
https://pixabay.com/photos/butterflies-bug-nature-wildlife-3315055/
"Afrikaans pleit vir meesterwerke om in Afrikaans ver-taal te word totdat dit ver-vel (Breytenbach). Dan kry dit ’n eie, unieke en vars ritme."
Cas Vos het, aan die hand van sy eie werk en ander relevante tekste, oor hierdie onderwerp geskryf. Alle aanhalings in die artikel word met die nodige toestemming deur die skrywers en uitgewers geplaas.
Besinning oor taal en ver-taal I
- Cas Vos, Navorsingsvennoot, Departement Ou Testament, Teologiese Fakulteit, Universiteit van Pretoria
In hierdie artikel word die verskillende teorieë wat vertalings ten grondslag lê, nie ontleed nie (vgl hieroor Vos 2021:74–6). Catherine du Toit het oor vertaling ’n uitstekende bydrae gemaak (Du Toit 2019:152–77). Elke vertaling/omdigting moet op sy eie meriete beoordeel word. Solank die dolcezza en armonia van ’n gedig, vrye vers of vertaling behoue bly. In ’n vertaling mag daar vars asem oor die teks geblaas word. Solank dit nie die oorspronklike teks in ’n ander rigting waai nie. Die volgende woorde van Dante mag nooit uit die oog en hart verloor word nie: “E però sappia ciascuno che nulla cosa per legame musaico armonizatta si può della sua loquela in altra transmutare sanza rompere tutta sua dolcezza ed armonia” (Convivio I V11:14; Die Gasmaal). Daarom is dit belangrik om te besef dat niks wat harmonieer volgens die digkuns se reëls, vertaal kan word uit die moedertaal na ’n ander taal sonder om al die soetheid en harmonie te verwoes nie.
...........
Afrikaans pleit vir meesterwerke om in Afrikaans ver-taal te word totdat dit ver-vel (Breytenbach). Dan kry dit ’n eie, unieke en vars ritme.
.............
Afrikaans pleit vir meesterwerke om in Afrikaans ver-taal te word totdat dit ver-vel (Breytenbach). Dan kry dit ’n eie, unieke en vars ritme.
1 Transkripsie van Psalm 23
Daar word eers aandag aan ’n transkripsie van die Hebreeuse teks gegee. Vervolgens ’n vertaling daarvan. Die liedteks van TT Cloete word daarna verken (Liedboek van die Kerk 2001).
- Jhwh roo’i
lo echsaad. .... (volledige aanhaling in PDF-dokument wat hier onder afgelaai kan word)
2 Vertaling van Psalm 23
- Die Here is my herder,
ek kom niks kort nie. .... (volledige aanhaling in PDF-dokument wat hier onder afgelaai kan word
Psalm 23 is getranskribeer en vertaal ten einde TT Cloete se rymende omdigting te beoordeel (vir Psalm 23 vgl Schuman 2002:26–7; Vos 2020:634–48).
TT Cloete se omdigting van strofe 2a: “Ek sal die dood se donker dal nie vrees nie,” wyk af van die Hebreeuse teks. Dáár staan: “[...] hoef ek geen onheil te vrees nie.”
Die onheil kan ook op aardse lyding en onrus dui.
Die “goedheid en guns” van die Hebreeuse teks (reël 6) word deur Cloete as voorspoed aangedui. Goedheid en guns is egter veel meer as net voorspoed (Vos 2015:31).
“Ek bly by U, Heer, […]” (strofe 3, reël 5) skep ’n ander betekenis as die Hebreeuse teks (6b). Die Hebreeuse teks (6b) dui op “terugkeer” en nie “bly” of “woon” nie (Schuman 2002:27). Die Hebreeuse vertaling lui:
Slegs goedheid en guns bly my volg
al die dae van my lewe.
Ek sal dan terugkeer na die huis van die Here
tot in lengte van dae.
Cloete se omdigting in strofe 2d: “[E]n in u hande sal ek altyd veilig bly,” is ’n treffende uitdrukking van die Hebreeuse teks:
Uself is immers by my! (4d)
Dit moet in gedagte gehou word dat vers 4 uit ses woordgroepe, twee digreëls en een strofe bestaan (Schuman 2002:31). Die sin: “Uself is immers by my!” vorm die middel van die psalm as geheel. Dit kan die hartklop van die psalm genoem word.
Die Hebreeuse uitdrukking: “U stok en u staf / dit is vir my tot troos” (4e–f) gee die wyse aan waarmee die troos aangebied word. “U stok en u staf” bied beskerming teen gevare. Hierdie bedoeling en betekenis kom egter nie in die Cloete-omdigting voor nie.
Dit moet daarmee gereken word dat die digtershand van Cloete in toom gehou is deur musikologiese eise. Dit het ook ’n invloed op die rymwoorde, die sintaksis en die woordorde. Selfs die gebruik van metafore word daardeur beïnvloed (Vos 2015:35). Van Rooy en Strydom (onderskeidelik) (2008:497; 1994:257–58) toon aan dat die saak van woordtoonverhouding van die grootste belang is by die skep en beoordeling van ’n berymde psalm. Die kommunikasie van die kerklied word immers gedra deur die woorde en die melodie (Van Rooy 2008:301). Aan dié vereistes het Cloete uitnemend voldoen.
3 Vertalings van Dante se Inferno volgens verskillende rymskemas
Daar kom ’n verskeidenheid vertalings wat Dante se terza rima-rymskema behou. Robert Torrance volg ’n terza rima-rymskema. Robert Pinsky gebruik ’n milder vorm van die terza rima-rymskema. Daar kom by hom ’n gewysigde vorm van die terza rima-rymskema en gewone rym voor. Daar is prosavertalings (Janssen, Sinclair, Singleton, Durling, Krüger) en vryeversvertalings (Robert en Jean Hollander, Rob Brouwer, Peter Thornton).
4 Drie verskillende vertalings van Dante se Inferno in Afrikaans
JS Krüger se prosavertaling van die Inferno is voortreflik. Al is dit in prosavorm vertaal, is dit brongetrou. ’n Vertaling wat nie voorgee om poësie te wees nie, maak in baie gevalle gebruik van ’n indeling van die teks volgens versreëls, wat bloot ’n inhoudelike strukturering verteenwoordig.
Delamaine du Toit het dit uitstekend gedoen. Hierdie vertaling kan in die kategorie van vryeversvertaling gereken word. Die groot wins van Du Toit se vertaling is dat dit, benewens dat dit die eerste Afrikaanse vertaling is (1990), die deur na Dante se canti oopsluit. Sy vertaling is teksgetrou en ’n waardevolle bydrae tot die vertaling van Dante se La Divina Commedia in Afrikaans. Die teksgetroue vertaling is egter soms sintakties mank. ’n Voorbeeld hiervan is canto v, reëls 133 en 134:
Toe ons lees hoe die soveel begeerde glimlag
’n soen kry van so aansienlik ’n minnaar
Dit is jammer dat daar talle taalfoute in Du Toit se vertaling voorkom. In canto v, reël 74 moet “gesêls” “gesels” wees; in reël 90 moet “agterlaat” “agtergelaat” wees; en in reël 141 moet “gewoord” “geword” wees.
5 Verklarende aantekeninge van canto v, 73–142
Dit is steeds Goeie Vrydagaand. Dante en Vergilius betree nou die terrein van die verlore siele. In hierdie tweede sirkel woed ’n ewige storm. Dit is ’n simbool van die hartstog waarvan die verdoemdes in hierdie kring slagoffers geword het. Die storm voer die verdoemdes deur die lug mee. Nie alle wellus word hier gestraf nie – slegs verbode en matelose wellus wat die rede verdoof het (39). Daar is twee groepe verdoemdes: Die een groep word aangevoer deur die wellustige keiserin Semiramis en die ander deur Dido, die koningin van Kartago (61), wat haar gelofte teenoor haar eggenoot Sichaeus verbreek het. Toe Dante twee skimme sien wat liefdevol na mekaar toe vlieg, vra hy vir Vergilius of hy met hulle mag praat. Dan volg die beroemde passasie wat as die Lamento aangedui kan word. Dit handel oor die liefde tussen Paolo en Francesca. Dante was in sy laaste lewensjare ’n gas van Guido Novello da Polenta. Hy was die heer van Ravenna van 1316 tot 1321, en ’n neef van Francesca (73).
Hier begin die episode van Paolo Malatesta en Francesca da Polenta. Dante verwys waarskynlik na die ware verhaal van die aristokratiese Francesca da Polenta en Paolo Malatesta. Hulle het in Dante se jeug in ’n opspraakwekkende moord hulle lewens verloor. Francesca is in ongeveer 1275 om politieke redes (die versoening van hulle families) met Gianciotto Malatesta, die prins van Rimini, getroud. Hy het ook as “die Kreupele” bekendgestaan. Sy raak betrokke in ’n liefdesverhouding met sy jonger broer Paolo. Haar man vind dit uit en vermoor albei in die familiekasteel Gradara, ongeveer 30 kilometer van Rimini af (Lansing 2000:409–14). In die hel word Francesca nie meer toegelaat om te bid nie. Dante se verwysing na die ligte reis op die wind (79) wys daarop dat hy selfs onder sy haglike omstandighede nog van die bekoorlikheid en aantrekkingskrag van die romantiese liefde bewus bly.
Hierdie verhaal is waarskynlik die ontroerendste in die hele La Divina Commedia en het wyd aanklank gevind. Om vier voorbeelde uit die kunswêreld te noem: In 1889 het Rodin sy Francesca da Rimini geskep (later is dit herdoop tot Le Baiser en onderskei van die komposisie La porte de l’enfer). In 1914 is ’n opera, Francesca da Rimini, van die Italiaanse komponis Riccardo Zandonai (1865–1944), op hierdie canto gegrond, vir die eerste keer uitgevoer. Frank Dicksee het in 1894 ’n olieverf skildery, Paolo and Francesca, gemaak. ’n Film, Paolo e Francesca, is in 1950 deur Raffaello Matarazzo vervaardig.
Dante se karakters is wesens van vlees en bloed, mense wat deur die krag van die liefde meegevoer word. Dante, wat self die pyn van die liefde ervaar, word diep geraak deur die tragiek van Francesca en Paolo se liefdesgeskiedenis. Hy is ook intens bewus dat die pad van die liefde na afdraaipaadjies kan lei. Hoe sal hy ooit vir Beatrice vergeet?
In hierdie hartroerende verhaal word die teenstrydighede van die liefde blootgelê. Francesca hunker na die goeie tyd saam met Paolo, maar haar wrewel teen hom kom ook aan die lig. In die hel word die liefdesvlam geblus. As aristokratiese dame praat sy verfynd, en Dante, die pelgrim, swig daarvoor. Maar Dante, die nugter digter, suggereer haar bitterheid, ydelheid, selfsug en selfverontskuldiging. In die gees van haar tyd stel sy die liefde as ’n onweerstaanbare mag voor. Sy aanvaar nie haar verantwoordelikheid en skuld nie. En tog koester die leser die liefdeswaansin van Francesca. Dante spreek die verliefdes nie vry nie, maar sy oordeel is getemper deur die liefde. Die liefde dra en verdra byna alles. Drie keer word “Amor” aan die begin van ’n reël geplaas (100; 103; 106). Hiermee kom Dante se komposisievernuf en drif aan die lig. Beatrice bly steeds die koningin van sy hart (81). Hierdie sin beteken “as God dit toestaan” (97–8).
Ravenna is Dante se geboorteplek. Dit is naby die delta waar die Po-rivier in die Adriatiese See uitmond (100–1). Dante varieer ’n liefdesreël van Guido Guinizelli (1235–76). “Foco d’amor in gentil cor s’apprende”: In u edel hart ontvlam die liefdesvuur. ln ’n kommentaar oor Guinizelli se canzone word die klem gelê op die teenstelling tussen edel en onedel (dus nie-aristokraties), en dat dit kenmerkend is van die edele hart dat liefde daar sal ontvlam (107). (Dit is dus waarskynlik ’n stelling van Dante dat in ’n edel hart dié liefdesvuur ontvlam, met verwysing na Francesca.)
Kaina: Gianciotto Malatesta vermoor sy vrou en broer. Daarom word sy siel gestuur na die eerste sone van die onderste sirkel van die hel, waar diegene wat hulle familie verraai, gestraf word. Hierdie sone dra die naam van Abel se moordenaar. Dante het geen simpatie met die verontregte eggenoot wat hom gewreek het op die owerspel van sy vrou en broer nie (121–3). Die Romeinse filosoof Boëthius (ongeveer 480–524), skrywer van De consolatione philosophiae, kon Dante se woorde wat Francesca gebruik, geïnspireer het. Boëthius skryf: “[…] want van alle verdriet, wat die teenslae van Fortuna ons berokken, is smart die swaarste: om eenmaal gelukkig te gewees het!” (123). “[…] jou leermeester weet van die bitter wyn” – dié woorde herinner aan Aeneas se gevleuelde woorde aan Dido, in Aeneïs II, 3: “U laat my, koningin, onsegbare leed beleef” (137).
Dante lewer kritiek op die ridderromans van sy tyd, eintlik op die amoreuse dele daarvan. In die Franse roman, Lancelot du Lac of ’n verwerking daarvan, lees Paolo en Francesca van die avonture van die Middeleeuse ridder Lancelot (Kennedy en Corley 2008). Daar word vertel van die buite-egtelike liefdesverhouding tussen die ridder Lancelot en Guinevere, koning Arthur se vrou. Die soen wat sy op Lancelot afdruk, laat die liefde onblusbaar vlam.
Die boek wat Paolo en Francesca lees, vermoedelik die dertiende eeuse Franse weergawe, word aangedui as ’n “Galeotto” (galeislaaf, tronkvoël, skelm jakkals, tussenganger). Die naam “tussenganger” is heel geskik vir die boek en die skrywer wat Lancelot en Guinevere na mekaar gebring het en haar aangemoedig het om Lancelot te soen (138). Hierdie beroemde reël: “Daardie dag het ons twee die boek laat rus,” kan beteken dat dit nie by een soen gebly het nie, of dat hulle op heterdaad betrap is en doodgemaak is (Vos 2021:58–9; 144–8).
6 Delamaine du Toit se vertaling van canto v, 73–142
73 Ek het begin: “Digter, ek sou baie graag
wou gesêls met daardie twee wat tesame gaan
en wat skynbaar so liggies op die wind dryf.” (volledige aanhaling in PDF-dokument wat hier onder afgelaai kan word)
7 Cas Vos se rymende versvertaling (aba, cdc, ens)
Oor Cas Vos se vertaling skryf WJ Henderson, emeritus professor in Grieks en Latyn en kenner van Italiaans, op die agterplat: Hierdie vertaling van Dante se Inferno is die eerste rymende vertaling in Afrikaans en ’n unieke bydrae tot die groeiende skat van Afrikaanse vertalings van die wêreld se meesterstukke. Versvertaling op hierdie vlak en skaal vereis hoë tegniese vaardigheid, sterk skeppingsdrang, volgehoue toewyding en besondere taalvermoë – en ’n groot dosis entoesiasme, passie en liefde. Dit is ’n prestasie wat in die voorsienbare toekoms onherhaalbaar is en lank ’n standaardwerk sal wees.
WJ Henderson se vertaling van Hesiodos uit Grieks het pas verskyn (2022). Dit is ’n briljante meesterstuk.
7.1 Cas Vos se rymende versvertaling van canto v, 73–142
73 “Digter, ek sou graag aan dié twee iets wou vra,”
het ek begin. “Hulle wat hul aan mekaar toewy,
lyk of die vlerke van die wind hulle saamdra.” (volledige aanhaling in PDF-dokument wat hier onder afgelaai kan word)
8 Canto XXXII, 31–60
8.1 Verklarende aantekeninge
Laatmiddag, tussen 16:00 en 18:00 op Saterdag 9 April, gaan die reisigers die negende sirkel binne (Vos 2021:457). Vervolgens kom Dante by twee kopstampende broers uit wat saam in een gat in die ys begrawe is. Hulle is die broers Alessandro (’n Guelf) en Napoleone degli Alberti (’n Ghibellyn) wat mekaar in ’n struweling oor ’n erfporsie om die lewe gebring het. Hulle was die seuns van Graaf Alberto van Mangona, ʼn grondbaron naby Florence. In stede daarvan om as broers een van sin en hart te wees en te leef, is hulle hare in die koue deurmekaar saamgekoek en hulle koppe deur hul bevrore trane tot ’n blok ys saamgevries. Hulle wou mos veg – nou is hulle letterlik kop in een mus!
Slegs die twee koppe steek bo die ys uit, en die agterste een, wat met sy voorkant teen die rugkant van die voorste een staan, is besig om met ’n bebloede mond aan die stukkende agterkop van die voorste een te kou. Hierdie weersinwekkende toneel laat Dante aan die afgryslike voorval in die oorlog van die sewe konings van Thebes dink (34–6). Die skimme is tot by die nek (tot daar waar die vel verkleur as ’n mens van skaamte bloos) in die ys, en hulle liggame is bloubleek van die koue. Die koue laat hulle tande sonder ophou klapper, en hulle maak ’n geraas soos dié van ooievaars wanneer hulle hul snawels oop en toe klap (41). Hierdie skimme sit in die ys met hulle koppe styf teen mekaar (46–8).
Nadat die skimme hulle koppe opgetel het, val hulle trane nie meer op die ys nie, maar stol op hulle wange (55–6). Die bitter ironie is dat die haatdraende broers nou vir ewig onskeibaar saamgevoeg is. Hier is ’n voorbeeld van die “contrapasso”-straf (gepaste vergelding) wat Dante toepas (59–60; vgl ook canto III:55). Die skreiende ironie kan die leser nie ontgaan nie (Vos 2021:458–460).
9 Delamaine du Toit se vertaling
31 En soos die padda met sy snoet bo water sit
om te kwaak, wanneer die boeremeisie snags
dikwels van die insameling van die oes droom; .... (volledige aanhaling in PDF-dokument wat hier onder afgelaai kan word)
10 Cas Vos se rymende versvertaling
31 Soos paddas met oestyd, as die boerin droom
van singende oesgerwe, in die water sit en kwaak
met hulle snoete opgelig bo die waterstroom, .... (volledige aanhaling in PDF-dokument wat hier onder afgelaai kan word)
’n Slotwoord
Die taalreis het van brontaal na vertaal, ver-taal en ver-vel gelei (Breytenbach). Dit laat heerlike nuwe vars ritmes en verstaan in Afrikaans tot stand kom. Die onverbiddelike eis is egter om die brontaal te ken en te begryp. Dit is ’n moeisame en duldsame weg, maar ook opwindend en vol verrassings.
BRONNELYS
Durling, R.M. en Martinez, R.S. 1996. The Divine Comedy of Dante Alighieri. Inferno. New York: Oxford University Press.
Du Toit, D. 1990. Die Hel. Italiaanse teks met Afrikaanse vertaling en kommentaar. Houtbaai: Zebra Publikasies.
Hollander, J. 2003. Getting Just a Small Part of It Right. R. De Rooy (red.). Divine Comedies for the New Millennium. Recent DANTE Translations in AMERICA and THE NETHERLANDS. Amsterdam: Amsterdam University Press.
Hollander, R. en Hollander, J. 2000. Dante Alighieri. Inferno. New York: Doubleday.
Janssen, J. 1999. Dante Alighieri. De goddelijke komedie. Deel 1. Nijmegen: Sun.
Kennedy, E. 2008. Lancelot of the Lake. Inleiding deur Corin Corley. Vertaling en aantekeninge deur Elspeth Kennedy. Oxford: Oxford University Press.
Krüger, J.S. 2013. Dante se mistieke reis eerste tog: Inferno. Pretoria: Sentrum vir Mistiek.
Lansing, R. 2000. Francesca da Rimini. In: The Dante Encyclopedia. New York/Londen: Garland Publishing, 409–14.
Liedboek van die Kerk. 2001. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.
Pinsky, R. 1994. The Inferno of Dante. A new verse translation. Met notas deur Nicole Pinsky, voorwoord deur John Freccero. New York: Farrar Straus & Giroux.
Schuman, N. 2002. Pastorale. Zoetermeer: Meinema.
Sinclair, J. 1939. The Divine Comedy of Dante Alighieri. Inferno. Met vertaling en kommentaar deur John D. Sinclair. New York: Oxford University Press.
Singleton, C.S. 1954. Dante’s Commedia. Elements of structure. Baltimore: The John Hopkins University Press.
Singleton, C.S. 1970. The Divine Comedy. Inferno. Met vertaling en kommentaar deur Charles S. Singleton. Princeton: Princeton University Press.
Strydom, L. 1994. Sing nuwe sange, nuutgebore. Liturgie en Lied. Bloemfontein: Noordwes-Universiteit.
Thornton, P. 2017. Dante’s The Inferno. Arcadia: Simon & Schuster.
Torrance, R. 2011. Dante’s Inferno. A New Translation in Terza Rima. VSA.
Van Rooy, J.H. 2008. Die Psalmboek 2003 as kommunikasiemiddel in die liturgie van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. ’n Himnologiese studie. PhD-proefskrif. Potchefstroom: Noord-Wes Universiteit.
Vos, C. 2015. ’n Literêre en himnologiese blik op Psalm 23. Met die digter praat, Odendaal, Bernard en Wolfaardt-Gräbe. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 42(100):27–36.
Vos, C. 2021. Inferno. Gansbaai: Naledi.
Vos, C.J.A. 2020. The Lord is my Shepherd in Suffering. Old Testament Studies, 33(3):634–648. Pretoria: The Old Testament Society of South Africa.
Klik hier om die volledige artikel, insluitend al die aanhalings, in PDF-formaat te lees.
Kommentaar
Ek stem heelhartig saam met Cas Vos, die bronteks moet steeds asemhaal in die omdigting. Dis beslis nie 'n maklike taak nie en verg 'n uiters bekwame digter/skrywer.
Wie beter om oor taal en vertaal te besin as veeltalige Cas Vos. Veral ook omdat hy ’n gerekende digter in eie reg is. Dankie Cas vir die insiggewende besinning asook die herblootstelling aan Dante se reis.
"Oor Cas Vos se vertaling skryf WJ Henderson, emeritus professor in Grieks en Latyn en kenner van Italiaans, op die agterplat: Hierdie vertaling van Dante se Inferno is die eerste rymende vertaling in Afrikaans en ’n unieke bydrae tot die groeiende skat van Afrikaanse vertalings van die wêreld se meesterstukke. Versvertaling op hierdie vlak en skaal vereis hoë tegniese vaardigheid, sterk skeppingsdrang, volgehoue toewyding en besondere taalvermoë – en ’n groot dosis entoesiasme, passie en liefde. Dit is ’n prestasie wat in die voorsienbare toekoms onherhaalbaar is en lank ’n standaardwerk sal wees.
WJ Henderson se vertaling van Hesiodos uit Grieks het pas verskyn (2022). Dit is ’n briljante meesterstuk."
Dit is vir my problematies dat Vos 'n loflied oor homself hier aanhaal, asof hy homself daardeur kanoniseer; en in ruil daarvoor besing hy die lof van die kommentator.