
Foto: Canva
Bloubergstrand
Aandskemer,
die son drup goud in die oseaan
as ’n eensaam branderplankryer
probeer om die laaste adrenalien
uit die rimpeling van die see te kry
die wind skep fyn korreltjies sand
klits dit teen my bene;
ek loop op harde nat strand
my voetspore tussen meeue se spoor
deurmekaar hare wapperend in die wind
beur ek vorentoe my tog geswind
die branders bruis in my ore
meeue sweef en land op rotse
nat van seeskuim soos golwe breek
en terugtrek na die oseaan;
die lug verdonker tot ’n middernagblou
net ’n oranje streep nog op die horison
sandkorrels piets sterker teen skeen
en soos die see verswart tot ink
begin my voetspore wegkwyn
in die maan se dynserige skyn


Kommentaar
So mooi geskryf.