Blou, bergblou Suid-Afrika

  • 0

Die mens wat nog nie bo-op ’n berg gestaan het nie het nog nie werklik gelewe nie. Dit glo ek vas. En die mens wat nie redelik gereeld in, op en by berge kom nie verval maklik in die selfvoldane en misplaaste oortuiging waarmee so baie mense verlief neem dat die wêreld deur mense vir mense gemaak is.

Maar gaan beklouter selfs net ’n koppie of tafelbergie in die Vrystaat of die Karoo en jy vind gou dat dié ervaring indringende vrae oor ons menslike sterkte en die belangrikheid van ons lewensplanne stel. Kortom, berge bewerkstellig ’n soort nederigheid in ons.

Vra maar vir enige voetslaner (bergklimmers is buitendien reeds bekeer!) oor waar hy of sy die graagste gaan stap. Die antwoord sal gewoonlik met bergwêreld te doen hê. Daar is dié stappers wat kla oor die óp en diegene wat kla oor die áf, maar as hulle die sommetjie gedoen het, is dit die berge wat hulle lok.

Berge gee huisvesting aan ’n planterykdom wat jy nie sommer elders kry nie. Dit word deur mikro- en makro-klimaatsones geskep wat onder meer bepaal word deur water. Wys vir my ’n berg wat nie aan ’n waterstroompie oorsprong gee nie − selfs ook aan poele, watervalle en fonteine. Ek het al baie gereis en gestap en geklim en geklouter maar nêrens het ek nie die spoor van minstens ’n stroompie gesien nie; van die Namib tot in die Amatolas, van Tafelberg tot die Soutpansberg, van die Heksrivierberge tot die Drakensberg is ek nog nooit teleurgestel nie.

Ek is al letterlik van berge afgereën en het net so letterlik byna aan dors beswyk omdat ek die verkeerde tyd van die jaar gekies het om ’n berg te takel. Ek het al gebid dat ’n berg teen al die natuurwette in moet gelyk word omdat die steilte én die son as kombinasie net een te veel gevoel het, maar nog nooit het ek kon sê dat die berg my teleurgestel of nie op die een of ander manier verras het nie.

Ja, ek was ook in die buiteland en het berge daar ook beleef, maar nie in Europa, Noord-Amerika of die Midde-Ooste kry jy Suid-Afrika se blou berge nie. Ons berge kan in die daglig hoe flets wees as wat jy maar wil, en grou en grys van naby − of groen of bruingroen na gelang van die seisoen − maar latenstyd in die dag word hulle almal blou as jy hulle van selfs net ’n kort afstand betrag. Afrika se lig toor met ons berge. Jy kry sonsondergange waarvan die kleure nog nooit name gekry het nie want dis ’n vermenging van duisendtalle reënboë, maar die een of ander tyd verkry die berge hul blou kleur en jy wéét: jy is in jou hartland.

Vergesel my op ’n kort reis: sowat 20 kilometer wes van Louis Trichardt (Machado) is ’n plaas wat jou toegang tot bo-op die Soutpansberg verleen. Maar dis met dapper en stapper, want voertuie sal nie hier die paal haal nie. Op ’n plato net onder die berg se kruin kan jy tent opslaan skaars tweehonderd meter van regaf kranse af. Hier op die rand van die berg kan jy sit en weswaarts die ongelooflike skouspel gadeslaan: reeks op reeks voue in die berg wat elkeen ’n piek op sy eie vorm en dóér ver eindig die reeks in die piek van die Blouberg.

Hoe gepas is dié naam nie hier nie! Of dit sonop of sononder is, dié bergreeks is blou en elke vou en skouer het sy eie skakering, al is die verskil hoe gering. Maar dat dit elke dag opnuut aangrypend is en jou weer aan jou menslike nietigheid herinner, is gewis. Jy moet werklik ’n geharde sinikus wees om nie hierin die hand van die Skepper te sien nie.

’n Taamlike hupsprong verder in Limpopo is Mariepskop geleë. Hierdie berg is somer en winter gereeld in mis gehul. Die reënwoude hier is van die mooiste in die land en die voëllewe baie volop en interessant. Onderkant die berg strek ’n vlakte tot aan die grens van die Wildtuin. Hiervandaan het jy ’n uitsig op die platorand wat Mpumalanga se lae- en hoëveld skei. Hier kan jy ook die wonderwerk van die penseel van die natuur in tallose skakerings van blou bewonder.

Of neem nóg ’n sprong hiervandaan na Barberton in Mpumalanga. Die dorp lê in ’n hittige kom tussen berge wat soms selfs bedags blou vertoon. As jy hierdie berge aandurf, behoort jy dit eintlik uit respek kaalvoet te doen, want die rotsgesteentes hier is die heel oudste op aarde. Bekyk die rotse maar goed: dis maklik om te glo dat ons planeet se hele geskiedenis op hierdie ruwe rotse te lees is, kon jy maar net die hiërogliewe ontsyfer.

Mense wat oë het maar nie weet hoe om te kyk nie sê hulle vind ’n reis deur die Vrystaat saai … Ek sit hoog teen die hang van die Biddulphsberg naby Senekal en hoewel dit sekerlik nie Tafelberg is nie, het jy ’n wonderlike uitsig van sy plat kruin na die weste toe tot waar die Suringberg se blou keer dat jy verder sien. En daar is nóg koppe en berge hiervandaan te sien. En niks hier is saai nie: nie die verskillende soorte gras nie, of die verskeidenheid bome, die baie soorte voëls óf die kleinwild nie.

Op Philippolis in die Bo-Karoo het ek my hart verloor. Blonde wintergras, karees wat wurg-wurg groei, olienhoute, kraanvoëls en korhane wat hier nog volop is, hase en oorbietjies, springbokke …

Ek staan op wat ek Philippoliskoppie noem en bekyk die vroegaand se kleure op die talle lae blou berge wat van elke sononder van elke dag iets besonder maak, want as dié berg donkerblou lyk, is dáárdie een ligblou, nóg een is bleekblou, dié een is ’n soort blou wat ek nie kan benoem nie — hier waar hemelkoepel en bloubergies hande vat, het ek volslae vrede; dankbaar dat dié skoonheid vir my, ’n spikkel in die kosmos, beskore is.


Die blou van die Soutpansbergreeks − en ja, dit ís proteas … min mense weet dié berg is so hoog dat
fynbos volop hier voorkom.


Die son sit nog hoog maar, reeds vertoon die eskarp tussen Mpumalanga se Lae- en Hoëveld die kenmerkende
blou skynsel wat Suid-Afrika se berge kenmerk. Die foto is van Mariepskop af geneem.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top