weet hulle nie regtig eers wat hulle daar moet maak nie. Die offisiere het soms nagelaat om belangrike inligting aan die soldate oor te dra. Hulle het net eenvoudig gesê: ‘Jy is 'n troep, jou bliksem. Jy sal doen wat ek vir jou sê, anders bliksem ek jou.’”

Scholtz se nuwe boek bied 'n omvattende oorsig van die konflik tussen Suid-Afrika, Angola, Kuba en Swapo (South West African People’s Organisation) van Namibië. Dit bevat ook dokumente wat sedert die einde van die oorlog gedeklassifiseer is. Sy navorsing het verskeie onderhoude met oudoffisiere en oudsoldate ingesluit.

Hy meen Suid-Afrikaners het geweldig baie vir dié oorlog opgeoffer. “Ek het nou die aand 'n man ontmoet wat in die oorlog geveg het. Sy hele peloton is deur Swapo uitmekaargeskiet en hy is die enigste oorlewende. Hy het net een oog en daar is 'n gat in sy kop. Hy het my vertel hy moes jare lank sielkundige berading ontvang.”

Dié tipe opofferings moet onthou word. “Dit is so belangrik om die name van die mense aan ons kant en aan Swapo se kant te vereer. Hulle het almal iets vir vrede opgeoffer en hulle name moet onthou word,” het Scholtz gesê.

Die Grensoorlog was egter nie sinloos nie. “Die doel van die oorlog was 'n beter vrede. Jy moet 'n vrede kry waarmee almal kan saamleef. Anders kry jy 'n situasie soos na die Eerste Wêreldoorlog en die Verdrag van Versailles. Die Geallieerdes het gewen en die Duitsers is verneder en tóé kom die Tweede Wêreldoorlog.”

Volgens Scholtz het die oudminister van buitelandse sake, Pik Botha, ‘n rol in die vredesonderhandelinge tussen Suid-Afrika en Kuba gespeel. “Hy het met die idee gekom om 'n situasie te skep waar al die partye as oorwinnaars kan uitstap. Die Kubane wou huis toe gaan en sê hulle het die Boere uit Angola geskop. Ons wou natuurlik ook huis toe kom en sê ons het die Kubane uit Angola gejaag. Dit is toe waarop daar besluit is en dit was die beste denkbare oplossing.”

Dit is nie sy rol as geskiedkundige om te bepaal wie in die oorlog reg of verkeerd was nie, het Scholtz beklemtoon. “Dit is my moeilike taak as historikus om op die harde bankie te gaan sit. Ek moet op die spore terug gaan en gaan kyk waar was die sleutelpunte en waar was die vurke in die pad.”

Hy is bewus daarvan dat hy nie altyd ten volle objektief kan wees nie. “Ek kan net na objektiwiteit streef. Ek kom uit 'n konserwatiewe Afrikanergesin. Ons het geglo in die Here en ons het geglo in die Nasionale Party. Ek dink ons glo nog steeds in die Here, maar nie meer in die Nasionale Party nie. Daardie dinge het ons agtergelaat. Ek het geen begeerte om die Nasionale Party te verdedig nie en ek het ook geen begeerte om die meesternarratief van Fidel Castro onkrities te bespreek nie.”
Verskeie bekende historici, insluitende Hermann Giliomee, het die boekbespreking bygewoon.

Albert Grundling, hoof van die Universiteit Stellenbosch se geskiedenisdepartement, is beïndruk met Scholtz se navorsing oor dié onderwerp. “Dit is 'n gesaghebbende bron waarna historici in die toekoms weer en weer sal terugverwys.” Hy meen egter daar is plek vir nog verdere navorsing in dié veld. “Ek dink die volgende navorsing wat oor die oorlog gedoen moet word, moet vanuit die gewone soldaat se perspektief geskryf word.”

Anton Ehlers, dosent aan dieselfde geskiedenisdepartement, meen navorsing oor die Grensoorlog is nou baie gewild onder historici. “Dit lyk my die Grensoorlog is die flavour of the month. Ons het baie studente wat daaroor navorsing doen. Dit het 'n generasie oorgeslaan. Die kinders het baie van die oorlog van hul ouers gehoor wat diensplig gedoen het en nou wil hulle verder ondersoek instel.”

** Die SAW in die Grensoorlog 1966–1989 is teen R350 te koop. Die boek is ook in Engels as The SADF in the Border War 1966–1989 beskikbaar. Beide boeke word deur NB Uitgewers uitgegee.

** Leopold Scholtz is 'n historikus, gerekende joernalis en militêre kenner. Hy was die voormalige adjunkredakteur van Die Burger en is tans Europese korrespondent vir Media24 se Afrikaanse koerante.

Hierdie bydrae vorm deel van samewerking tussen LitNet en Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek gedurende 2013.

  • 3

Kommentaar

  • Sal graag meer wil hoor vasn die persoon wat al oorlewende was van 'n peloton wat deur SWAPO uitgewis was. Waar en wanneer het hierdie slagting plaasgevind?

  • Dis die heel eerste keer wat ek daarvan hoor of dat dit ter spreke kom. Sal ook baie graag wil weet waar en wanneer dit gebeur het. 'n Peloton is ten minste 10 man so hulle hulle moes 9 manne gelyk doodgeskiet het?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top