Biebouw-resensie: Blou trane deur Daniella Day

  • 7

Titel: Blou trane – my dwelmtrip
Outeur: Daniella Day
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799368192

Koop Blou trane – my dwelmtrip by Kalahari.com

Niks bring groter hartseer as ’n flenter lewe, verkwis deur drugs nie.

Daniella Day se Blou trane (My dwelmtrip) is net weer vir my ’n pynlike reminder van wat verkeerd kan loop as jou paadjie dié van dwelms kruis.

En vir iemand wat in sy blurry dae sélf onsigbare ice cream lorries overtake het, was dié boek ’n trip na die harde werklikheid waarvan baie van ons nie ’n benul het, of wil hê, nie.

Nes Lisa Combrink, ’n karakter gegrond op die dwelm- en rehab-ervarings van Day, het baie van ons vóór haar in die strik van ’n bedrieglike high getrap.

Aanvanklik is die skyn van bevrediging en belonging iets wat Lisa met albei hande aangryp.

Maar bitter gou tuimel sy in ’n spiraal van verslawing, gevaarlike situasies, prostitusie en ’n verwronge lewe gevul met niks nie in, en skuim vir “vriende”.

Dwelms en rehab is nie vir sissies nie – vra maar vir my.

En hoewel Lisa ná haar universiteitskoshuis-OD vasbeslote is om die mense vir wie sy die liefste is, nie teleur te stel nie, begin sy met ’n duiwel worstel wat nie ken van verloor nie.

Blou trane is nie net vir my ’n raak weergawe van hoe jy jouself kan verloor nie, maar vat die leser ook tot diep in die hool van dwelms en al die mal goed wat daarin plaasvind.

Ek kon nie die boek neersit nie. Diep binne my het ek gewens die verlore Lisa vind haar pad terug na die realiteit van die lewe, roetine en debietorders.

Ek het gewens dat sy deur die liefde van diegene wat in haar glo, sterk genoeg sal wees om die dwelm demon in sy tjops te stuur.

Maar ’n dwelmtrip is veels te dikwels ’n kar sonder brieke en superglue-modder op die windscreen: jy weet dat daar ’n goeie lewe buite rehab op jou wag. Maar jy sukkel om deur al die shit wat jy al aangevang het, te sien.

Sommige mag dalk die taalgebruik van die karakters as kru ervaar, maar die situasie en die verskillende karakters wat uitgebeeld word, is so realisties soos Kellogg’s en Weet-Bix in die oggende.

Tikkoppe, LSD-lovers en diegene wat male sonder ophou die dragon jaag, wandel nie met handskoene deur die lewe nie.

Soos in Lisa se geval maak dit nie saak of daar ’n loving ma, verliefde boyfriend of selfs beraders is wat omgee nie.

Jy gaan voort om jou toon teen dieselfde dwelm klip te kap – tot daai toon so suf soos jou dwelmbenewelde gemoed is.

Lisa wroeg deur haar verslawing en diepe hunkering na genesing. Tog is dit vir haar, wat soveel kinderdrome en ideale gehad het, ’n stryd om selfs met die hulp van denkbeeldige vriende van die dwelm-wa te spring.

Terwyl ek baie male in die verlede my gate uitgeniet het in die dwelmhole met skuim wat ek van geen kant af ken nie, het ek gewonder of mense daar buite bewus is van dié donker, sielstelende wêreld. ’n Wêreld waar jy nie suurstof en ’n skaduwee nodig het nie.

En Daniella se op-die-vrou-af-vertelling van ’n verlore siel se reis oor die afgrond is scary, maar so broodnodig.

Daar is baie Lisas en hul families daar buite.

Dit is my wens dat hulle dié boek nie net onder oë sal kry nie, maar die lesse daarin ter harte sal neem.

Soos Lisa immers self sê: “Nooit het ek gedink ek sal so laag daal nie.”

Ten spyte van sy scarygeid, is Blou trane hopelik die begin van hoop.

Want sien, hoe meer ons dwelmmisbruik uitlig vir die driehoring-duiwel wie hy eintlik is, hoe minder blou raak die seer waarmee ons ons loved ones se lewens mee vergal.

Dié is ’n boek wat ek beslis wéér gaan lees.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 7

Kommentaar

  • MARLENE COETZER

    Wat ek hier kortliks gelees het glo ek dit moet 'n wonderlike boek en 'eye opener' wees vir enige iemand wat al deur hierdie 'demoon' vasgevang was.  Wens ek kon bekostig om hierdie boek vir my seun van 23 aan te skaf.  Hy was vroeg in die jaar in 'n rehab, skaars terug toe val hy weer.  Ons het al almal "Blou Trane" hieroor gestort.  Ek weet nie meer wat om te doen.  Ek en sy pa is jare terug geskei en hy bly by sy pa in 'n woonstel aan die huis, of ten minste het daar gebly.  Nou by sy pa in die huis, sy foon is weggevat, sy kar en soveel meer.  Hy het 'n courier-besigheid gehad wat ten gronde gegaan het as gevolg van dwelms!!!! Deur duisende rande van lenings, kredietkaarte ens agterstallig geraak en nie kan betaal.   Werk nou weer by sy pa se Ingenieursfirma, wat hy nie eintlik wil doen want dit is nie in sy belange.  Ek kan sien hy distansieer homself van almal en als.

     

    Gee tog raad asseblief

     

    Groete

    Marlene

  • Hi Marlene

     Ek sal vir jou 'n boek pos.

     Waarna kan ek dit pos?

     Ek weet hoe jy voel. Dis 'n verskriklike plek om te wees, veral as dit jou kind is.

     Waar woon julle? Sal baie graag met hom wil praat.

     Sterkte en moet nooit ophou bid nie.

     

     

     

  • Hannelie Smith

    Ek is tans besig met 'n skryfkursus waar uittreksels uit Blou Trane deel vorm van die modules. Dit het my geweldig aangegryp want ek kon dit herleef met 'n geliefde wat ook daardie pad gestap het. Ek sal egter baie graag die boek wil lees, maar kan dit nie nou bekostig nie. Hierdie is 'n duidelike "boodskap" wat herhaaldelik gelees kan word en ek gaan dit beslis op my wenslysie plaas.

  • Hallo, ek het die boek bestel van PNA en het die boek klaar gelees ... my seun is vandag nege maande "skoon". Ek wil die boek vir hom gee om te lees maar is nie seker of dit 'n goeie uitwerking op hom sal hê nie?

  • Ek soek bitter graag die boek. Ek het al probeer kyk of ek hom nie by iemand kan kry of aflaai op pdf nie. My pa was 'n dwelsmverslaafde vir 22 jaar. Hy is tans agt jaar skoon maar die laaste drie maande is storms in ons lewe! Hy is gediagnoseer met bipolêre versteurings en depressie. Ons gesin het in die laaste twee maande meer trane gstort as ooit voorheen, hy is gelukkig oop en eerlik en soek hulp voor hy terugval!

  • Marissa Coetzee

    Hi Rozette. Ek is baie jammer om te hoor van jou pa. Dis great dat hy oop en eerlik is en hulp soek. Ek sal sê dat Blou trane hom wel 'n blik op die lewe van 'n dwelmverslaafde sal gee en boonop sal dit jou help om jou pa dalk beter te verstaan, maar Hykie Berg se boek - Storie van Hoop wat die jaar 16 Augustus gelaunch is, is dalk 'n beter opsie. Dit het die NA Stappe waardeur jou pa kan werk. Baie sterkte daar. Groete Daniella Day (Skrywer van Blou trane)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top