Titel: Die portier
Skrywer: Pat Stamatélos
Uitgewer: Kwela Boeke
Formaat: Sagteband
ISBN: 978 0 7957 0281 5
Aantal bladsye: 310
Klik hier om jou kopie van Die portier te bestel by kalahari.net.
Ná haar sukses met die blitsverkoper Kroes (2005) en Die Val van die dice (2007), wat onderskeidelik op die kortlys vir die 2006 Jan Rabie/Rapport-prys en die 2008 ATKV-prosaprys was, kon ’n mens nie anders as om te wonder waarmee Pat Stamatélos volgende vorendag sal kom nie. Die portier, haar jongste roman, verken ’n heel ander ruimte as haar vorige romans en het dié keer ’n gegoede jongman as hoofkarakter.
Die ses-en-twintigjarige Maxermanus ly aan obsessief-kompulsiewe steuring en is by Strubenshof Privaat Hospitaal aangestel as portier. Ná die dood van sy pa, presies sewe jaar na sy ma se afsterwe, het Max neuroties oor vuilheid geword en al meer sy hande begin was. Later kon hy nie meer sit sonder om ’n armleuning af te vee nie, ’n deur sonder ’n sakdoek oopmaak nie, of homself keer om gereeld sy woonstel van hoek tot kant te ontsmet nie.
Hy en sy sielkundige, Otto Sas, het besluit dat ’n werk by Strubenshof-hospitaal die beste terapie vir sy “kopsiekte” sal wees, en dat hy “tussen kranklike en gepynigde mense” genesing sal vind. Op hierdie manier word die arme Max daagliks met sy vrese gekonfronteer, en moet hy leer om ontblote septiese derms en skietwonde onder gevlekte kopverbande te aanskou.
Max se vordering, asook sy terugslae, word weekliks in Otto se groot gemakstoel bespreek. ’n Onpersoonlike verhouding word deurentyd gehandhaaf, hoewel die leser wonder waarom Otto nooit op Max se uit-die-bloute liefdesverklaringe reageer nie.
Dit word gou duidelik dat Max en sy pa nie ’n goeie verhouding gehad het nie. Boonop het Max ná matriek vir ’n minimale salaris “Sewe lange jare vir sy pa gewerk op die stuk grond wat sy sweet getap het” (bl 8). Lank na sy pa se dood verwyt Max hom steeds vir sy onvermoë om liefde en aanvaarding vir sy twee seuns te kon toon.
Dit is egter aan sy pa se erflating te danke dat Max ’n “groot, moderne huis in ’n pragtige tuin” kon bekostig. Max is baie trots op sy status as huiseienaar, wat hom boonop ’n vaste inkomste bied aangesien hy die huis uitverhuur en eerder in ’n ruim woonstel op dieselfde erf woon.
Die portier speel hoofsaaklik af in die gange en voorportaal van Strubenshof Privaat Hospitaal, ’n “ultramoderne pragstuk onder die beheer van direkteure, dokters en mediese fondse” (bl 39). Matrone Mara te Water, die ander fokalisator, beskryf die hospitaal as “’n glaskasteel in die middel van ’n sprokiestuin … Die hele plek lowergroen en ’n lus vir die oog” (bl 38). Haar stroperige beskrywing ten spyt, is matrone te Water nie iemand om mee te mors nie. Sy is ’n formidabele, dog simpatieke, vrou, en as iemand bedrog en korrupsie kan vasvat, is dit hiérdie hospitaal se “Mama Afrika”.
Dit is in die besige gange en voorportaal waar die pols van die hospitaal is. Dit is hier waar die skinderstories oor die vergeetagtige dokter Van Zoor vir mekaar gefluister word of die verhouding tussen Dottie-die-fisioterapeut en dokter Chetty-die-spesialis-internis bespreek word. Maar dit is ook hier waar die vordering van pasiënte soos die verlamde Happyboy Langa met groot blyheid vir mekaar vertel word.
Max en Pikkie, die ander portier, vorm ’n klein maar onmisbare rat in die groot wiel van die hospitaal. Dit is hulle wat pasiënte na die teaters moet neem, pasiënte op rolstoele moet laai en tasse moet ronddra. Vir Max, wat nie eens ’n stoffie op sy televisieskerm kan verduur nie en sy bes probeer om enige aanraking met mense te vermy, is elke dag ’n struweling. Maar geleidelik word die gedurige inseep en afspoel van sy hande al hoe minder.
Hoewel hy goed oor die weg kom met die hospitaalpersoneel, laat die “hel” in Max se kop hom soos ’n buitestander voel. Tog is hy nie sommer net ’n gewone portier nie - soos reeds genoem is hy immers ’n huiseienaar. Hierbenewens kan hy klavier en viool speel, en is hy die outeur van verskeie kinderboeke, met sy skoonsus Suzy wat die illustrasies doen.
Ondanks sy impulsief-obsessiewe gedrag, is Max dus ’n hubare jong man. Die enigste probleem is dat hy nie weet watter van die hospitaal se ontvangsdames om te kies nie: die een is “die soort vrou wat ’n man saans laat wakker lê en wonder”; die ander het ’n “glimlag wat jou hart vinniger laat klop”; en nog ’n ander is “’n lus vir sy oog”. Tog vermoed die leser tereg dat Max nie vir lank ’n enkelloper sal bly nie.
Net soos Stamatélos se vorige romans, werk Die portier ook met trauma en verlies. Die verlede, asook jou eie vrese, moet bewustelik opgediep word ten einde vrede daarmee te kan maak. Max voer deurentyd ’n stryd om nie net die dood van sy ouers nie, maar ook sy ambivalente gevoelens teenoor hulle, te verwerk. Ouboet, van kleins af sy held, was nog altyd sy steunpilaar en sy getroue vriend. Maar ook Ouboet wroeg met skuldgevoelens. Op die ou end is dit kommunikasie, oftewel sogenaamde “praat-terapie”, wat Max tot nuwe insigte bring en psigiese groei bewerkstellig.
Dit is dan ook by ’n jong kankerlyer dat Max die belangrikheid van aanvaarding leer, dat jy ander, én jouself, moet aanvaar en liefhê ten spyte van enige tekortkominge.
Max se stryd teen obsessief-kompulsiewe gedrag belig ook die mens se diep behoefte daaraan om in beheer van haar/sy eie lewe te wees. Dit is dus geen wonder nie dat Max toevlug in kinderstories soek wanneer die “grootmenswêreld van woede en geweld, onvolmaaktheid en malligheid dreig om hom te verswelg” (bl 14). Max se obsessie om alles te meet en te tel, om herhaaldelik sy hande te was, dui op sy gevoel van magteloosheid teenoor siekte en die dood. Tog is die Happyboy Langas van die wêreld - dié wat moedig glimlag en aanhou probeer ten spyte van hul omstandighede - ’n bron van inspirasie.
Aanvanklik word die leser effens oorweldig deur die magdom verpleegsters, matrones, dokters en ontvangsdames wat die een na die ander bekendgestel word. Die karakters is ook geneig om blote tipes te word, soos die arme Pikkie wat as “dik, dom en sterk” beskryf word en die gesette boekhouer Beulah Gelderblom vir wie ’n mens altyd deur ’n ring kan trek, maar wie se “dubbele kenne soos golfies ... ingerol kom”.
Die uiteindelike ontknoping van die kas-episode, ’n traumatiese gebeurtenis in Max se lewe, is ook teleurstellend. Dié herinnering, wat hy vir jare onderdruk het, is hy sonder meer bereid om met ’n Nederlandse pasiënt (wat soms “ik” en soms “ek” sê) te deel: “As tannie my vertel waar tannie se vrese vandaan kom, dan vertel ek tannie waar mý vrese vandaan kom” (bl 225). Daar en dan word die “sluier” oor sy vrees vir beknopte spasies gelig.
Ongelukkig skep die vertelstyl ’n afstand tussen die leser en die karakters. Hoewel daar inderdaad “derms op die tafel” is, om Otto en Max aan te haal, is dit asof die karakters opsommend beskryf word en ’n mens nie werklik vat aan hulle kan kry nie. Kern-gebeure soos die jare wat Max vir sy pa gewerk het, word oorsigtelik beskryf, en cliché-taalgebruik vorm ’n wig tussen die karakter en die leser. Ná sy gesprek met die Nederlandse tannie, voel hy byvoorbeeld “uitgedroog, soos ’n ou lap waaruit elke druppeltjie vog gewring is” (bl 230).
Tog beeld Die portier die binnewerkinge van ’n privaat hospitaal goed uit. ’n Mens kom agter dat Stamatélos, wat self in ’n hospitaal op die skakelbord gewerk het, hospitale goed ken: die lang ure, die besige gange en die vinnige pas van die hospitaal word met ’n kennersoog beskryf. Dit is lekker om te sien wat in die gange gebeur, te hoor waaroor daar tussen operasies gesels word, en vir ’n slag die gesigte ágter die maskers raak te sien.
Verder ontwikkel die leser ook meer begrip vir die hel waarin mense leef wat aan obsessief-kompulsiewe steuring ly, waar die gewoonste takie - soos om saam met ’n mooi meisie in die beknopte ruimte van ’n motor te ry - in ’n nagmerrie ontaard.
Hoewel Die portier maklik lees, kan ’n mens nie anders as om terug te hunker na Stamatélos se vorige romans nie. In beide Kroes en Die val van die dice word daar as’t ware vanuit die derms geskryf, met ’n rou eerlikheid en oortuigende onopgesmuktheid. In vergelyking met Pattie Peters se ryk gevoelslewe, kan ’n mens nie anders as om te voel dat Die portier se karakters effens bloedloos voorkom nie.

