Bloed

  • 0

Dis net voor dagbreek en die lig is dynserig en dit reën. Op die glimmende keistene, onder die kloktoring in die binnehof van ʼn ommuurde sendingstasie, lê die naakte lyk van ʼn vrou. Die reën sif neer op haar.  Die reënwater meng met die straaltjies bloed wat uit haar mondhoek en neus loop en vloei dan weg in die waai van haar nek in. Meteens is daar die geluid van voetstappe wat nader gehardloop kom. Dis een van die ou nonne van die sendingstasie, suster Ana. Sy is kreupel en hardloop hinkepink. Sy stop en buk by die lyk. Die vrou lê met haar arms uitgestrek, die handpalms half oop. Suster Ana maak die teken van die kruis. Sy druk haar vinger teen die vrou se nekslagaar en trek dit dan weer weg. Verdwaas kyk sy op. Dan sukkel sy orent en strompel na ʼn deur aan die linkerkant van die gebou toe terwyl sy “Help!” roep. Sy sukkel ʼn oomblik met die deur, slaag daarin om dit skrapend  oop te stoot en verdwyn daardeur.

Binne is dit nog feitlik donker. Suster Ana sukkel met ʼn stel trappe op. Aan die bopunt van die trap stop sy en hyg na haar asem. Sy trek haar kleed reg en weifel vir ʼn oomblik, soos iemand wat op pad is om ʼn kwaai of belangrike persoon te gaan sien. Sy stap afgemete in die gang voor haar af.  Haar seer been sleep effens waar dit nie meer behoorlik in die heupgewrig pas nie. Sy stap verby ʼn toe deur. By die tweede deur stop sy, lig haar hand en klop drie keer versigtig. Stilte. Sy klop weer – die keer effens harder. Die stilte duur voort. Sy gryp haar hande krampagtig saam voor haar maag.  Dan, baie versigtig, draai sy aan die deurknop. Die deur glip onverwags oop en swaai met ʼn kiergeluid kwartpad oop. Sy loer.

Die vertrek is ʼn slaapkamer. ʼn Onopgemaakte bed staan dwars in die vertrek. Die gordyne is oop en die yl môrelig val daardeur. Sy hoor ʼn geskuifel. Sy stoot die deur verder oop. Sy sien ʼn fors en ten volle geklede mansfiguur in ʼn py knielend voor ʼn klein huisaltaar. Sy staar na die man se rug en maak keelskoon. Die man beweeg nie. Die angs oorkom haar en sy sê hardop: ”Vader Afonso! ... Vader u moet kom kyk, iets vreesliks het gebeur.” Die vader draai skuins op sy knieë en kyk na haar.

“Suster Ana, kan dit nie wag tot ek gereed is nie?” sê hy skerp, draai terug na die altaar toe, gryp dit met beide hande vas en trek hom daaraan op.

Die ou suster wag nie langer nie. Sy skarrel na die venster toe en beduie met ʼn maer vingertjie.  “Kyk!” sê sy. “Kyk!” Sy maak die teken van die kruis oor haar bors en mompel: “Heilige Maria en Jesus,  wees haar siel genadig.”

Die vader draai op sy hakke om en stap tot voor die venster terwyl hy met een hand die ou suster ongeduldig eenkant toe druk. Hy bly roerloos voor die venster staan. In die groeiende daglig lyk die figuur op die keistene soos ʼn grap. Soos ʼn vrou wat baldadig in die reën lê, arms uitgestrek om haar. Die vader wys geen emosie nie. Hy staan daar vir ʼn hele paar sekondes. Dan draai hy haastig om en stap vinnig deur toe. “Kom!” gebied hy die ou non. Hy stap met lang treë in die gang af en stop  skielik in sy spore. Suster Ana stop agter hom en kyk vraend op.

“Bring ʼn laken,” sê hy en dan, terwyl hy voortstap:”Sommer een van my bed af, ons kan nie dat die lidmate haar so sien nie.”                                                                                

Hy spring die trappe twee-twee op ʼn keer af, pluk die deur met krag oop en stap op die plein uit.  Hy pyl op die liggaam af en kniel daarby. Dit reën nog sag. Hy vee met een groot hand oor sy gesig terwyl hy na die lyk kyk. Dan merk hy die ring in die oop handpalm. Met een beweging leun hy vorentoe, vat dit en sit dit in sy py se sak. Iemand gil iewers en hy staan op, kyk hande in die sye in die rigting van die geluid.  ʼn Non, suster Antonia, kom nader gehardloop, haar kleed klouend aan haar bene.

“Genade!  Genade!  Is sy dood?” roep die non uit en buk by die vader se voete langs die lyk. “Sy's dood,” sê sy dan sag. Op daardie oomblik kom suster Ana by die deur uit met die laken in haar hande gedrapeer. Die vader staan woordeloos by. Hy wag tot die ou non by hom is en dan neem hy die laken by haar.

“Opsy!” sê hy vir suster Antonia wat in ʼn biddende houding stil oor die liggaam leun. Sy staan stadig op en die vader gooi die laken oor die lyk en trek die plooie plegtig gelyk. “Bring die draagbaar en roep suster Monica om te kom help.”

Beide nonne skarrel tegelyk weg. Die vader bly net daar staan. Hy kyk op na die kloktoring en dan na die lyk onder die laken. Sy hande is opeen geklem. Dan val dit hom by dat die lidmate wat in die stasie werk dalk reeds wil inkom. Hy stap haastig na die hoofingang toe. Hy maak seker dat die deur op grendel is en stap terug na die lyk toe. Op daardie oomblik kom die twee nonne saam met suster Monica oor die plein aangedraf. Suster Antonia en suster Monica dra ʼn draagbaar tussen hulle. Hulle sit die draagbaar langs die lyk neer en staan ʼn tree terug. Die vader tree oor die lyk en vat dit by die skouers. “Voete!”  sê hy ongeduldig en wag. Suster Monica vat-vat na die voete.

“Gryp die voete!”  sê die vader bars. 

Saam lig hulle die liggaam op en plaas dit op die draagbaar. Die vader vat die handvatsels aan die koppenent. Suster Antonia en suster Monica neem elk ʼn handvatsel aan die voetenent.

“Na die dodekamer toe,” sê die vader. Terwyl hulle stap begin dit weer harder reën en uit die rigting van die gegrendelde deur kom ʼn ongeduldige geklop. “Vinniger!” sê die vader. Hulle dra die lyk na die dodekamer waar lidmate oor hul oorlede voorvaders waak, sedert die sendingstasie in sy huidige triomfantlike vorm gebou is. Toe hulle die kamer binnestap, is die son ʼn dowwe ligkol agter die wolke.

“Berei haar voor,” sê vader Afonso en stap weg na sy kantoor toe. Die kantoor is ʼn rietdakgeboutjie langs die katedraal buite die hoofgebou. Hy ontgrendel die hoofdeur en stoot dit oop. ʼn Tiental lidmate staar op na hom. 

“More, vader Afonso,” sê hulle in ʼn koor. Hy lig sy hande, sê ook more, en stap tussen hulle deur. In sy kantoor gaan sit hy agter sy lessenaar. Uit een laai haal hy ʼn skryfblok. Hy doop sy pen in die inkpot en staar vir ʼn oomblik na die papier. Dan begin hy skryf. Hy rig die brief aan Sy Eminensie die Biskop.

Dis twee maande later. Dis ʼn blakende somersdag. Die lidmate van die sendingstasie is voor die ingang van die sendingstasie saamgedrom. Hulle hou die stofpad dop wat oor die vlakte heen loop en oor ʼn golwing in die hoogland op die horison verdwyn. Nie lank nie, of ʼn stofwolkie slaan doer ver teen die horison op. Opgewondenheid pak die lidmate beet. Hulle begin ritmies handeklap. Een van die ouderlinge sit in met ʼn psalmlied, en gou dreun dit soos almal saamsing. Die singery maak vader Afonso en die nonne attent op die aankomende voertuig. Hy stap uit sy kantoor uit en word gevolg deur die nonne wat uit die sendingstasie kom. Die nonne sluit hulle by die singende gemeente aan en sing saam.  Dis die koms van Sy Eminensie Biskop Gabriel Pius.

Vader Afonso stap by die gemeentelede verby, en ʼn entjie met die stofpad langs. Hy sweet. Hy gaan staan stil en bekyk die aankomende voertuig. Uiteindelik ry dit stadig by hom verby. Hy sien net die wit handpalm van die biskop, soos dié hom in die ry groet. Voor die vergaderde gemeente stop die motor en bly die biskop sit en wag terwyl die chauffeur uitklim en die agterdeur vir hom oophou.

Biskop Gabriel Pius is ʼn groot man. Hy raak aan die twee meter. Sy gesig is rond en twee wakker oë glinster agter ʼn ouwêreldse knypbrilletjie. Toe hy buite die motor staan, ignoreer hy eers vader Afonso, steek sy hande hoog die lug, en lag helder en duidelik. Die gemeente en die nonne volg sy voorbeeld en begin handeswaaiend in die lug God Seën Afrika te sing. Self singende, stap hy tussen die lidmate in en groet die woelende lywe en uitgestrekte hande rondom hom.

Suster Ana vind dit moeilik om met haar seer heup naby hom te kom. Sy word deur die groep uitgestoot tot sy uiteindelik aan die buitekring staan, met die biskop in die middel. Sy deel nie in die gejubel van die lidmate nie. Haar gesig is strak. In die tussentyd woel vader Afonso hom deur die gedrang tot langs die biskop. Laasgenoemde neem hom hartlik by die hand en saam beweeg hulle na die katedraaltjie. Die lidmate volg al singende.

Die katedraaltjie is gou boordens toe vol. Biskop Gabriel Pius bestyg die podium. Hy bedank die gemeente vir die hartlike verwelkoming. Hy lewer ʼn kort prekie. Dan vra hy vader Afonso om die reëlings tydens sy besoek te bespreek.

Belangrikste is dat die biskop graag na die lidmate individueel wil luister. Vir dié rede staan hy die volgende dag oudiënsies toe. 

Dis sonop die volgende dag. ʼn Tou lidmate staan voor die kantoor van vader Afonso aangetree. Suster Ana is ook in die tou. Daarʼs omtrent vyftig wat wag vir ʼn oudiënsie met die biskop. Suster Ana volhard al voel sy swak. Uiteindelik is dit haar beurt om in die oudiënsiekamer toegelaat te word. Sy stap die vertrek binne. Die biskop sit agter die lessenaar. Suster Ana stop voor die lessenaar en maak ʼn kniebuiging.

 “My liewe suster Ana,”  sê die biskop. “Sit.”

Suster Ana sit op die aangebode stoel, haar hande in haar skoot saamgevat. Sy kyk stip voor haar uit.

“Ek het jou brief ontvang, my dogter. Ek het dit ontstellend gevind. Donna Agueda was soos ʼn dogter vir my gewees. Toe sy hiernatoe vertrek het, was sy opgeruimd en vervul met die Liefde van ons God en Meester. Daarom was haar dood vir my net so ʼn skok gewees. Ek is wel bewus daarvan dat sy en vader Afonso ʼn besondere band van naasteliefde gehad het ...”                                                                     

“Hulle was inderdaad in mekaar se geselskap in die week wat sy hier deurgebring het, Eminensie.”

“Dis geen refleksie op vader Afonso dat hy hierdie besondere verband met die menina gehad het nie, my dogter.  God gebied ons om lief vir ons naaste te wees.”

“Vergewe my Eminensie, maar die omstandigheid maak dat ek nie rus kan vind nie.”

“Die saak is aan die Heilige Vader in Rome genoem, my dogter. Donna Agueda het selfmoord gepleeg. Dis die feit wat ons onder die oë moet sien. Dis ʼn doodsonde, ons kan maar net bid dat Hy haar genadig sal wees.”

Suster Ana kyk af na haar hande. Dis op die punt van haar tong om Sy Eminensie oor die bloed en die ring te vra. Die bloed op die onderste laken toe sy vader Afonso se boonste laken van die bed gestroop het. Dit was maagdelike bloed. Maar sy swyg. Die biskop staan op en stap om die tafel. Hy sit sy hande oor haar hoof en sê ʼn seëngebed. Toe hy klaar is, staan suster Ana op en stap deur toe. Sy maak die deur oop en huiwer. Sy draai terug na die biskop toe. Byt op haar onderlip.

“Vergewe my Eminensie,” sê sy dan, kniebuig en stap by die deur uit.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top