Blind

  • 1

Hy is effe gatvol vir sy vriendin se streke. Effe gatvol en heel uitgefreak. Eers het haar kop net nou en dan ’n bietjie uitgehaak, maar die laaste tyd is dit asof haar kop net nou en dan inhaak.

Gister het sy in die middel van ’n lesing uit die volgepakte lesingsaal gevlug en hom aan een hand saamgesleep. Sy het heeltemal verskrik gelyk en geweier om met hom te praat. Hy’t haar al die pad kar toe gevolg en maar saam met haar gery, om seker te maak sy’s oukei.

Sy het bestuur en hy moes net koes – sy was nog nooit waffers agter die stuur nie, maar op hierdie trippie het haar tekort aan vernuf en padmaniere nuwe hoogtes bereik. Gelukkig het sy nie ver gery nie – net tot by die mall naby die kampus.

Daar gekom, het sy ewe vrolik uitgespring en omtrent tot by die filmteater gehardloop. Voor hy nog kon keer of retireer, het sy twee kaartjies gekoop vir Ice Age II. “Ek kom kyk dit vir die tweede keer,” het sy half trots aangekondig terwyl sy vir hom oor ’n reusehouer popcorn loer. “Jy sal daarvan hou. Dis snaaks.”

Sy’t begin huil toe die ligte in die teater verdof en stilletjies aangehou tot die krediete aan die einde gerol het. Hy’t die kar bestuur tot by haar huis, haar in die bed gesit en teruggestap kampus toe.

Vanoggend het sy beter geklink toe sy vroeg-vroeg bel om jammer te sê oor gister. Hulle het groentee gedrink by die plek waar hulle gewoonlik voor klas ontmoet, maar ná die tyd wou sy eerder op die kampus rondwandel as om die eerste lesing van die dag by te woon.

Hulle het nie ver gevorder voor sy begin maak het of sy blind is nie. Hy moes haar aan die hand lei en sy het versigtig met die punte van haar skoene die pad vorentoe gevoel.  Dit was pret – vir vyf minute of wat – maar sy wou nie end kry nie. Hy het haar vir 20 minute so rondgelei: sy met haar oë styf toegeknyp; hy wat geen moeite doen om my irritasie met die speletjie te verbloem nie.

Agter die wiskundegebou het hy besef hy het genoeg gehad. Sy het vasgesteek toe hy haar arm los en bly staan waar sy was. “Dis nie meer snaaks nie,” het hy vir haar gesê. “Ek het werk om te doen en klasse om in te haal. Bel my as jy jou sig herwin en reg is om soos ’n grootmens op te tree.”

Sy het haar kop net effe laat sak en hy het syne geskud terwyl hy wegstap.

Dit was ’n besige dag en sy het nie gebel nie.  Sy’t nie in een van hulle klasse opgedaag na middagete nie en sy was ook nie in die rekenaar-lab om aan die groepprojek te werk nie.

Dit was al laat toe hy die ander groet en na sy kar toe loop, sommer kortpad oor die plein en agter om die wiskundegebou. Hy was op sy foon doenig, besig om ’n SMS te tik, maar toe hy vir ’n oomblik opkyk, sien hy haar daar staan: presies waar hy haar gelos het, met haar oë steeds toegeknyp.  En agter haar haar lang, donker skaduwee. 

Lees ’n onderhoud met Bibi Slippers hier.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top