Besoek aan my hartland

  • 1

Wanneer 'n mens na jare besoek aan jou jeugland bring, is daar sekere dinge wat opval. Daar is bv voorwerpe en gebeure wat jy gedink het vergete was, wat helder herroep word. Daar is ook die bekende gewaarwording dat die dorp en omgewing baie kleiner, meer kompak, is as wat jy dit voorgestel het. Onvermydelik is daar ook die opwelling van nostalgie of heimwee oor wat was en nie meer is nie.

Baie faktore werk mee om jou te laat besef dat wat eens jou plek was, jou nie meer ken nie. Tyd het verloop en daar is geen manier om die verval te keer en van hierdie elemente te herstel nie. Daar word dikwels van die agteruitgang van die natuur gewag gemaak. Dit het meesal betrekking op die natuurlewe. Die kontoere van die berge, heuwels en riviere, en soms selfs die natuurlike plantegroei, bly egter grootliks behoue. Dit is veral die mense en wat hulle tot stand gebring het wat vernietig is of skade gely het.

Tydens my dagbesoek het ek seker die meeste van die tyd in die twee begraafplase deurgebring. Baie van die name kon nie beelde van indiwidue by my oproep nie. Maar op heelwat van die ander grafstene is daar name wat herinneringe aan lewende mense opgetower het. Nie een van die dooies het op my teenwoordigheid gereageer nie. Almal het gedwee onder die marmerblokke en granietklippies gebly. Dit was net ek wat daar die werklikheid ervaar het, sowel rasioneel as emosioneel. Eens was die dooies hardwerkend of lui, optimisties of pessimisties, grootdoenerig of beskeie, vrolik of treurig, ryk of arm, ens. Nou is hulle almal gelyk. Wesenlik is daar geen onderskeid nie, want nie een van hulle is meer nie, behalwe hier en daar, af en toe, in die geheue van oorlewendes.

Die huidige toestand van dit wat dié mense tot stand gebring het, is ontstellend. Ek en hierdie dooies het 'n dorp geken wat mooi en skoon was; 'n toonbeeld van beskaafdheid. Dit was 'n dorp vol Afrikaanssprekendes, wit en bruin, met al die sakeondernemings in Afrikanerbesit, behalwe 'n enkele Joodse en een Ierse winkelier. Sedertdien is baie van die winkels deur immigrante uit die noorde van Afrika en uit die Verre Ooste oorgeneem. Die klandisie kom deesdae hoofsaaklik uit die Oos-Kaap en vanoor die Limpopo. 'n Eens pragtige Bolandse dorp en vallei, wat ek graag met trots my kinder- en jeugland genoem het, het nie die invloed van die nuwe Suid-Afrika vrygespring nie. Dit simboliseer nou ons "bevryding". My skool het 'n toonbeeld van rasse-integrasie geword. Dit voldoen aan die tydgenootlike ideaal: Die land se demografie moet in die skoliere weerspieël word. Maar die land reflekteer nie meer die ideale van hulle onder wie se leiding ontwikkeling plaasgevind het nie.

Daar is diegene wat redeneer dat niks hieraan verander kan word nie; dat sulke toestande aanvaar moet word; dat hieroor nie gesanik of geween moet word nie; dat wat was, was. Die waarheid is egter dat wat was in 'n sin steeds is; dat wat mooi was vir 'n esteet mooi bly; dat wat beskaaf was vir die ontwikkelde mens steeds onontbeerlik is. Toegegee, die dooies draai nie werklik in hulle grafte om van verontwaardiging nie. Maar dit is omdat hulle nie die huidige verval waarneem nie. Hierdie skrywer merk die agteruitgang hier en elders op en is in sy diepste wese ontstoke. Om 'n dorp en 'n land op te donder, kan nie 'n "goeie ding" wees of "geregtigheid" genoem word nie. As al die getuienis in ag geneem word, bly ek onoortuig dat die land vir die meeste inwoners sedert 1990/1994 'n beter plek geword het. Nog minder kan ek aanvaar dat die plaaslike omstandighede vir almal vorentoe al hoe beter gaan word. Ou inwoners van daardie dorp kan getuig dat ek destyds nie onder 'n kalkoen uitgebroei is nie.

Johannes Comestor

  • 1

Kommentaar

  • ek dink die verval is nie so sleg nie. verstaan my mooi: ek bedoel nie dat ek hou van die verval nie maar tog hou ek daarvan dat dit gebeur. want op 'n manier is dit wat die juigkommando belowe het nooit SAL gebeur nie. Nou weerklaag hulle en trek laer in duur golfestates.

    Soos my ou Dok T altyd beduie: Kom ons hou op praat oor hoe sleg hierdie bose regime is (want ek dink hulle kom baie naby aan mugabe) en gebruik die tyd eerder om planne te maak hoe om geld uit hulle te maak en hul stelsel te ondermyn.

    Praat met hulle gaan nie help nie want hulle het doodgewoon 'n klaar uitgewerkte agenda. praat oor hulle nog minder want die meeste is funksioneel ongeletterd met grade en al. baklei en raas gaan nie help nie want die burgers dink met 'n 60% plus meerderheid hulle is cool en het hulle dus bemagtig.

    maak geld uit hulle. steel waar jy kan wat jy kan van die regime. koop om terwyl jy nog kontant het. belieg die regime. belangrikste egter: hou verdomp net op om te GEE: Tyd: 67 minute(!!!), geld (vir bedelaars), en mag deur aan die stelsel deel te neem en dit dus te wettig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top