Beroof van sy onskuld

  • 7

Foto: Canva

Beroof van sy onskuld

Niemand maak hulle kinders groot
om gangsters te word nie,
sê sy.
Nadat hulle vir haar sê:
Jou kind was maar nie ’n engel gewees nie.

Oorkant die kerk op die hoek van die straat
lê hy halfdood.
Dit was nou ’n goddelose affêre.
Sy oë is oop,
maar weerkaats ’n stille see,
sonder golwe en sonder diepte.

Bloed bars by sy oë en ore uit,
en die kapwonde praat ’n taal
wat net die beskuldigdes sal verstaan.
Elke wond verteenwoordig ’n rede,
’n stupid rede hoekom hulle god op aarde wou speel,
en jou lewe neem.

Hulle sê weer:
Jou kind was nie ’n engel gewees nie.
Oorkant die kerk op die hoek van die straat,
In die heldere dag lê hy.
Sy oë sukkel om oop te bly.
Die toeskouers raak al hoe meer,
meer nuuskierig en verstaan nie die seer.
In elke gesig wat my oë ontmoet,
Hang die vraag: Is hy dood?

Sy familie staan soos soldate om hom.
In elke gesig wat my oë ontmoet,
sien ek oë vol trane,
oë wat die swaar las van rou en weemoed weerspieël.
Want die wêreld het ’n mooi mens opgevreet,
en sonder omgee sy siel soos ’n spook uitgespoeg.

Oorkant die kerk op die hoek van die straat,
staan die doodsengel.
En staar hom in sy oë.
Maar gun sy familie ’n paar uur vir bye-sê.
Want eens op ’n tyd was hy ’n onskuldige seuntjie,
met die mooiste glimlag, en die mooiste hart.
’n Onskuldige seuntjie met die mooiste bruin oë
wat die son se strale soos ’n magneet aangetrek het
’n Onskuldige seuntjie wat seer gehad het,
wat deur die wêreld misbruik was.

Niemand maak hulle kinders groot
om gangsters te word nie.
Jou dood was wreed en onmenslik,
maar ek sal jou onthou as daardie seuntjie.
Want die wêreld het ’n mooi mens opgevreet,
en sonder enige omgee jou siel soos ’n spook uitgespoeg.
Ek sal jou storie diep in my hart toevou.
Ek stuur 31 duisend drukkies,
vir al die oomblikke wat jy gehunker het daarna.
Niemand maak hulle kinders groot
om gangsters te word nie,
sê ek.

  • 7

Kommentaar

  • Diep hartseer,intens. Jasmine se skryftegniek is uitstekend! Ek hou van kruisrym en personifikasie.

  • Wow, absolutely wow. Ek kan die pyn en hartseer voel met elke reël en elke strofe en tog is daar nie net pyn en hartseer nie, maar 'n gevoel van aanvaarding, vrede en vertroue in waarheen sy siel is.

  • Melany Theron

    Absoluut treffend! Haar vermoë om die gevoelens van die omstanders en die jong man vanuit haar perspektief, "deur haar oë", te laat ervaar, is besonders. Ek sou graag die voorlesing wil hoor!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top