Benouend

  • 6

As “regse lesers” dit waag om in die media 'n bietjie rammetjie uitnek te raak sal die “oortreder” gou daarop gewys word dat hy geregtig is op sy standpunt, danksy die nuwe bedeling van 1994, maar tog word hy in die proses behoorlik reggesien en hopelik permanent stil gemaak. Gewoonlik word nog bygevoeg dat hy dit nie in PW se tyd sou gewaag het nie.

Wat is die betekenis hiervan? Huidige wetgewing laat almal toe om hulle menings uit te spreek maar 'n nuwe duiwel het sy kop uitgesteek (mag 'n outydse woord soos “duiwel” nog gebruik word?). Die media is só daarop ingestel om net die “regte geluide” te maak (en dink nie dit is ironies nie) dat hulle groot moeite en koste aangaan om “afwykende menings” uit te skakel. Voorheen (redelik lank gelede) is dit sensuur genoem, maar dis nou 'n verbode woord wat enige media-man of -vrou (sorry, vrou of man!) mal kan maak, so begrawe liewer woorde soos “sensuur” en “sensureer” permanent. Vieslike drie- en vierlettergrepige woorde mag wel gebruik word. Is dit die mode of die tydsgees wat oorheers?

Is hierdie duur, spesiaal voorbereide media-produkte nou oral aanwesig, veral nadat Suzette Bridges ook in die bek geruk is? Die antwoord is “ja”, as mens enkele glipse miskyk en die saak uit 'n blanke hoek beskou. (Dis darem nou net te erg!!! Hoe durf die man so uiters rassisties wees?) As julle my nie wil glo nie, loer gerus in by die swart pers.

Is dit moontlik om tog in druk te verskyn as jy oor swart en wit wil skryf? Jy sal minstens 'n halwe kans hê as jou betoog begin met: Ek is nie 'n rassis nie maar … Ek voel dat alle diskriminasie verkeerd is, maar … Verskoning ook sommer vir my vorige paragraaf. Dit moet lees: “… nadat Suzette Bridges ook (tereg) in die bek geruk is.”

As mense die vorige bedeling as benouend ervaar het loop ons nie nou weer die gevaar om in so 'n situasie te beland nie?

  • 6

Kommentaar

  • George,

    Een: Dis Sunette Bridges waarvan jy praat, nie Suzette nie.

    Twee: Wat bedoel jy as jy sê dat die media, ten einde die "regte geluide te maak ... groot moeite en koste aangaan om afwykende menings uit te skakel"? Gee voorbeelde van dié moeite en kostes asb.

    Drie: Hoe is Sunette Bridges deur die media "in die bek geruk"?

  • Praat van benouend: As iemand 'n mening sou waag wat nie deurvleg is van vroomheid nie, word hy hel toe gestuur.

  • George pas net op dat jy nie in die bek geruk gaan word nie. Net die blankes/wittes is rassiste. Indien jy dit sou waag om jou mening te lug oor iets wat volgens jou nie "reg" is nie word jy as 'n rassis gebrandmerk. Jy kan iemand onder sy ma se rok in/uitvloek maar sodra jy as rassis identifiseer is, het jy moeilikhied. Jy is erger as melaats. Jy is 'n uitvaagsel en lieplapper sonder weerga. Hoe durf jy. Ons media word ook so aan die neus gelei.

  • George, jy's reg; regse geluide, of liewer geluide wat die teenswoordige meelopers en saampraters as regs beskou, word gesmoor. Ek het nou die dag 'n paar opmerkings onder Harald Pakendorf se rubriek gemaak en dis bloot net nie geplaas nie. Ek het op 'n kol in 'n brief genoem dat hooggeplaastes, onder andere Mandela, 'Kill the Boer' in die openbaar sing en Mandela se naam is uitgehaal. So, hierdie ding van 'Sê jou sê, don't bite your tongue!' geld net as jy regses, konserwatiewes en behoudendes wil slegsê of die huidige sirkus wil loof.
    Jan Rap

  • George Bekker

    Dirk, die feit dat ek die Bridges vrou se naam nie eers kan spel nie is aanduidend van hoe ek oor haar voel. Nogtans het ek probeer om objektief my saak te stel. Op vraag 2 hoef ek seker nie te antwoord nie. Jy moet tog weet dat minstens die erkende media groot moeite doen om te kontroleer dat wat hulle as onaanvaarbare boodskappe beskou, nie geplaas word nie, of vinnig verwyder word. Dit was juis Bridges se (halfwaar?) punt dat sy so besig is dat sy nie altyd ongewenste kommentaar vinnig kan verwyder nie. Sy word reeds vir jare van byna alle kante aangeval oor haar “regse” houding. Stem nie met haar saam nie, stel nie in haar belang nie, maar dink dat sy liewer uitgelos moet word.

    Waardeer ook die ander reaksies. Jan, hou van jou segging: "… die huidige sirkus wil loof ".

  • Dagsê George
    Politieke groeperings in links en regs is soos die modes van die dag.
    As spykerhakskoene die dag in is, dra al wat 'n vrou wat dit kan dra dit en voel vere vir die gaatjies wat in vloerbedekkings getrap word.
    So ook met die ‘minis’ en ‘ maxis’. In die dae toe ek nog gereeld trein gery het van 'n Oosrandse dorp na Johannesburg het ek my dikwels bevind in die geselskap van dames wie se rokkies so kort is dat niks aan die verbeelding oorgelaat word.
    Dan slaan jy maar jou oë op na bo en maak of jy dit gewoond is, al rem die dametjie oorkant jou aan die soom in ’n poging om die bedekking darem so na aan fatsoenlik te hou as wat moontlik is.
    Dan kom die ‘maxis’ en alles is toe wat toe behoort te wees en al wat man is se verbeelding werk oortyd en wonder en droom oor wat alles verborge onder die bedekking lê.
    So as jy regs is hou jy van orde en fatsoenlikheid en is dan mode-gewys van ’n ‘ maxi-man’ en as jy links is, dan is alles in beweging en ‘worry’ jy nie te veel oor die gevolge van die beweging waarin jy jouself bevind. Jy is ’n ‘mini-man’ soos no 1.
    Nouja Suid-Afrika het jy seker al agtergekom is ’n land in beweging en niemand ‘worry’ te veel oor die resultate nie en is vrouens oor die algemeen gereduseer tot niks meer as sekspotte waarin mans sorgeloos hul sperm kan deponeer.
    So met tussen 2 500 en 3 000 wettige aborsies per maand in klinieke dwarsoor Suid-Afrika reken ek die tyd vir ‘ maxis’ het aangebreek.
    Of dit my nou links of regs maak moet lesers maar self besluit.
    Mag dit met jou goed gaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top