Bloedvreemd deur Juliana Coetzer

  • 1

bloedvreemdcover

Titel: Bloedvreemd
Skrywer: Juliana Coetzer
Uitgewer: Jonathan Ball Uitgewers
ISBN: 9781868426928

Juliana Coetzer se uitstekende boek oor haar en haar familie se stryd om ʼn groteske terugslag te oorleef, is een van die sterkste en mesmeriserende outobiografiese verhale wat sekerlik die afgelope jaar verskyn het. Haar storie is rou soos ʼn oop wond, so eerlik vertel sy dit.

Haar robuuste skryfstyl is vars en onderhoudend, as’t ware ʼn pleister teen die seer. Hou maar vas, want sonder om sensasioneel te wees en in hiperbole te verval, gaan haar teer verhaal jou hard skud.

Jy gaan op ʼn skoppelmaai en rondomtalie van emosies oor elke bladsy bollemakiesie slaan. Tog pak sy die boek aan sonder om in ʼn dik moddermoeras van naargeestigheid, ellende en selfbejammering te verval. Hete, hoe maklik sou dit nie kon gebeur het nie.

Juliana se storie? Haar drie kinders is tjoeftjaf in drie en ʼn half jaar gebore. In ʼn onderhoud met die joernalis Elmari Rautenbach vertel sy dit was om selfsugtige redes: “Ek wou verder studeer. Daar was hierdie perfekte plan vir my en hul toekoms.”

Die lewe was gul vir haar, Fanus haar man, en hul aantreklike en perdfris kinders, Stephan, Juan en Anneke. Hul dae was diksoet heuning, soos ʼn tipiese gelukkige gesin, gevul met die skaterlag van die kroos.

Daar was die uitgelate gekekkel en gekraai rondom die etenstafel, stywe drukkies, en vriendelike vermanings om asseblief nie kattekwaad aan te jaag nie.

Op ʼn dag raak dié hegte familie se sorgelose tye egter duister met gesluierde lug.

Tydens ʼn gesinsvakansie raak Anneke siek – op 24 September 1997, amper 18 jaar gelede, om presies te wees. Die herpesvirus het haar brein binnegedring en die uiteinde was virale enkefalitis, inflammasie van die breinweefsel, wat chroniese en erge epileptiese aanvalle veroorsaak.

Die siekte het verger en ʼn gevaarlike sindroom wat ontstaan het weens die breintrauma, is as Landau-Kleffner-sindroom gediagnoseer, egter eers vier lang jare nadat sy siek geword het, op 11-jarige ouderdom. In Suid-Afrika is Anneke die enigste aangetekende geval. Die aanhoudende epileptiese aanvalle het hulle almal uitgemergel.

Sy skryf: “Ons gun onsself ʼn pizza by ʼn restaurant in Seepunt, veral om normaliteit in die seuns se lewe te behou. Anneke kry ʼn toeval en gly by die bank af, onder die tafel in. Die seuns kyk skaam rond wie almal vir hulle kyk.”

Twee weke daarna: “Anneke neem aan die Eisteddfod deel en kry ʼn uur voor sy haar gedig moet opsê ʼn toeval in die kar op pad soontoe. Sy slaap ʼn bietjie en ontvang steeds hoogste lof vir haar optrede.”

Maar Anneke se toestand verswak met die jare. Sy raak meer hulpeloos, in haarself vasgevang, en die donker skadu wat oor die familie hang, eis ook sy tol. Haar persoonlikheid verander, sy kry onbeteuelde woedeuitbarstings. Sy het geen beheer oor haarself nie. In die openbaar lewer oningeligte en venynige vreemdelinge ongevraagde kritiek op haar gedrag.

Nog is dit het einde niet: “Die grootste probleem is taal. Sy sal toenemend moeiliker verstaan as iemand met haar praat en geleidelik haar woordeskat verloor.”

Die stilte word stomkwaad. Uiteraard verander die dinamika in so ʼn opset – dalk nie oornag nie, maar mettertyd verskuif die pionne op die metaforiese skaakbord, een vir een. Soms tydsaam. Onder die oppervlak verskuif tektoniese plate wat die oppervlak later laat skud.

Die familie probeer alles om haar te help, strompel van geneesheer na geneesheer na nog een en nog een, dit hou net nie op nie. So desperaat raak hulle, hulle gaan selfs na die Church of All Nations aan die buitewyke van daardie warm en bedompige megalopolis, Lagos. Na “Profeet” TB Joshua, ja. Ai, die ellende – hierdie stuk in die boek lees soos iets uit ʼn riller.

Tog versterk elke terugslag vir Juliana en haar gesin, en is die boodskap ʼn universele een waarby baie mense sal aanklank vind. Ons is sterker as wat ons dink, ten spyte van die nagmerrie wanneer omstandighede ons plat slaan.

Ek sien daarna uit om Coetzer se volgende boek te lees, want sy kan skryf.

Ten slotte, een van die vele hoogtepunte is aan die einde van die boek, by die bedankings: “Anneke, vir die spieël wat jy vashou waarin ons almal wat met jou in aanraking kom, moet kyk. Dankie vir die opoffering van jou gesondheid sodat ons ander moes leer om te SIEN.” Sela.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top