Our hunting fathers

  • 0

Titel: Buys: 'n Grensroman
Outeur: Willem Anker
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780624069386

Koop Buys: 'n Grensroman by Kalahari.com

Willem Anker het tien jaar gelede bekendheid begin verwerf as skrywer van teaterstukke waarin onder meer identiteitskwessies op innoverende wyse verken word. Skroothonde, Slaghuis, Sielsiek (saam met Tertius Kapp), Skrapnel en Samsa-masjien is bekende titels vir (Suid-)Afrikaanse teatergangers. Anker is wyd bekroon vir sy teaterwerk. Sewe jaar na sy debuutroman, Siegfried (2007), eweneens bekroon en besonder gunstig ontvang, verskyn vanjaar sy tweede: Buys: ’n Grensroman.

In 2011 word die Jan Rabie-Marjorie Wallace-beurs ter waarde van R350 000 aan Anker toegeken om uitvoering te gee aan sy voorneme om ’n roman oor die ontwykende en haas vergete 18de-eeuse historiese figuur Coenraad de Buys te skryf. Die Universiteit van Stellenbosch, waaraan Anker as dosent in kreatiewe skryfkunde verbonde is, het twee jaar verlof aan hom toegestaan om hierdie omvangryke projek te voltooi. Dit is duidelik dat heelwat geploeg is in hierdie reuse onderneming: geld en tyd dus, en soos die “Erkennings” en “Bedankings” agterin die boek duidelik maak (Anker 2014:431–432), ook onverdrote navorsingsywer en wye konsultasie – by plaaslike kenners van bv die Langkloof maar ook skrywers, letterkundiges en historici, wat groot name soos Karel Schoeman, Fransjohan Pretorius en Marlene van Niekerk insluit.

Karel Schoeman
Marlene van Niekerk

Die eindproduk is imposant, en die leser draf gretig maar op heeltemal te korte beentjies agter Buys/Buys aan. Dat Buys, by die sewe voet lank, die leier word van allerlei verlooptes, is in hierdie verband relevant, so ook Buys se charismaties-retoriese vaardigheid, waarvan hy sélf terdeë bewus is: “Die burgers verkyk hulle aan my. Ek voel groter as my sewe voet, ek verlustig my in my eie stem. My woorde loop soos boomgom oor hulle en maak die wêreld dik en glasig tot hulle oortuig is ....” (Anker 2014:85).

Buys is ’n roman wat groot wil wees en dit ís, en noop die leser om in daardie terme te dink en so goed as moontlik te probeer byhou. In navolging van Buys wat met sy “welluidende stortvloed dinge bymekaarbring wat hulle nog nie voorheen saamgedink het nie” (Anker 2014:84), vra die roman Buys van die leser om groot en kreatief en integrerend te probeer dink. Min wat mens oor hierdie roman mag bedink, kan myns insiens te hooggegrepe wees.

Op verskeie maniere en vlakke is Buys gemoeid met die grens en inderdaad ook grensverskuiwend. Ten opsigte van die romanwêreld word die Oosgrens van die destydse Kaapkolonie en omstreke herbesoek en verskillende periodes, vanaf 1761 tot 1798, tot 1814 en later, in opeenvolgende romanafdelings verken. Die taalaanwending is kragtig en “verowerend” deurdat die ruwe realiteite, opvattings en persepsies van destyds in die taalgrein gedra word, wat insluit die gebruik van Kaaps-Hollands en ras-pejoratiewe. Die Nederlandse vorme word wel merendeels vlot genoeg hanteer, maar myns insiens is die roman in hierdie opsig nie oral optimaal deurgekrui nie. Soms kom die gebruik van Nederlands neer op hier en daar ’n leksikale item, bv. “lieve” of “spiegel”, gesprinkel in andersins redelik “gewone” Afrikaans. Die grensverskuiwende aard van die roman speel dus ook, maar slegs ten dele, uit in die taalaanwending.

In die kollig staan ’n protagonis wat op talryke maniere nomadies-grensveragtend redeneer en handel. Ook op metakonsepsuele en -tekstuele vlak word die grens verken en versit.

Laasgenoemde neem al ’n aanvang met die subtitel: ’n Grensroman. Hierdie subtitel is deel van die eerste indrukke wat die leser van die roman kry en wek verwagtinge. Die “grensliteratuur” in Afrikaans het bepaalde konsepsuele grense. Buys ondergrawe hierdie verwagting en verruim wat ons onder grensliteratuur kan verstaan, maar sluit nietemin ook half-bevestigend aan by daardie bestaande tradisie. Die ek-verteller, die ruwe trekboer Coenraad de Buys van die 18de eeu, groei in hierdie roman (ekstradiëgeties) uit tot Alom-Buys, wat historiese periodes oorskry en oorskou, en boonop insae het in die manier waarop hy later beskryf en geskryf sou word. Die Suid-Afrika van veel later kom ook ter sprake, en daarom is daar “ruimte” vir iets soos die Grensoorlog (middel 1960’s tot die laat 1980’s). Die “hondskimme” (Anker 2014:62), veral die af-oor, wat gedurig in Buys se nabyheid bly, kan verskeie betekenisassosiasies hê, maar een daarvan is dat hulle fungeer byna soos die Kubaan in een van Etienne van Heerden (1983) se bekendste grensverhale, My kubaan in sy gelyknamige bundel, maar hier dan kontrasterend deurdat by Buys juis die afwesigheid van gewete op die voorgrond gestel word. Hierdie indruk word versterk deur ’n passasie soos die volgende:

Ek vergeet onmiddellik van die jong Kaffer en hoe hy vir my gelyk het toe ek hom skiet waar hy op die oop veld sy beeste oppas, daardie eerste mens wat ek vermoor het. Later bou ons ’n hut en later ’n hartbeeshuis. En altyd, daar ver, die honde. Wanneer ons die veld fynkam vir Kafferbeeste, flits rooibruin vlekke in die hoeke van ons oë. Snags flits hul oë in die bosse om die opstal. My Hottentotte probeer hard om die honde mis te kyk. Niemand praat oor hulle nie, niemand verjaag hulle nie, niemand lê aan op hulle nie; God behoede die rotzak wat dit waag (Anker 2014:58).

Die hond- en wolfmotief blyk in hierdie roman ’n essensiële gegewe te wees. Ook in hierdie verband kan die voorblad egter misleidend wees. Met die trefferfilm Wolwedans in die skemer nog redelik vars in die geheue, mag die iStock-afbeelding van vier gevlekte hiënas (“wolwe” in die volksmond) wat dreigend vanuit eie geledere naderstaan, dalk die verwagting skep dat dit hier om iets soos ’n film noir-element gaan. Die spatsels rooi het in hierdie verband ’n versterkende effek.

Wat in Buys opgevoer word, is egter iets wat van ’n grondiger gruwelikheid getuig. Buys het die honde (wat mettertyd al meer wolf word) as seun “opgedoen” tydens ’n bloedige konfrontasie met ’n trop, waartydens hy die een se oor afbyt. Sy peetmoeder hou hom dae lank besorgd dop vir tekens van hondsdolheid en daar word aan die huisbediende gesê: “Die kind is sleg gebyt. Hy het iets aangesteek by die gediertes, maar wát, Mientjie, dit sal ek nie kan sê nie” (Anker 2014:26). Ná die voorval word die jonge Buys al sterker en sy tred lig: “Sien jy hoe ek die oggendlug ruik, my neus omhoog soos ’n snoet? Hoe ek opkyk voor enigiemand anders iets hoor?” (Anker 2014:25).

Om Buys die droster, die gevaarlikste man van die Kolonie, versamel algaande ’n groep drosters en uitvaagsels, wat inderdaad in eie reg trop word, gelei deur iemand wat soos ’n wilde hond gewetenloos handel.

Die honde stel ook moontlik die dood voor wat pal op Buys, die roekelose en alles-veragtende, se hiele sit, want Nietzsche het myns insiens van iemand soos Buys gepraat toe hy Zarathustra laat sê het: “I love those who do not know how to live unless by going under, for they are the ones who cross over” (Nietzsche 2006:7). Die hondse doodsgestaltes reis altyd mee, soos die lyster in Wallace Stevens se “Thirteen ways of looking at a blackbird” (wat boonop ook ’n sterk bewustheid van grense openbaar – “the edge / Of one of many circles”), maar die vrees wat in Stevens se gedig aangeteken word, ontbreek by Buys:

He rode to Connecticut
In a glass coach.
Once, a fear pierced him,
In that he mistook
The shadow of his equipage
For blackbirds. (DeRoche 1996:306)

Buys daag selfs die grens dood-lewe uit, en die tematisering van die dier en dierlikheid hou myns insiens ten diepste hiermee verband. Hierdie roman word omlys met dierlikheid, soos blyk uit die aanvang en slot, en word ingeklee met dimensies van die dier.

Die verhaal begin met ’n kursiefgedrukte opdrag en uitnodiging gerig aan die leser: “Kom en zie!” (Anker 2014:9). Hierdie woorde, wat verderaan in die openingsafdeling herhaal, is moontlik afkomstig uit die Openbaring van Johannes (Statenvertaling), en gegewe die konteks waarin hierdie interteks hier geaktiveer word, is die bedoeling moontlik dat iets meer spesifiek, soos vervat in bv hoofstuk 6 van Openbaring, hiermee opgeroep word. Vergelyk bv vers 7 en 8:

7 En toen Het het vierde zegel geopend had, hoorde ik een stem van het vierde dier, die zeide: Kom en zie!

8 En ik zag, en ziet, een vaal paard, en die daarop zat, zijn naam was de dood; en de hel volgde hem na. En hun werd macht gegeven om te doden tot het vierde deel der aarde, met zwaard, en met honger, en met den dood, en door de wilde beesten der aarde.

Ná die Bybelse openingsfrase waarmee die “heerskappy” van die dier moontlik op verhulde wyse geïntroduseer wil word, volg ’n beskrywing van die paargereed bloukop koggelman. En heel gepas, “agter die klipsalmander verrys ek [Buys] uit die rots” (Anker 2014:9), die wellustige rampokker en veelwywer deur wie se optrede as Khula die Grote, Koning van die Basters, ook iets van onbeteueld lewenskragtige hibriditeit gedemonstreer word: “Oorkant die grens is ons almal Bastaards, almal drosterhonde” (Anker 2014:343).

Die nomadiese leefwyse van die trekboer, vagebond en grootwildjagter word ten tonele gevoer met klem ook op die dissidente en die transgressiewe, en hier gaan dit oor meer as net opstand teen die koloniale bestel. Reeds as jong kind verlaat Buys die huis en steek daarna die een grens na die ander oor, die limiete toetsend en vertrappend. Doelbewus laat hy orde, geborgenheid en ingesetenheid agter – hy word drosterhond, soos dié in Peter Blum se gedig “Drosterhonde bo Oranjesig” uit sy grensversittende debuutbundel Steenbok tot poolsee uit 1955 wat deur middel van die motto voorin Buys opgeroep word:

Wat sou hulle makeer het, daardie brakke?
       Om weg te dros uit gawe buurte?

In Buys word die drosterhondmotief telkens weer uitgelig, maar ook gebalanseer met bv. dié van die swawels wat enersyds ook trekgeeste is en deur niemand gevang kan word nie (Anker 2014:40), maar in hul tweede hoedanigheid saamgelees kan word met WB Yeats se gedig “The stare’s nest by my window”, waarin daar teen die agtergrond van die vernietiging, bloedvergieting en onsekerheid van burgeroorlog die volgende herhalende uitnodiging met betrekking tot die spreeu se leë nes gerig word: “... honey-bees, / Come build in the empty house of the stare” (Yeats 1990:117). In Buys “kom en gaan [die swawels] saam met die seisoene en die reën” (Anker 2014:58), maar maak nes teen die dakke van die wonings waar die ewige trekker wel soms vertoef. Hulle skakel met iets huisliks wat tog in Buys gedoog word – soos hy dit stel, weliswaar met relativerende afstandname: “Die goed kwetter heeldag lank in hul nes, maar ek laat hulle begaan. Hulle is nie veel erger as die hoenders en die speenvark en katte en kinders nie” (Anker 2014:58).

Hierdie tipe besinning bevestig dat ons nie met ’n eensydige of gedagtelose karakter te make het nie. Hy is oneindig kompleks en onvaspenbaar. Dit was ook die indruk wat die historiese De Buys op iemand soos Hinrich Lichtenstein gemaak het, van wie ’n beskrywing van De Buys agterin die boek aangehaal word (Anker 2014:430). Lichtenstein skets hom as ’n indrukwekkende en buitengewoon lang man wat selfversekerdheid en waardigheid uitstraal: “Só sou ’n mens jou graag die helde van die Antieke voorstel, ’n lewende beeld van Herakles, ’n verskrikking vir sy vyande en ’n steunpilaar vir sy eie mense” (Anker 2014:430). Tog het hy ook eienskappe vertoon soos beskeidenheid, ingetoënheid en vriendelike hulpvaardigheid, maar dan ook weer geslepe ontwykendheid, soos Lichtenstein dit aangeteken het.

Buys realiseer sy grensverleggende impak juis deurdat hierdie roman tog in ’n bepaalde tradisie in die Afrikaanse letterkunde staan. Dit sluit aan by bv. André Brink se Bidsprinkaan (2005), en die karakter De Buys toon opvallende verwantskap met die 18de-eeuse rebel Etienne Barbier wie se lewe in onder andere Brink se Inteendeel (1993) en Zirk van der Berg se Wydsbeen (1992) verken word. Ofskoon Brink se Barbier as karakter ook veelkantigheid openbaar, onder meer danksy die drie op mekaar inwerkende reise wat hy onderneem, is hy myns insiens weens sy pikareske geaardheid, die ingeboude gewete-motief in die roman en die boetvaardigheid aan die einde (waarmee aan meer “konvensionele” verwagtinge voldoen word), die “mindere” van Buys, veral as mens Buys in terme van Nietzsche se morele filosofie lees – iets waartoe ek meen hierdie roman hom leen, indien hy dit nie doelbewus uitlok nie. Buys besit wel ook, soos Barbier, pikareske eienskappe, maar om hom ’n skelmkarakter te noem, sal reduserend wees. Hy groei uit tot iets veel groter en gruweliker.

Nietzsche (2006) neem in sy boek Thus spoke Zarathustra sterk standpunt in teen die tradisionele siening van en onderskeid tussen goed en kwaad. In hierdie verband merk hy op: “There is an old delusion called good and evil” (Nietzsche 2006:161). In sy boek uit 1886, Beyond good and evil: Prelude to a philosophy of the future, beweer Nietzsche (1973), sover ek hom kan verstaan, dat moraliteit vir die gepeupel as skaapagtige tropdiere bedoel is en dat hierdie slaaf-moraliteit ’n belemmerende invloed op die ontwikkeling van die mag en heerlikheid van die hoër tipe individu uitoefen en in daardie verband dan ook die meer fundamentele lewenswaarde ondermyn in diens waarvan juis dinge soos wellus, selfsug en bedrog soms staan (wat in konvensionele, klein-menslike terme immoreel sou wees). Net soos goed en boos by Nietzsche as relatief uit die verf kom en daar nie uitsluitsel is oor die werklikheidsgronde vir sy evaluerende uitsprake in hierdie verband nie, is wat hy as hoog en laag beskryf betreklik en fungeer dit eerder as retoriese konstruksies. Buys, die bandelose, kan binne die retoriese kader wat Nietzsche hier konstrueer, dalk wel as ’n hoër tipe enkeling gesien word, maar ook as laag, alhoewel laasgenoemde beoordeling waarskynlik eerder klein-moralistiese kondisionering by die leser mag verraai.

In On the genealogy of morals stel Nietzsche (1989) onder meer dat mense hulself ’n rat voor die oë draai deur daarvan uit te gaan dat hulle keuses en aksies op edele rasionele gronde berus. Hy wys op hoe ons eintlik van lyf uit, instinktief soos diere (behoort te) handel en onsself bedrieg met rasionele en moralistiese bedenksels. Die sekure aard van die instinkmatige word deur hierdie bedenksels en invloede ontkrag. Ons ly eerder aan ’n oormaat “beskawing” as ’n tekort daaraan. Dat dit in Buys om die spanningsverhouding tussen hierdie sake gaan, word bv gedramatiseer deur die sonderlinge vriendskap tussen Buys en die sendeling Kemp, want hulle het tog heelwat gemeen. Oor Kemp word immers gesê: “Hy soek besieling en onrus, elke druppel opwinding word uit die lewe gepars. Elke lieve prikkeling word bloots gery sover hy kan” (Anker 2014:163–164). Kemp vertel as bekeerling weliswaar met skaamte oor sy onbeteuelde verlede, “maar hoor net hoe praat hy oor sy dae in die donker stegies van Leiden en Den Haag. Hoor die nostalgie agter die selfkastyding, die verlange na elke hoerehut, elke sopie en vuishou” (Anker 2014:164). Daar leef iets ontembaars in Kemp voort, en hiermee kan Buys identifiseer. As Kemp later, kort voor sy dood, toegee aan die genietinge van die vlees, is dit tot groot genoegdoening van Buys: “Ja, wragtag, vir eens en vir oulaas en verdomp uiteindelik het jy jouself dit toe gegun om te swig. En wat vir ’n swigting was het niet! Ek treur nie oor jou nie, Jank’hanna, ek jubel mét jou. My vriend wat dood is vir altyd” (Anker 2014:300). Buys, soos Zarathustra, hou van die soort mens wat ondergaan om oor te gaan.

Trouens, Buys kies heel pertinent téén die makgemaakte, soos onder meer afgelei kan word uit sy reaksie op ’n stertswaaiende, trippelende plaashond: Hy klap die hond deur die bek want: “’n Hond met ’n naam is g’n godverdomde hond meer nie” (Anker 2014:33). In reaksie op Senekal se verweer dat Ore die beste skaaphond is wat hulle het, stel Buys: “Dis oor hy meer skaap is as hond” (Anker 2014:33).

Die dier en die dierlike is nie ’n heeltemal nuwe of vreemde tema in die (Suid-)Afrikaanse letterkunde nie. Dink maar aan die werk van NP van Wyk Louw, DJ Opperman en Etienne Leroux. Meer resent beskou, is daar onder andere JM Coetzee (bv The lives of animals en die rol van honde in Disgrace), Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper, Eben Venter se Horrelpoot en sy resente Wolf, wolf, asook die werk van Alexander Strachan, waarin die jag- en manlikheidsmotief soos in Buys sterk op die voorgrond staan. Buys/Alom-Buys toon ooreenkomste met die mitiese wit hartbees, Mhlope, in Strachan (2010) se roman Dwaalpoort: Mhlope wat oor alles troon en vanuit die misterieuse, heilige kloof almal en alles ken en deurskou. Veral hier ter sake is die hoë ouderdom en status van Mhlope, sy gespletenheid as werklike hartbees en leier van die trop maar ook as mitiese alomteenwoordigheid oor geslagte heen wat oor die plaas waak.

Die mitiese numineusiteit van die natuur is in Buys, soos in Dwaalpoort, ’n belangrike gegewe. Dier en landskap word in Buys amper een. Daar is in hierdie verband sprake van ’n soort mitologiese uitvergroting:

Hier waar die Melkweg span soos die ruggraat van ’n halfgevrekte vaal perd wat duiselend die gewelf oor De Lange Cloof bo hou. Vlaktes met rotsskilfers en sand soms rooibruin soos ou bloed en soms beenwit. In die noorde en die suide lê rye berge soos versteende olifante wat hulself uit die aarde opbeur en dan halfpad opgee en deur eeue heen weer deur bos en klip bedolwe word. Jy sien steeds die voue van hul skouers, die ou nekke en slap slurpe wat uitgeput myle ver oor die landskap uitstrek, maar wanneer jy dink jy hoor hulle sug, is dit net die wind. Die berghang is ruig, die klowe nat en begroei met varings. Die rotsriwwe gaap uit die groen vel van die ruggens (Anker 2014:12).

Die Visrivier word geteken in al sy geheimsinnige onpeilbaarheid en in terme van sy betreklikheid as grens. As hy in vloed is, is hy “’n verdomde gréns” (Anker 2014:59), maar soms kan jy sommer deurloop. Hoogs veranderlik dus: “Niemand stap twee maal deur dieselfde Visrivier nie” (Anker 2014:59). Die betreklikheidswaarde van grense, hetsy gemaak of geapproprieer, ook in (post)koloniale verband, word hierdeur dwingend aangetoon. Daaragter lê iets veel dieper en ouer. Die geheimnisvolle “omtes” van die Oosgrens laat Buys só redeneer: “As ek wonder oor die siel, lees ek oor rugstringe en magma” (Anker 2014:59).

Die roman sluit met die “uitvaert” van Buys, en hier, wees gewaarsku, liewe leser, verklap ek dus iets van die afloop: “Ons sien hom wegstap teen die tussenin-lig van vroegmôre” (Anker 2014:427). Die eens magtige en imposante Buys gaan nou ook maar die weg van alle vlees en verswak – met sy skeefgetrekte gesig en die kwyldraad aan die baard, is hy nie onverwant aan die swaksinnige Siegfried van Anker se debuutroman nie. Maar die aftakeling gaan nog verder. As “onmens” (Anker 2014:428) eindig hy, byna soos koning Nebukadnesar in die Bybel, en met die trop honde onmiddellik ook weer op sy spoor: “Toe die trop hom ’n halwemaan later weer sien, sluip hy op al vier pote, die geweer en kruithoring swaaiend onder sy pens. Sy pels hang los, sy kneukels bloei” (Anker 2014:427). Hy word verskeur en verslind in ’n toneel (die voorlaaste afdeling) wat sterk herinner aan die orgie van geweld waarin die eweneens in dierlikheid vervalle Koert in Eben Venter (2006) se Horrelpoot vermoor word, asook bv. die slagtonele in William Golding se Lord of the flies en in die film Apocalypse now. Terwyl eindigheid in Venter se roman ook deur middel van die kinderlose horrelpoot Marlouw (as verteenwoordiger van ’n soort Suid-Afrikaner) vooropgestel word, is daar aan die einde van Buys tog sprake van voortgang en oorgang: “’n Teef kokhals, bring ’n stukkie been op, hap dit dadelik weer. Die welpe byt na mekaar. Toe die sand warm bak, draf die trop die veld in op soek na die dun strepe koelte van ’n doringboom. Met skemer sal hulle verder trek” (Anker 2014:428).

Die uiteindelike sterfte van die stamvader word reeds aan die begin van die roman teenwoordig gestel as die leser attent gemaak word op die huisie van klip en harde biesies waarin daar gewerskaf word “om die sterwende lyf van ’n vader” (Anker 2014:12). Hierdie passasie roep vir my onmiddellik DJ Opperman se gedig “Nagwaak by die ou man” voor die gees, waarin die ou vader weliswaar sterwend is, maar met sy sterk en gesonde nageslag om sy bed verenig. Die slotstrofe, waarvan die eerste twee versreëls ’n gedeeltelike herhaling is van die twee openingsreëls van strofe een (“Maar wind sal waai, ’n otter blink sy kuil / verlaat en teen grasdrifsels snuif en huil”), lê die klem op wind en dier wat hul gang bly gaan, op die voortgang van die natuur en die geslagte, en die jongeling wat soos die “voorvaders met ruie baard” die stryd sal bly voer, ook teen dit wat altyd “ongekaart” sal bly (Opperman 1987:79).

Hierdie indruk van herlewing word in Buys versterk in die kort slotafdeling wat teruggryp na die romanaanvang waar onder meer gesê word: “Kom, laat ek jou besmet, my erflik belaste leser. As jy hier lees, sien jy wat ek sien. Ek sien alles. Ek is van alle dae, ek is onsterflik” (Anker 2014:9). Die leser word besmet (oftewel bevrug?) met die (on)sterflikheid. Die slotwoorde van die roman lui:

Kyk, daar verdwyn hy nou die bos in. Het jy gesien? Want dit was die laaste sien van Coenraad de Buys. Maar om dood te wees is nie genoeg nie. Soos gesmolte letters bly lê ek in die gruis sonder om te verweer. Ek is die distel. Die pis in die klip van die Uniegebou. Soos ’n trop honde vervang ek myself voortdurend. Julle raak my nooit kwyt nie.

Die skynbare onvanpastheid (inkongruensie) van die verwysing na die Uniegebou binne hierdie konteks, laat dieper betekenisimplikasies hier oopgaan. Die Uniegebou-verwysing mag bedoel wees om die Uniewording in 1910, toe Suid-Afrika eintlik die eerste keer as land sy beslag gekry het, op te roep. Daardeur word die betreklike nuutheid, die mensgemaaktheid en inderdaad verbygaande aard van daardie bestel, met sy arbitrêre provinsiale en landsgrense, gesuggereer en geplaas teenoor die sandsteen as oeroue gegewe. Die sandsteen waarvan die Uniegebou gemaak is, word in die Vrystaatse landskap, waar dit vandaan kom, gekenmerk deur die vlekke van baie jare se dassie-urine. Die “pis” verraai nie net die teenwoordigheid en aanteel oor geslagte heen van die dassies nie, maar dui ook op dit wat nie sommer hokgeslaan kan word nie, die onontkenbare domisilie van hierdie diertjies.

Ten slotte: Buys is vir my in sy hoof-“bewegings” die romanekwivalent van WH Auden se gedig “Our hunting fathers”, ook wat die ontginning van dieper betekenisimplikasies deur middel van (metaforiese) inkongruensie betref:

WH Auden

Our hunting fathers told the story
Of the sadness of the creatures,
Pitied the limits and the lack
Set in their finished features;
Saw in the lion’s intolerant look,
Behind the quarry’s dying glare,
Love raging for the personal glory
That reason’s gift would add,
The liberal appetite and power,
The rightness of a god.

 

Who, nurtured in that fine tradition,
Predicted the result,
Guessed Love by nature suited to
The intricate ways of guilt,
That human ligaments could so
His southern gestures modify
And make it his mature ambition
To think no thought but ours,
To hunger, work illegally,
And be anonymous? (Auden 1994:122)

In hierdie betreklik vroeë gedig van Auden word op retories kragtige wyse krities ingegaan op die gevestigde “tradisie” waarvolgens die mens bo die dier gestel en daarvan uitgegaan word dat die mens deur die Rede sy dierlikhede kan aflê (tem; onderdruk) en sodoende die hoër beskawingsideale kan bereik. In die tweede strofe word spesifiek, maar op vindingryke en funksioneel verhulde wyse, ingegaan op die seksuele “honger”, wat deur ingewikkelde skuldgevoelens aan bande gelê word. Deur die onverwagse beeld van die illegale arbeider uit die suide word die spanningsverhoudinge wat in die gedig ondersoek word, op die spits gedryf. Teen die agtergrond van die algemeen-bekende assosiasie van die suidelike met bv. warmbloedigheid, dui die “southern gestures” op die eie spontane (suidelike) gedrag waarop ’n demper geplaas word, en in die verlengde hiervan ook, by implikasie, die onbevange uitleef van die seksuele wat daar ónder, ook dus in liggaamlike terme “suid”, geleë is en as onaanvaarbaar (“onwettig”) beskou word. Die ironie wat hier uit die verf kom, is dat hierdie “tradisie” nie werklik die hoër verworwenhede (vryheid, glorie, mag, goddelikheid) help aktualiseer nie, maar eerder ’n nie-waaragtige staat van onversadigde honger, “illegaliteit” en anonimiteit in stand hou. Hiermee word Nietzsche se kritiek en visie geëggo.

Buys onderneem myns insiens op sy beurt iets vergelykbaars. Nietzsche se denke word hier opnuut, maar binne ’n totaal ander konteks as wat hy bedoel het, skrywerlike praktyk, en ook daardeur is Buys ’n teks wat grense tart.

Bibliografie
Anker, Willem, 2007. Siegfried. Roggebaai: Kwela.
Anker, Willem. 2014. Buys: ’n Grensroman. Kaapstad: Kwela.
Auden, WH 1994. Collected Poems: Edited by Edward Mendelson. London: Faber and Faber.
Blum, Peter. 1981 [1955]. Steenbok tot poolsee. Kaapstad: Tafelberg.
Brink, André P. 1993. Inteendeel. Kaapstad: Human & Rousseau.
Brink, André P. 2005. Bidsprinkaan: ’n Ware storie. Kaapstad: Human & Rousseau.
DeRoche, Joseph. 1996. The Heath Introduction to Poetry. Lexington: Heath and Company.
Nietzsche, Friedrich Wilhelm. 1973 [1886]. Beyond Good and Evil: Prelude to a Philosophy of the Future. Harmondsworth: Penguin.
Nietzsche, Friedrich Wilhelm. 1989 [1887]. On the Genealogy of Morals. New York: Vintage Books.
Nietzsche, Friedrich Wilhelm. 2006 [1883–1892]. Thus Spoke Zarathustra: A Book for All and None. Cambridge: Cambridge University Press.
Opperman, DJ. 1987. Versamelde poësie. Kaapstad: Tafelberg en Human & Rousseau.
Statenvertaling, Bijbel. http://www.speedbibleverse.com/dutch/B66C006.htm. Datum geraadpleeg: 1 Des. 2014
Strachan, Alexander. 2010. Dwaalpoort. Kaapstad: Tafelberg.
Van der Berg, Zirk. 1992. Wydsbeen. Kaapstad: Tafelberg.
Van Heerden, Etienne. 1983. My kubaan. Kaapstad: Tafelberg.
Venter, Eben. 2006. Horrelpoot. Kaapstad: Tafelberg.
Yeats, WB. 1990. Selected Poetry. Edited with an Introduction by A Norman Jeffares. London: Pan Books and Macmillan.

 


 

 

 

Lees 'n LitNet Akademies-resensie-essay van Buys.

Lees ook 'n onderhoud met Willem Anker oor Buys.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top