Hello Bibi
Ek’t jou onderhoud met Chris Chameleon baie geniet.
Ek wil graag die onderhoud gebruik as ’n teks vir ’n toets. Ek bied Afrikaans as hoofvak aan vir onderwysstudente. Kan jy vir my sê hoekom die onderhoud als in kleinletters geskryf is?
Dankie!
Tanya Jansen


Kommentaar
Hallo Tanya
Ek is bly om te hoor jy het die onderhoud geniet. Dit is 'n interessante vraag, en ek kan jou net tot op 'n punt antwoord. Ek vermoed ons proefleser het besluit om Chris se antwoorde in kleinletters te los, omdat dit duidelik is dat Chris bedoel het om dit so te skryf. Hy het nie hier en daar nagelaat om hoofletters in sy antwoorde te gebruik nie - hy het dit uitsluitlik in kleinletters beantwoord.
Daar is nog 'n voorbeeld van so 'n onderhoud op LitNet: Cari Coetzee se onderhoud met die digter Andries Samuel lyk dieselfde. Kyk gerus hier: http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=99103&cat_id=0 Jy sal ook in Andries se bundel Wanpraktyk sien dat daar heelwat gedigte is waarin hy ook net kleinletters gebruik.
Ek vermoed dit is maar net 'n gewoonte vir hierdie skrywers.
Ek dink dit is eintlik redelik algemeen in die Afrikaanse digkuns, maar ek is nie 'n kenner van tipografiese truuks en dies meer nie. Ek kan ook nie vir jou sê of die skrywers iets spesifiek daarby bedoel nie.
E.E. Cummings, die Amerikaanse digter, is waarskynlik die mees bekende voorbeeld van iemand wat baie pertinent met die konvensies van hoofletters- en kleinletters speel. Hier is sy Wikipedia-bladsy http://en.wikipedia.org/wiki/E._E._Cummings. Daar is ook 'n interessante artikel hier wat juis oor hierdie saak by Cummings gaan.