
Foto: Canva.com
Beroerte
die dag toe hy gebreek het
het stukkies van sy glasgesig
in sy pantserkas bly lê
sy voorkoms is ’n ewebeeld
deur duisend kleine breeksels
mosaïekspieëltjies ontsê
wasig word sy mening min
en sy wysheid ploeter rond
asof die veters aan sy voete
soos slangdrome krioel
en sy ongerepte klankbord
deur stroomversnellings spoel
sy naam gaan skuil in gleuwe
van wolkformasiebeelde;
haak teen skerp versperrings
as dit slinger deur die sand
en duisel oor die afgrond
van sy tong se sluierkant
die stemme om hom rond
spreek ’n helder visioen
soos kinders in ’n speelpark
se gelag
hy beur teen die beroerte
se slaparm-sindroom
sinkend in die dryfsand
word sy asem
uitgesmag


Kommentaar
Puik digkuns, Andries.
Puik!
Baie dankie, Drien.
Baie dankie Theresa. Waardeer baie.