Hallo Ian
Ek verwys na jou makabere en snydend realistiese maar uitstekende brief van 11 deser.
Dit het my herinner aan 'n opmerking van 'n medestudent terwyl ons wag vir 'n outoppie om in die bus te klim. My pel het gesê "got ek het nie tyd vir 'n oumens nie, ek stamp hom sommer uit my pad uit!" Dit was 42 jaar gelede – ek reken sy filosofie het intussen verander. Ook het dit my laat dink aan die antwoord op die vraag van 'wie wil nou 90 word?' naamlik: Vra die ou wat 89 is.
Maar ek het 'n beter idee as Cupcake se Smarties: Bewimpel 'n wêreldoorlog, almal is in 'n staat van oorlog en die ouens wat opgeroep word is wat, sê vir so 10 na 12 jaar afgetree is en dit geld vir al die lande. Die slagveld is die wêreld se woestyne en/of onbewoonde gebiede en daar bivouac die outoppies dan na hartelus. So nou en dan skiet een miskien 'n ander raak maar teen daardie ouderdom is niemand meer lus vir rondhardloop en sulke macho-goed nie. Die army sorg vir kos, klere en bier en heelwaarskynlik sal vriend en vyand saam aand vir aand sit en drink, miskien 'n veldslag beslis met skaak of dambord of ludo of so-iets. Op die manier is hulle versorg en uit almal se pad.
Een iets wat jy genoem het is 'n ding wat my nog altyd pla naamlik dat die name van ouetehuise en aftree-oorde altyd dui op die einde; name soos Westerglim of Herfsblare of Golden Harvest, die soort van ding. Selfs al is 'n ou nog vol lewe word sy lus vir einste weggevat as hy na so'n plek moet verhuis; dis so al asof daar 'n opdrag is dat hy voete eerste sal uitgaan. Uiters ontaktvol, die naamgeëry.
Groetnis
Jan Rap

