“Gaan. Jy kan nie vir ewig bly vasklou aan iets wat nie meer bestaan nie.” Waar woorde, maar ongevoelig. Wil my beste vriendin na amper twee jaar steeds nie verstaan nie?
“Jy is die een wat altyd sê dinge gebeur met ’n doel,” verdiep sy die pyn in my hart.
“Gesê het,” help ek haar reg. Na daardie dag soek ek nog steeds die doel van wat gebeur het.
“Jy wou nie inskryf vir die kompetisie nie en nou het jy dit gewen. Dit sê mos alles.”
“Goed, goed, ek sal gaan,” stem ek in en ontsnap so van haar woorde wat soos ’n waterval op my neerstort.
“505 kilometer” kondig die gids net buite Malmesbury aan. Ek deel nie in die opgewonde geselskap van die ander toeriste nie.
“Oh man,” juig ’n jong man, “drie dae op die Oranje, roei tot elke spier in jou liggaam pyn, slaap onder die sterre. Wat wil ’n man dan nou meer in die lewe hê?”
Ek kan jou vertel, sug my binneste, maar my lippe bly opmekaar gepers. Wat is hierdie eintlik vir my? Jou reis na bevryding, het Delia bemoedigend opgemerk toe sy my vanoggend groet. Is dit wat ek hoop om te vind? Bevryding? Begrip? Vrede? Aanvaarding?
Kortby Garies is die aarde in oranje getooi. Die son gooi sy strale mildelik oor die gousblomme wat dit met dankbaarheid aanvaar en hul prag in ruil daarvoor teruggee. Ek neem ’n foto op my selfoon en stuur vir Delia. Dis wat Jonathan probeer beskryf het, voeg ek kommentaar by.
My gedagtes dwaal terug. Ons planne was so anders. Hy het pas sy opleiding as gids voltooi. Die werk by ’n vakansiekamp in Vioolsdrift was sy eerste tree in die rigting van onafhanklikheid, van selfsorg, van ’n toekoms begin bou, vir ons. Trapklippie, het hy spottenderwys na hierdie werk verwys. Dit was net die begin van groter dinge. Hy was ’n uitstekende toergids met ’n blink toekoms.
“Vir jou.” Die jongman se woorde ruk my terug na die huidige. Hy hou ’n paar gousblomme uit na my.
“Het jy agtergekom dat ons stilgehou het?” vra hy.
Ek skud my kop, neem die blomme by hom, druk dit teen my vas. “Jou bruidsruiker moet gousblomme wees,” het Jonathan uitbundig aangekondig. “Het jy geweet dat dit die mooiste blomme in Namakwaland is?”
“Sal nie weet nie,” het ek gelag. “Jy vergeet dis ’n deel van die wêreld waar ek nog nooit was nie.” Hoe opgewonde was ek nie vir daardie eerste kuier op die oewer van die Oranje nie. Alles was beplan, behalwe dit wat ons nie kon voorsien nie.
Ek raak aan die slaap met opgewonde toeristestemme in my ore.
“Kom, kom, jy gaan nie die hele geskiedenis deur slaap nie.” Die stem is bekend. Dis die jongman met die ruiker gousblomme. Ek glimlag deur die slaap, rek my uit en klim uit.
“Dis die Klipkoppie kondig die gids aan. Dis gedurende die tweede wêreldoorlog deur die boere gebruik as ’n fort. Oorblyfsels van die klipmure is steeds waarneembaar.
"Wêreld van oorlog, wêreld van swaarkry, wêreld van verlies, kom die gedagte by my op voordat ek in die bus klim en alleen wag vir die laggende toergroep.
Ons bereik die grenspos waar ons links draai op ’n stamperige, stowwerige pad. Aquacade begroet die bordjie ons. Die knop in my keel raak te groot vir wegsluk. Ek blaai op my selfoon, vind die foto wat Jonathan amper twee jaar gelede vir my gestuur het, druk die selfoon teen my vas. Ek kyk by die venster uit. Trane vind hul weg teen my wange af. Ek probeer so hard om nie te huil nie. Ons ry oor ’n kanaal, langs ’n hoë leivoor met groen lusernlande aan weerskante van ons. Die bussie kom onder ’n boom tot stilstand. Dit bied beskerming teen die hitte. Die sonbesies sing eentonig in die bome.
Ons pak uit, slaan tente op. Die gousblom-kêrel bied aan om te help. Ek wys sy hulp vriendelik van die hand. Die donker daal neer en die sonbesies raak stiller. Die knetterende vuur en die reuk van braaivleis laat my vir ‘n oomblik vergeet van die Oranje, van die draaikolk, selfs miskien van Jonathan. Ek stap nader na die vuur, maar draai om net voordat die beskerming van die donker wyk. Ek is nie lus vir lag en skerts nie, was vir die afgelope een jaar, agt maande en drie dae nie.
Ek kruip in my slaapsak. Slaap bly so ver weg soos die sterre wat skitterend uit die hemelruim hulle dowwe lig aan die aarde skenk, maar toe almal later stil is, besef ek ek moes tog aan die slaap geraak het. Ek draai rond, verplaas my gewig van my sy na my maag, na my ander sy, na my rug.
Dankbaar verwelkom ek die eerste teken van dagbreek. Die horison is oranje-rooi, die lusernlande heldergroen, die sonbesies hervat hul liedjie van die vorige dag en die toeriste kwetter soos ’n swerm voëls.
Ons word aan die gids van ons driedae-lange toer bekend gestel. Hy sit die reis sorgvuldig uiteen, verduidelik hoe alles werk, waarsku teen gevare, veral draaikolke. Ek knik instemmend. Ek weet, ek weet van draaikolke al het ek nog nooit in een beland nie. Ek weet wat dit aan ’n lewenslustige jongman met baie drome doen.
Dis eers toe ek die gids se dringende gebare sien, dat ek besef dat ons in gevaar verkeer.
“Iets is verkeerd,” merk ek teenoor my roeimaat op.
Dit voel of ’n reuse-suier ons inslurp tot ver, ver onder die rivierbodem. Ek klou aan die roeiboot vas terwyl ek besef dis die einde van my lewe, soos dit die einde van Jonathan s’n was.
Dan voel dit of ‘n hand ons uit die draaikolk pluk en vir ’n oomblik kan ek sweer ek sien Jonathan se gesig.
“Dankie vir lewe,” bid ek toe die gids my veilig op die oewer uitdra.
Ja, ek moet weer begin lewe, vir myself, maar ook vir Jonathan.

