"Bittermal Afrikaner" deur Ruaan Huystek van Rooyen

  • 0

Bittermal Afrikaner

Wanneer mens niks meer het om te verloor nie
Staan jy nog vir iets?
Wanneer mens niks meer het om in te glo nie
Was dit als verniet?
Wat is die oorsaak van die chaos in die kamers van jou hart?
Lewe, ek klop aan jou deur
Pomp my bloed deur jou sleutelgat.
Waar is jou lig nou weer
Wanneer die donker wêreld my versteur?
My asem word beroof en opgehou,
soms voel ek ek kan nie meer nie.
My denke word vasgebrand om aan te hou.
Wil myself nie verder daaraan steur nie.
Die pyn het nou my enigste vriend geword.
Ons kuier saam tot ons ineenstort.
Ons sing saam tot waar die lyne ons nie meer kan skei nie.
Daar is niks wat my verder kan onderkry nie.

Wraak teen jou waansin
Kan jy jouself oorwin?
Die grootste fight is teen jouself
Die grootste fight is teen jouself

In die kopsere van ’n donker nag
Probeer die woorde my vingers verkrag
Die klok teen die muur klop stadig
En ek smelt met die stilte saam maar die stilte het ook ’n naam
En die stilte het baie dinge om te sê
Die stilte in die nag het altyd die laaste lag
Maar môre is nog ’n dag
Die laaste ure is die diepste en die donkerste
Kraakvars braak die sonlig op my mat
Wat, wat, nee, daar is nie meer tyd vir slaap nie.

En ’n bittermal Afrikaner is besete
Daar is geraamtes in sy gewete
Sy woorde is gewere vir vrede
Sy woorde is gewere vir vrede

Spring in die stort en doen ’n dansie vir jou spasie in die son
Dis net dieselfde gesigte met gedigte
En die skaduwees is die tralies in jou hok
Daar is niemand wat jou stop nie, dis net alles in jou kop
Wanneer gaan jy eendag leer om jouself te bemeester
Dit is jou grootste begeerte
En aan die einde van die lang pad is daar niks anders wat kan gebeur nie

Wraak teen jou waansin
Kan jy jouself oorwin?
Die grootste fight is teen jouself
Die grootste fight is teen jouself

En as jy dit als eendag uitgefigure het
Gaan jy dit benut?
Is jy wie jy rêrig is?
Gaan jy al die vure blus?
Gaan jy jouself oorkom?
Trap daai bom
Want als is vol gom
En as jy die slaap uit jou oë uitvee
Word jy wakker en verstom
Die lewe draai op snaakse maniere.
Kan jy die rede agter alles sien?
Kan jy die rede agter alles sien?

En ’n bittermal Afrikaner is besete
Want daar is geraamtes in sy gewete
Sy woorde is gewere vir vrede
Sy woorde is gewere vir vrede

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top