Bloed op my hemp

  • 0

My hand bloei, maar dit kon ook sy bloed gewees het.

Ek kon nie in die huis bly nie. Ek moes uit. Ant Nonnie wat aanhoudend by my ma se kamerdeur rondstaan, lyk of iemand haar geklap het. Oom Basil wat by die kombuistafel sit en rook, een sigaret na die ander. Vir my ’n skoon hemp aangetrek.

"Maar – gaan jy nou uit?" vra Ant Nonnie my in die gang.

"Ja. Ek kan tog niks hier doen nie. Die dokter was mos al hier. Wat kan ek doen?"

"Maar jou ma – "

"Ek weet."

Dit krap. Moet ek nou weer by die bed gaan sit en luister na my ma se asemhaling? In en uit, in en blerriewil uit.

Ek neem my sleutels van die kombuiskas af waar oom Basil die asbakkie in die vullisdrom uitkap. Ek vang sy oog, maar stoot die gaasdeur oop. Familie. ’n Pyn in die gat. Ek stap maklik van die agtertrappe af na my kar toe.

Ek gaan maar stasiekroeg toe. Die plek is amper leeg, maar ou Johnny-hulle is darem daar. Appel gee my ’n hou op my skouer. "Yes, jou ou dôner! Wat lyk jy so poesbek vanaand? Sedgewick, gee dié ou ’n dop."

Ek kry ’n stoel. Verder die toonbank af sit daar twee ouens met dasse aan. Maar min ouens hier. Die kroegman sit ’n groot beker bier neer, vee die toonbank met ’n lap af.

Johnny is besig om ’n grap te vertel en die ouens luister. Die punchline kom. "Sies," sê Appel. Hulle lag so bietjie. Johnny het nog een.

Ek neem ’n diep teug aan die swaar beker, sommer die helfte. In en uit, in en uit, my ma se asemhaling. Ek probeer luister, drink die res van die bier, sit die beker neer en wink vir die kroegman.

Dis ’n grap oor ’n moffie. Johnny maak hom na. "Jou stoute kaboute'", en hy wikkel sy skouers so. Nou het hy die ouens se aandag en hy bou-bou aan die grap. Die kroegman skuif my bier nader. Johnny doen dit dêm goed. Jy sal sommer dink hy’s een van hulle, as jy nou nie geweet het nie. Hy’s darem maar ‘n mooi ou, jissis, as ‘n ou soos hy gelyk het, sal die girls … Sy lippe is so ‘n donker kleur.

Dan kom die punchline.

Die ouens val amper van hulle stoele af. Ernst se bier stort oor die beker se rand. Die gelag vul die hele kroeg. Die twee ouens met dasse aan kyk om na ons kant toe.
Appel probeer Johnny namaak, maar los dit en drink sy bier klaar, en deur die gelag vee hy sy mond met die agterkant van sy hand af. Ek beduie vir nog bier.

"Jissis, jy pot vanaand, huh," sê Johnny. Ek smile maar net. "Het jou stuk jou gelos, of wat?"

"Nee, ek't nie ’n girl nie," sê ek om iets te sê.

Ernst vra iets oor moffies. Johnny antwoord asof hy die hele storie ken. Hy verduidelik vir die ouens hoe dit nou eintlik met moffies is, hoekom hulle só is.
"Hulle's mammies-boys, man," sê Appel. "Jy kan dit sien. Nooit grootgeword nie."

"Ek was in die army saam met een," sê Johnny. "Hy't my alles vertel, hoe dit is, jy weet."

"Hei, ek kan'it nie verstaan nie, wee’ jy," sê Ernst en lig sy vinger vir nog bier. "Is daar nie ’n klub of ’n ding hier naby nie?"

"Daar is," sê Johnny. "So twee strate op."

"Nou wat maak die goed nou eintlik daar?" vra Ernst.

Johnny sê hy weet nie, maar hy het hulle al gesien, hier in die straat af loop, so fancy aangetrek, altyd die kort hare en dalk ’n pers serp om die nek, of ’n ding.

Die bier kom. Johnny sê hulle moet bietjie gaan kyk. Die ouens dink dis ’n helse goeie plan. Kom ek saam? Ek sê ja, kyk na die skuim teen die rand van my glas. Kan tog nie nou huis toe gaan nie.

Die aandlug slaan my bietjie. Snaaks, ek kan gewoonlik my bier vat. Miskien ’n rapsie vinnig gedrink. Ons loop die kafee verby waar die Indiër net besig is om sy deure te sluit. Daar is nie juis verkeer nie. ’n Polisie-van ry verby.

Johnny bekyk die straat se naam. "Ek dink dis hier af," sê hy.

Daar's minder straatligte en die ou dubbelverdieping-huise lyk maar leeg. ’n Vrou staan in ’n deur en rook. Johnny vra haar en sy beduie om die hoek. Nog voor ons daar kom, stap daar ’n paartjie ons verby en sluit ’n kar oop. Ernst wil hom breek, dis net soos Johnny gesê het - die nou broekies, oopgeknoopte hemde, serpe en die hele sypaadjie ene parfuum.

Appel skud sy kop. "Ek voel sommer lus en dôner hulle," sê hy. Die kar trek weg. "Rook?"

Ek neem een by hom – dis dieselfde soort wat oom Basil rook. Hy en ant Nonnie sal seker daar slaap vanaand. Ek weet nie hoe gaan ek dit hou nie. As ek kon, sou ek hier êrens vir my ’n slaapplek kry, dalk by Appel. Maar ek kan seker nie, ek moet teruggaan. Here, dis al maande so. Jissis, man.

Daar is ’n klein neonliggie in die vorm van ’n roos en die naam van die plek. Die deur staan op ’n skrefie en daar is trappe. Die jol is seker bo, meen Johnny, en as ons oorkant op die sypaadjie staan, sien ons dalk iets.

Ek voel nie lekker nie. Ek het vanaand niks geëet nie. Seker dié dat die bier my so hoenderkop laat voel. Ons gaan staan oorkant, skuil half, in ’n winkeldeur.

"Hier kom koning Salomo," sê Ernst.

Vanuit die deur kom ’n drieling, luidrugtig, beduie met die hande en gaan te kere, dit lag en dit dans op die sypaadjie, en dan verdwyn hulle om ’n hoek.

"Dis beter as TV!" proes Ernst tussen sy lag deur.

"Ek dog ek pis my nat!" sê Appel, maar hy lag nie juis nie.

"Ek sê mos," sê Johnny.

"En jy?" sê Appel en stamp my in die ribbes.

"Wag, wag," sê Ernst dringend. "Hier kom ’n ding."

"Sommer direk na ons kant toe," fluister Johnny.

Net ’n man met ’n oop ligblou hemp, stywe jeans en wit skoene kom oor die pad gestap. Hy klap liggies aan sy broeksakke met ’n frons op sy gesig, asof hy sleutels soek.

"Soen hom, Appel," sê Johnny. Ernst smoor ’n lag.

Die mannetjie kom staan reg voor ons en vroetel in sy sakke. "Oh, dammit, man," sê hy hardop.

"Soek jy iets?" sê Appel en gaan staan by hom. Die man skrik. Hy wil vlug, maar Appel gryp hom en druk hom teen die kar vas. Toe tref my vuis die blou hemp diep in die maag, so hard dat hy vooroor val, en ek slaan hom weer toe hy die kar tref, my vuis soos ’n byl, kneukel tref die randsteen. Hy probeer kruip, kan nie eers skreeu nie. Ek moker hom in sy bloedbek.

Ek voel net hoe Johnny en Ernst my terugpluk, vashou, my weghou. Appel staan verskrik eenkant.

"Wat de fok maak jy?" sis Johnny. "Nou-nou maak jy die ou dood, dan sit ons in die kak."

Ek hyg na my asem. Voor my lê die bebloede klein drol en kerm. Dit klink of hy "Mammie, Mammie" sê.

“Daar kom mense by die klub uit,” fluister Ernst dringend. Ons maak dat ons wegkom, suiker die straat af terug hotel toe. By my kar haal ek my sleutels uit en vir die eerste keer sien ek die bloed op my hemp. My hand bloei, maar dit kon ook sy bloed gewees het. Ek sit my sakdoek om my vingers en ry huis toe.

Toe ek daar kom, is oom Frank-hulle se kar op my plek en die bure staan by ons voordeur.

"Hier is hy nou," sê iemand toe ek uitklim. Ek stryk na hulle toe aan. Mens weet sommer. Jy voel dit aan.

Die dokter is in die kombuis. Ant Nonnie snik. Oom Basil ondersteun haar met ’n sigaret tussen die vingers. Hulle bekyk my net.

In die slaapkamerdeur sien ek niemand by my ma nie. In die gloed van die leeslamp voel ek my hart wil gaan staan, dat my vel wil oopskeur. Ek voel dood. Die kamer is dan stil. Iemand vat aan my elmboog. Ek gaan badkamer toe. Ek probeer die bloed uitwas, uit die hemp uit was. Die kneukels van my regterhand is oop, rou. Brand in die water en seep.

Later is almal weg. Ek lê op my bed. Ek luister na my asemhaling. My hemp hang en drup in die stort. Ek probeer insluimer. Êrens in my kop maal dit "Mammie, Mammie" oor en blerriewil oor.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top