"Blomme teen die mure" deur Ilna Stander

  • 0

Blomme teen die mure

Dis Sondagmôre net na ag
Die eerste Mowbray taxi’s toet
en versnel na die dag se goed …
Kruis nog ’n wegloopkind die straat
met ’n swik en ’n sonneblomlag.

Refrein

Die hele plek is nou traliegehek
Ken jy nog die bure?
Die taxi-toeters skel ’n encore
vir die blomme teen die mure …

Die pankopman met die kruk
hink nader met ’n dag se moed
uit Stasiestraat; rus sy horrelvoet
voor Zair’s Fast Food & Fisheries –
die Halaalkosyn om teen te druk.

Herhaal refrein

Die ’lektric box couple leun skeef;
hul bene nog styf van die dou –
vir brekvis straatstories herkou …
Hul gape is donker gate
Ou losers weet dis fight vir oorleef.

Herhaal refrein

Die ou op high wat mik en stop;
onder sy blad knyp hy sy brood –
met spirits systap hy die dood
digby die Salvation Army …
Hul bord sê die Thrift & Gift Shop.

Herhaal refrein

Kyk maar weer, laat jou hart versag
voor die eerste Mowbray taxi’s toet
en versnel vir die dag se goed …
Dalk kruis ’n wegloopkind die straat
met sy swik en ’n sonneblomlag.

Nuwe refrein:

Al is die plek ook nou traliegehek
Al ken jy nie die bure
Die taxitoeters skel ’n encore (mm … mm)
Die blomme rank al teen die mure.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top