Beste Angus

  • 0

Jammer vir die onbedoelde vertraging met my antwoord. Jy vra: “Ek sou graag wou weet hoe sien jy die verskil tussen ’n gelowige sielkundige se behandeling en dié van ’n sielkundige wat nie glo aan die bonatuurlike nie.”

Kom ons veronderstel ‘n pasiënt wil hulp soek oor sy geloofsvertwyfeling by ‘n sielkundige. Nou, mens kry ‘n verskeidenheid sielkundiges van pastoraal tot ateïsties. Die pastorale sielkundige sal sekerlik openlik met Bybelse raad mag omgaan, en die pasiënt behoort ook daarop bedag te wees. Die nie-pastorale sielkundige behoort nie direk sy oortuigings te predik nie, maar die gelowige sielkundige sal sekerlik erkenning wil gee aan ‘n “bonatuurlike krag of mag” wat mens nuttig sou kon gebruik. Onthou die sielkundige is in hierdie situasie die leermeester, die wysgeer, en gee daarmee die subtiele boodskap daar is “iets daarbuite”. Die probleem kom omdat op die lang duur die pasiënt steeds daagliks blootgestel bly aan verskeie geloofsoortuigings en gedurig hulle moet evalueer teenoor die “iets daarbuite”, en dit gaan dan weer spanning veroorsaak.

Sielkundiges wat nie aan die bonatuurlike glo nie en self deur die geloofskwessie gewerk het sal waarskynlik baie van dieselfde terapeutiese metodes gebruik maak maar dit oor die boeg gooi van wetenskaplike bewese metodes en dat hulp deur jouself en deur interaksie met ander mense kan kom en nie vanaf “iets daarbuite” nie.

Ek onthou ‘n jong Sjinese vrou wat eenkeer as ‘n gids vir ons opgetree het. Op ons vraag waaraan sy glo was die antwoord kort: “I believe in myself.”

Wanneer die pasiënt sou meedeel dat hy twyfel oor geloof sal die ongelowige sielkundige hom daarmee kan help en ondersteun en die remmende skuldgevoel van vertwyfeling kan elimineer met wetenskaplike redes. Ek is oortuig dat geloof ‘n outomatiese gevolg is in enige samelewing wat nie wetenskaplik en rasioneel georden is nie, en die meningvormers in so ‘n samelewing gebruik dit baie maklik om hul oortuigings te versprei. En ek verwys hier nie net na die Christelike samelewings nie. Sien gerus ‘n vorige skrywe van my hieroor.

Ek herhaal dat baie mense se gelowe onskadelik is, en dat hulle dit as ‘n kruk nodig het, maar sommige, ook hier op SêNet, se geloof is so uit pas met die moderne wêreld, dat mens twyfel aan hul gesonde verstand.

Groetnis,

Pro-dink

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top