Belydenis van 'n Proteas-ondersteuner

  • 2

Ek is vasgevang in 'n mishandelende verhouding, en ek blameer Jonty Rhodes. (Hierdie skrywe gaan baie verwysings hê na krieket, so hou nou op met lees as dit nie in jou kolfkampie is nie.)

Ek onthou dit soos gister: Die kerk het so pas uitgekom en ons het in die kar vir my pa, die dominee, gewag om klaar te maak in die konsistorie. Om te keer dat ons terugkeer na 'n bakoond en vaskleef aan die leersitplekke van die kar na kerk, het ons die Peugeot 504 onder die groot bome van Wynberg Militêr se kerkgrond parkeer.

Die jaar was 1992 en ek was standerd 6. Omdat ek grootgeword het in Namibië, het ek nie op daardie stadium krieket gevolg nie - dit is nie aangebied as 'n sport op skool nie, en het ek dus eers daarmee kennis gemaak toe ons trek na die Republiek. (Dis moeilik om te glo, maar daar was 'n tyd in my lewe voor krieket my geloof geword het, kan jy maar sê. :-)) 

Ek draai die radio se rubberknoppie na Radio 2000 en dit skakel in op die Krieketwêreldbeker van 1992. Suid-Afrika teen Pakistan. ('n Besondere toernooi - ons eerste deelname na jare van isolasie, en die amptelike truie se ontwerp so treffend, dit word vandag steeds in die skare opgemerk, en kan jy dit nog in die versamelaarswinkels aanskaf.) Pakistan kolf, en hul staatmakerkolwer, Inzamam-ul-Haq, lyk goed voor die penne. Hulle jaag 'n belaglike teiken van 211 en is goed op dreef. En toe speel die toneel af wat my lewe (en talle ander seuns) vir altyd sou verander: Brian McMillan draf in en boul. Die bal tref Inzamam op die knieskutte en spat na punt. McMillan appelleer vir been-voor-paaltjie maar tevergeefs. Inzi trek weg vir 'n lopie en halfpad af met die kolfblad verander hy van plan - hy sien tot sy skok hoe 'n bloedjong Rhodes op die bal toesak en laasgenoemde instinktief besef hy het genoeg tyd om self by die paaltjies uit te kom voor Inzi terug is in sy kolfkampie. Dit als gebeur so vinnig dat daar, volgens oorlewering, nie 'n kleurfoto bestaan van wat volgende plaasvind nie - die fotograwe het nie tyd gehad om die foto te neem nie. Rhodes peil op die paaltjies af en sonder om te dink en met slegs een paaltjie om na te mik, gooi hy nie die bal nie - hy duik, bal vasgeklem in sy regterhand en ten volle uitgestrek in lengte, perfek horisontaal. 

Jonty hang vir 'n ewigheid in die lug en vernietig dan die paaltjies met sy duikslag, 'n oogwink voor Inzi terug kon kom in sy kolfkampie. Die res is geskiedenis - 'n ikoniese foto, sprakelose kommentators en 'n geslag seuns wat nou almal soos Jonty wil veldwerk doen. Dis 'n keerpunt in die wedstryd, en Suid-Afrika wen die wedstryd met 20 lopies. Die supernatuurlike aksie van een speler sou ek vir altyd onthou, en dit was die dag wat my verhouding met die spel begin het. Ek sou begin kennismaak met legendes in die spel, onder ander ons eie Witblits, Allan Donald, wat SA se rekord gehou het vir die meeste paaltjies geneem in Wêreldbekers.

1999, 2003, 2007, 2011, 2015. Sedertdien het my liefdesverhouding met die Proteas minder gelukkig geword. Elke vier jaar het ek opgewonde gesit en wag vir die Wêreldbekertoernooi, gereed om enigiets te doen wat my beter helfte van my vra. En die beter helfte het elke keer probeer, regtig, maar beloftes ten spyt, net weer en weer teleurgestel. En keer op keer het ek moedig vir ander vertel dat ek, as't ware, "in die deur vasgeloop het, vandaar die blou oog." En terwyl die hart nog pyn, vat ek hulle terug sodra hulle weer op die kassie is.

Ons speel Sondag toevallig weer teen Pakistan. Die Proteas se 2019-veldtog is so power dat ons net bo Afganistan geplaas is in die ranglys, 'n land wat letterlik niks oor het behalwe krieket nie. Ons moet dus ten alle koste wen om nog 'n wiskundige kans te hê om deur te gaan na die semi-finaal. Pakistan kolf eerste en stel 'n totaal van 308/7. (Interessant genoeg neem Imran Tahir, oorspronklik van Pakistan, maar wat daarna Suid-Afrikaanse burgerskap verwerf het, twee paaltjies vir die Proteas en steek daarmee Allan Donald verby as die SA speler wat die meeste paaltjies geneem het in Wêreldbekers.)

Ons kolf, en sukkel. Amla is verby sy beste. Quinny speel instinktief en gooi sy paaltjie weg. Faf veg moedig voort as kaptein maar word uitgevang vir 63. En toe skielik is dit asof ek deur 'n onsigbare grens breek. Genoeg blou oë. Dit het tyd geword.

Soms moet 'n man kyk na sy eie selfbehoud, en dit beteken nie jy is 'n slegte ondersteuner nie. Die Proteas sal altyd my liefling wees, en jy sal my elke jaar teëkom op Nuweland vir toetskrieket (die ware koningsport) waar ek ons manne ondersteun. Dis net tyd om mekaar in die oë te kyk en te sê, miskien is ons nie vir mekaar bedoel vir Wêreldbekertoernooie nie. Alle sterkte vorentoe, maar ek klim hier af.

Ek skakel die TV oor na YouTube, sit vir my Mumford and Sons aan en maak 'n bier oop. Dis nog net ses maande tot rooibalkrieket op Nuweland. Skielik is die aand ligter.

  • 2

Kommentaar

  • Ai Jannie. My hart bloei vir jou. Ek bloei ook binnetoe vir die Bloemies. Ek hoop net nie dieselfde lot tref ook die manne met daardie ander sport wat later die jaar in Japan afskop nie. Ek kyk trouens klaar nie meer so ywerig na daardie sport nie. Ek mag nie kyk waar daar kinders, vroumense, ou mense en sensitiewe kykers is nie. My vrou sê ek tree onskriftuurlik op en neig daarna om onder sensuur geplaas te word.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Ek sou dink julle braai wurgpatats al in daai TV-skotteltjie instede en luister na RSG?
    Ten minste is daar met wurgpatats rede om te drink ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top