Blou kombuis
Ek dink aan Koos se Blou Kombuis
En ons huisie by die see
En ek dink aan Ralph se Hillbrow
En ons kind se eerste tree
En in my siel is woorde
Ongesproke melodieë
Van hartseer pyn verlange
En onbeperkte gee
En ek hoor hoe klink Laurika
En haar huisie by die see
En in my kop eggo Amanda,
Die kind wat stemloos skree
Iewers daar is Antjie ook
En sy sê sy is ’n vrou
En saam haar wil ek op die rotse staan
Trots vere van ’n pou
My borste na die hemel slaan
Jou liefde in my hou
Jou uitskree soos ’n hartseer lied
Jou sing soos ’n gebed
Opvou soos ’n liefdesbrief
Begrawe soos ’n skat
Ewig aan my vasgebind
Die sleutel van my slot
Die ridder van my drome
Die prins van my paleis
Die lewe in my are
Die blos op my gesig
Die sidder in my dye
Die leed in my bestaan
Die blouste blou in my kombuis
Die huisie by die see
Die sein in Ralph se toring
Die rede vir my gee
![]() |



