Titel: Bloot mens
Outeur: Jelleke Wierenga
Uitgewer: Protea Boekehuis
ISBN: 9781869193119
Publikasiejaar: 2009
Bladsye: 93
Jelleke Wierenga het al as 'n Nuwe Stemme-debutant uitgedraf, en (op haar beste) al vertoon as 'n heel intelligente polemikus op LitNet.
Soos die baie mooi titel van haar debuutbundel toon, is dit verse hierdie wat handel oor die blootgesteldheid: van die mens binne die lewe, van vrou en man teenoor mekaar, van bedreigde kultuur of taal (die Afrikaanse in haar geval), en die mens teenoor die dood.
Maar "bloot" het 'n dubbele betekenis hier - dit gaan ook oor die voor die hand liggende: dit wat bloot is. En dis hierdie fokus wat die digter in heelparty gevalle te ver dryf, sodat dit van die verse geyk laat oorkom. Sulke van haar verse transformeer nie genoegsaam na die poëtiese nie, maar bly vassteek in die bloot beskrywende of die bloot gestelde (twee woorde).
Om bepaalde redes behoort Bloot mens 'n matige tot 'n goeie marksukses te wees, en sulke bundels en digters is nodig. Die redes: dis verse wat oor die algemeen maklik toeganklik is (nie altyd om die beste redes nie); dikwels polemies van aard is en dus 'n verdere kontingent lesers sal trek (wat, soos sy, ongelukkig is oor hoe Suid-Afrika daar uitsien); en dikwels berus op truuks (slimmighede) eerder as wat werklik as poëties beskou kan word (en slimmigheid is wat baie lesers dink poësie is, met baie hier die operatiewe woord).
Oor wat "poëties" is, en of een mens se "poëtiese" dalk 'n ander se gebaarde kat kan wees, sal ek verder aan praat.
Daar is veel hier wat 'n mens laat vermoed dat Wierenga met toenemend goeie verse vorendag kan kom, en sal kom, maar dan sal mens ongelukkig ook enkele hinderlikhede in die huidige digbundel op die naam moet noem.
In 'n neutedop: hierdie resensie is nie bedoel om die waarskynlike leser van die bundel af te sit nie - gaan lees dit gerus. Dit sál jou bevredig.
Maar ek word hier betaal om 'n resepsierol tot die beste van my vermoë te verrig, en daarom sal ek my menings moet waag. Alle kritiese menings is in 'n mate subjektief, maar ook, helaas, in 'n mate "objektief". Beide hierdie twee waardes sal in hierdie resensie aangetref word. En soos dikwels al deur kommentators geïmpliseer, een resensie is nie op sigself resepsie nie. Resepsie lê in die wisselwerking tussen veelvuldige resensies.
'n Bietjie minder as 'n derde van die gedigte in die bundel is vir my min of meer suksesvol in hul geheel, en dis nie onbeduidend nie. (Maar bygesê, dan praat ons van 'n bepaalde orde van poësie, die begrip wat ek verder aan sal bespreek.) Dan is daar grepe in van die oorblywende gedigte wat ook dikwels bekoor met ironiese of wrang humor, 'n geslepe sintaksis, sekure enjambement, 'n vindingryke stelswyse, 'n mooi beskrywing, 'n sterk oorgang of 'n semantiese kontraksie of sprong wat kripties én veelduidig is.
Jelleke Wierenga het wel skryftalent. Ek noem een voorbeeld: "Blou was jou oë/ blokkies blousel/ in die was: /Uit baie van jou bondels/ het hulle vir my die goor gewas."
Of die tweede deel van die tweede strofe in "Die geheim van die geheim" (bl 78).
Die eerste wat die leser opval, is dat dit nie 'n ruimhartige siel is wat hier skryf nie. Dis die opvallendste in die nogal bitsige reeks oor voormalige geliefdes. Die verse is sardonies en dikwels bitter, en waar daar in die bundel wel met empatie gewerk word, is dit gevalle waar die beskrewe objek so te sê deel is van die outeur se identiteit (soos die heengegane suster). Niks van toenadering vermors op "die ander" nie. En nou moet ek erken, een van my voorkeure lê by poësie wat wel laasgenoemde doen, en dit goed regkry. Onmiddellik moet ek dink aan 'n digter soos Wislawa Szymborska, wat beslis nie op haar bek geval is wanneer sy nie hou van iemand nie, maar daar is altyd die onderstroming van empatie of toenadering, waar die digter se kritiese blik weer op sigself inkeer. Toe NP Van Wyk Louw gevra is wat vir hom die belangrikste kenmerk is in 'n digter, was sy antwoord: deernis. John Gardner, die Amerikaanse skrywer en literêre denker, het gepraat van "generosity of spirit".
Is dit waarom dit soms lyk asof ons hier 'n digter het wat nie genoeg in gedagte hou wat 'n ongoddelike gemors apartheid van Suid-Afrika gemaak het nie? 'n Gedig soos "Dislojale verset" laat dit klink asof die ANC die mees disfunksionele regering is wat Suid-Afrika nog gehad het. Nee, apartheid was. Watter regering het geweier om meer as ses miljoen mense behoorlik te regeer uit 'n nasie van 40 miljoen? Klink dit soos dienslewering? Apartheid was óf die nemesis van enige doeltreffendheid óf dit was ‘n besettingsmag, en natuurlik was dit albei. Punt.
Ons soek digters met geheue, nie geheueverlies nie. Want dit is die manier om die status quo die stryd aan te sê.
'n Oorwegend baie goeie vers in die "gewese geliefdes"-reeks is "Epos sonder helde of heldinne" (bl 43). Dit imponeer juis omdat dit die self (wat hier ooreen kom met die sprekende stem) in negatiewe sowel as positiewe terme uitbeeld. Hier is nogal skitterende karakterisering te vinde. Navrant. Dit gaan oor 'n vrou wat lief is vir 'n getroude man wat haar net af en toe (seksueel) wil hê, met die fokus op een so 'n insident. As verhalende vers is dit puik. Dis egter nie sonder enkele dowwe kolle nie, waarvan een, die herhaling van "[gesensor] [geskrap] [geprivatiseer]" opval. Hier moes die digter ander woorde gevind het as sy die idee wou hergebruik; dit kom oor soos 'n grap wat twee keer vertel word.
Nog 'n vers wat wys dat Wierenga kan skryf, is "God, ons almal se pel" (bl 80). Die verwagting word hier netjies omseil en die gedig eindig op 'n heel ander plek. Nog 'n noembare baie goeie vers is "Kantwerk":
Tuinwerk.
In blou kantbroekie.
Son op die land.
En lyf.
Buurman.
Op soldertrap.
Sien.
Wat jy sien.
Hier.
Is ek.
Kant.
En kaal.
My gunsteling in die bundel is die effens retro (in styl) maar baie enigmatiese gedig "Profiel" (bl 23). En gaan lees die uitstekende gedig "Gespook" (bl 73).
Suksesvol, maar "klein". Wat bedoel ek daarmee? Dit was JM Coetzee wat die terme "the high mimetic and the low mimetic" gebruik het. Miskien is dit al elders voor hom gebruik. Maar ek vind dit baie bruikbare terme: die hoër mimetiese en die laer mimetiese in die poësie.
Nie alle gedigte is van dieselfde mimetiese orde nie. Dis een van my kritieke teen die Groot Verseboek (ondanks die sterktes daarvan) dat die samesteller te veel werk met 'n laer mimetiese orde as sy fokus asof dit sinoniem is met "eietyds" of "postmodern".
Mimeties is van Grieks afgelei en beteken "proses van nabootsing": Dit is wat kuns probeer doen. Kuns hou spieëls op voor die ervaring en kaats weergawes terug wat nie sinoniem is met die nagebootste ervaring nie.
'n Gedig wat van 'n hoë mimetiese orde is, is een waar daar 'n groot "verplasing" gebeur tussen die ervaring en die mimetiese weergawe daarvan (die kunswerk). 'n Kunswerk van 'n lae mimetiese orde is een waarin die "verplasing" klein is, sodat die kunswerk en die ervaring waaroor dit handel, amper sinoniem lyk. As die verplasing op meer as een manier gelyktydig gebeur én ook groot is, dan is die mimetiese waarde daarvan nog hoër. Hoe groter die gaping tussen die ervaring/objek en die kunswerk, hoe hoër is die waarde daarvan, hoe groter is die ervaring van transformasie by die leser.
Sekuurheid van verplasing is ook belangrik. Soms is die verplasing nie so groot nie, maar die sekuurheid daarvan verbluffend, soos by Elisabeth Eybers.
Voorbeelde van poësie waarvan die mimetiese verplasing baie klein is, is die meeste voorbeelde van rap, of die aktivistiese of patriotiese snert wat soms - ek sê soms - by Poetry Africa as poësie aan die Suid-Afrikaanse publiek opgedis word. As jy poësie van 'n baie lae mimetiese orde wil lees, gaan loer op hul webtuiste.
Wierenga werk meestal met seggingskrag in haar gedigte, nie soseer transformering nie. Dis beslis moontlik om gedigte te kry wat met seggingskrag werk wat van 'n hoë orde is, maar die meeste dergelike verse is van 'n laer orde, selfs wanneer dit goed is. Dis omdat seggingskrag naby bly beweeg aan die nagebootste objek, dit sê daardie objek meer as wat dit die objek wil transformeer. (Dis natuurlik moontlik om gedigte te kry wat 'n mengsel is van transformering en seggingskrag, soos byvoorbeeld by Antjie Krog.)
Ek sê weer: Hoewel van 'n laer orde, is daar genoeg in Wierenga se werk wat imponeer vir wat dit is.
Ek wil ten slotte 'n paar hinderlikhede uitsonder wat Wierenga se poësie ontsier:
• Die gebruik van selfstandige naamwoorde as werkwoorde is dikwels fasiel (soos om te "piesang" met sy vingers).
• Daar is hope gevalle van fasiele en geykte woordspel teenwoordig ("pikstikswart teen 'n spoed"; "die haatlike haatspraak"; "gegiggelgil", ensovoorts). 'n Voorbeeld waar woordspel wel werk: "My prins my saligmaker,/ jy steek my na die kroon/ en dieper stoot jy my weg" ("Mondwond", bl 37).
• Daar is heelparty voorbeelde van geforseerde sintaksis: "van illusie na illusie/ gesuspendeer/ tot tyd en wyl/ die besem vee/ van stof tot stof." Wat 'n andersins goeie afloop is, word so bederf ("Huis ontuis", bl 72).
• 'n Gedig soos "Dit kan nie wees nie" ontwikkel net nie genoeg nie. Die wending aan die einde lyk veelseggend, maar dit is eintlik nie. "Op pad" (bl 88) is eenvoudig glad nog nie 'n gedig nie en moes nie ingesluit gewees het nie.
• Sommige van Wierenga se momente laat my dink aan die "sosiaal-bewuste" Afrikaanse gedigte van die sewentigerjare: geforseerd, desperaat vir relevansie maar te benepe in fokus en verwysingsveld; te veel soos blote verslaggewing.
In bepaalde opsigte gaan die Afrikaanse poësie gebuk aan 'n armoedige idee van wat vernuwing of oorspronklikheid is, wat dikwels berus op een of ander vertonerige maar niksseggende taaltegniese dansie, en dit kan regstreeks terugherlei kan word na die selfingenome eksperimente van enkele mindere sestigers en sewentigers in die poësie.
Ek herhaal 'n beswaar wat ek op 'n ander geleentheid in Rapport tydens 'n ander resensie gehad het: hier is 'n gebrek aan konsipiëring van 'n eie poëtikale stramien. Dit gee soms aanleiding tot 'n effek van pastiche.
Ondanks hierdie voorbehoude het ons in Wierenga 'n nuwe stem. Sy moet haar sterkste aspekte ontwikkel en laat waai.

