Bleek Planeet: Wanhoop oor die stand van die skepping

  • 1

Titel: Bleek Planeet
Skrywer: Dolf van Niekerk
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869199210

Koop Bleek Planeet by Kalahari.com

Die mooi omslag gee dadelik ’n sleutel tot hierdie keurige bundel verse van Dolf van Niekerk. En soos die flapteks bevestig: "Hy verwoord hierin sy verwondering oor die ontstaan van die aarde, sy liefde vir die kwesbare, droë dele van ons land, veral die Karoo, en ’n diep kommer oor die kragte wat die fyn balans van die natuur kan versteur." 

Hier is geen geheimenis vir die leser om tematiese motiewe, ook leitmotiewe, te probeer naspeur nie. Net soos die brose planeet waaroor hierdie verse wonder, net so broos is hierdie verse in hulle blootstelling.

Soos die lesers van Van Niekerk se werk teen hierdie tyd weet, is sy Afrikaans ragfyn in woord en beeld. Alhoewel hierdie gedigte ook sterk reageer op die elemente van aardverwoesting, en die brutale kragte wat dit loslaat, bly die teks self vry van taalwoede en heftige emosie. Heerlik om ’n bundel te lees van ’n digter wat sterk emosie oordra sonder om te soek na die etiket van "die woedende digter". Van Niekerk is ’n volwasse digter met ’n beleënheid in sy digkuns en sy hantering van die woord wat geen foefies nodig het nie.

Die tema is uiters relevant, en as sodanig kan hierdie rustige protes ook gelees word as ’n dokument met ’n manifes. Die brose aarde/planeet wat deur geel en groen gaan, is nou reeds bleek. Die kleur van skoonheid word, soos die bundel vorder, geleidelik vervang met die bleekheid van ’n diep besorgdheid, weemoed en selfs wanhoop oor die stand van die skepping:

Tuinier

wit skoenlapper vlieg vanoggend
teen my borskas vas
en al die lentes van my jare
flakker oop –
blydskap en verdriet in klank en kleur
gevang, ’n mengeling van groei
en blom en sterf in ewewig vas. ( 53)

Alhoewel die indeling van die bundel ’n nederige aanspraak op die leser maak, is ook dit deel van die subtiele krag van weemoed en verset. Daar is geen afdelings met titels nie, langer gedigte en kort gedigte wissel mekaar spontaan en oënskynlik ongeërg af, en eenvoudige en direkte verwysings praat in dieselfde asem mee as gelaaide verwysings. Hierdie egte pretensieloosheid van die bundel maak die ontstellende boodskap van ’n skepping in verval soveel sterker.

Die openingsgedig, "2011", begin met die aanbreek van die herfs, met die wind wat die blare opdwarrel, maar eindig met

in ’n seisoen van stilte – ’n geel planeet,
museumstuk in die ruim.  (11)

Die bedrieglike eenvoud van die verse stuur ’n leser wel nie telkens terug na sy boekrak om een na die ander teoretiese werk van die rak te pluk om na ’n leesmodel te soek nie, maar tog vra dit elke keer, gedig na gedig, vir rustige en oorwoë besinning oor die inhoud, en veral oor die kundige en kunstige sameloop van woord tot woord in onderlinge gesprek, en in die groter verhouding van woord en sin. Soos die wonderbare skepping ’n mistieke verweefde eenheid vorm van die kleinste tot die grootste elemente van gestolde en dinamiese wêreld, so vereis die gedig ook die soeke na hierdie eenheid. Hiervan moet nie afgelei word dat hierdie verse week en weeïg is nie; inteendeel, dit is sterk taal. Hierdie digter hoef nie effek te soek deur ’n woord wat totaal buite die semantiese en stilistiese register val, te gebruik as ’n bewys van digterlike bravade nie. Tog is die verse geensins beskroomd nie. In die volgende vers is daar ’n klein inventaris van die natuur se seksualiteit:

Nuwe Seisoen

Blomtyd lok die drif.

Verdwaalde drif forseer
boslelie se blom deur ys
swart ryp stuit
lente in Namakwaland
strelitzia steek in bar stele vas
proteas stol in steriele knoppe
heide bly net ’n naam
jasmyn verloor haar geur
aalwyn se sap word teer.
Alles keer terug tot wat was:
alge en swamme aan die begin
van lewe op ’n planeet
wat eendag groen sal heet. (13)

Dink gerus terug aan DJ Opperman se "Eiland van die paddastoele" (Blom en Baaierd, 61), waar die frisheid van lewe en drif geleidelik verval van viriele liggaam tot paddastoel: 

Toe op ’n oggend
was hul wat hul vrees:
tussen honderde stele
wit gewortelde vlees.

Bleek planeet dra dieselfde tipe boodskap oor. Dit belig die kern van alle verval, dié van die planeet tot die niks. Die uitkoms vir die planeet word al hoe meer uitsigloos, en

By die nuwe Betesda
is die waters stil;
die aarde smag
na ’n wonderwerk.  (15)

Die bundel beweeg weg van die klein natuurdinge waar die mens die geleidelike "breuke" in die geheel waarneem, na groot natuurverskynsels wat die stem word van die geweld wat die planeet bedreig. In die sterk gedig "El Niño" word hierdie oorweldigende natuurmag gepersonifieer en beweeg dit tot binne die mens se intieme ruimte. Dit word ’n mag wat die mens van sekuriteit en privaatheid stroop, so ook die planeet se hegte intieme bande versteur. El Niño se ouderdom is onbekend, so ook dat hy een van ’n tweeling was – daar was ook ’n suster. Hierdie tweeling verwar die seisoene, neem weg die ritme van die aarde, en

mens en plant en dier
weet nie meer hoe om vir saai
en paar voor te berei. (17)

Hierdie tweeling word in die loop van die bundel in verwantskap gebring met ander beroemde tweelinge soos "Pangaea die moederaarde en haar tweeling, gebore in twee rigtings van die wind: Lauratis noord, Gondwana suid". Deur al hierdie wonderbare ontwikkelinge in die planeet se skepping verken die bundel die groot en onpeilbare raaisels van die aarde, ook in verhouding tot die heelal(le). In "Garob" (25) word hierdie grootse ontwikkeling saamgelees met ’n asemtog in Gondwanaland, waar dit "’n spleet (is) waar berggansie groei, bokbessie en geelgranaat".

In "Oikonomos" (28), met die verwysing na die Griekse beskawing en ekonomiese denke, word enersyds die mens se bewussyn van die ekonomie verbeeld, en uit die bestuur van goedere en kapitaal ontwikkel dinge tot in die politiek. Aan die een kant die goue markte, andersyds die dialoog oor kosmologie en etiek. Maar geleidelik staan die aarde sy grondstof en suurstof af, woude brand, en riviere stol met afval. Die groen, sieklike planeet "tol in sy baan tussen sterre en planete".

In "Osoon" (30) smelt die pole, en oseane neem Gondwanaland en Lauratis in, gasse oorheers en alles keer terug tot die oerchaos waar God se gees opnuut oor die waters sal sweef.

Hierdie ontwikkelinge binne die bundel verloop chronologies digterlik sonder om in die minste ’n inventaris te word. Die bundel neem die leser deur die wonder van skepping wat in onverbiddelike samehang met die verwonding van die skepping resoneer. Die ontstellende konfrontasies word verwoord in beskaafde dog kragtige Afrikaans. Ook Afrikaans so aards dat dit die leser na Boerneef laat verlang.

Die bundel het egter veel meer as die planeet in sy visie. Die natuur en die wonder én verskrikking daarvan word telkens in verhouding gebring met die gang van die menslike psige. Trouens, die planeet word ’n spieëlbeeld van die mens in sy worsteling, sy ongeërgdheid, sy eie verval en sy verwagting. Ook verbaas dit nie dat twee van die laaste verse godsdienstige liturgieë betrek nie: “Missa Solemnis (50), waar al die stasies vanaf die kyrie tot die agnus dei die leser lei na die bewussyn van God; en “Requiem(60):       

sluit my oë
en agter ’n geel membraan
’n skepping met wesens
in ’n kom sonder uitgang.

Bleek planeet is ’n ryk leeservaring wat nie alleen suiwer literêre bevrediging bied nie, maar ook tot nadenke stem. Die fyn en innige hantering van die woord en die skerp fokus op die deurlopende tema maak dit ’n eerstehandse poëtiese belewenis. Dit is ’n bundel vir rustig en besinnend lees, sonder dat dit ’n literêre kragtoer van die leser vereis. En ai, die soepele, beleë en mistieke Afrikaans ...

Uit "Ballade van die hande" (43):

Vier hande rem aan wysters om tyd aan bande te lê
dat geen minuut of uur
aan die verloop van jou eensaamheid
vorm kan gee, maar tyd en vryheid
laat om in die spanning tussen nou en ewigheid
tot vergelyk te kom.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.  

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top