Belangrike samewerkingsooreenkoms tussen Akademies onderteken

  • 5
Ludo Gelders (voorsitter KVAB) en Wannie Carstens (voorsitter SAAWK) gemoedelik saam tydens die ondertekening van ’n nuwe samewerkingsooreenkoms in die Paleis van die Akademie in Brussel. 

Op 30 Mei vanjaar is ’n belangrike samewerkingsooreenkoms tussen die Koninklike Vlaamse Akademie van België vir Wetenskap en Kuns (KVAB) en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) in Brussel onderteken. Onderhandelinge hiervoor het bykans 15 jaar gelede begin. Die twee voorsitters, Wannie Carstens en Ludo Gelders, het elkeen saam met hulle getuies by die Paleis van die Akademie opgedaag. Dis ’n klipgooi van die werksplek van die Belgiese koning af – die Koninklike Paleis van Brussel.Die sfeer was ernstig en formeel, dog gemoedelik. As dit van die geelperskereën buite die paleis sou afhang, word die samewerking tussen hierdie twee Akademies baie vrugbaar.

Die SAAWK is in 1909 in Bloemfontein gestig op inisiatief van generaal JBM Hertzog en het vandag ongeveer 1 000 lede. Daarom is dit gepas dat juis Hennie van Coller van die UV as getuie geteken het.

Anders as wat mens verwag, is die KVAB, of Vlaamse Akademie, eers in 1938 opgerig. Dit lyk dus asof dit korter as die Suid-Afrikaanse Akademie bestaan. Tog het dit ’n komplekse ontstaansgeskiedenis wat reeds uit 1772 kom. Die Vlaamse Akademie het 240 lede en bestaan uit vier afdelings: natuurwetenskappe, menswetenskappe, kunste en tegniese wetenskappe.

Daar is twee afdelings binne die SAAWK: natuurwetenskappe en geesteswetenskappe.

Beide hierdie Akademies het deur stormagtige tye van ontwikkeling gegaan. Hulle grootste ooreenkoms lê miskien opgesluit in ’n taalstryd. In Suid-Afrika bestaan sedert 1996 ook die Academy of Science of South Africa (ASSAf), maar die SAAWK uit 1909 was nog altyd gefokus op taal – eers Nederlands en later Afrikaans. Gedurende die apartheidsjare het die SAAWK onder geweldige druk begin verkeer. Daar moes hard gewerk word, sodat die (wan-?) beeld van Afrikaans as die taal van die onderdrukker nie afgesmeer word aan die SAAWK nie. Sedert 1994 moes die SAAWK finansieel selfstandig word, want die steun van die (nuwe) regering het verval. Tussen 1909 en 1996 was dit die enigste Akademie in Suid-Afrika.

Hennie van Coller (UV en oudvoorsitter van die SAAWK) en Géry van Outryve d’Ydewalle (sekretaris KVAB) wag om as getuies te teken op die handtekeninge van Ludo Gelders en Wannie Carstens.

Die Vlaamse Akademie is ook nie die enigste Akademie in België nie. In die laat 18de eeu is die Keizerlijke en Koninklijke Academie voor Wetenschappen en Letteren in Brussel opgerig deur Maria Theresia van Oostenryk. Dit was Vlaams- en Franstalig. Daaruit het die Academie voor Geneeskunde in 1841 ontstaan – met oorwegend Frans as taal. Vyf en veertig jaar later (in 1886) is die Academie voor Nederlandse Taal- en Letterkunde in Gent gestig, met die fokus op Vlaams. Hulle is vandag nog steeds in Gent gevestig. Daaruit het die huidige en veel breër (as net taal en letterkunde) Koninklijke Vlaamse Academie van België voor Wetenschappen en Kunsten gegroei. Hierdie Akademies gebruik almal die Paleis van die Akademie vir hulle aktiwiteite.
Ten spyte van die moeisame stryd waarmee beide hierdie Akademies in die verlede te kampe gehad het, bly dit vandag steeds ’n geweldige eer om lid daarvan te mag wees. ’n Mens moet daarvoor benoem word deur jou vakgenote.

Die SAAWK is in die laaste tyd deur ’n verjongingskuur. Nie net is jonger lede gewerf nie, maar die eis van digitalisering word grondig aangepak. Sedert 2012 is Dioné Prinsloo die eerste vroulike uitvoerende hoof van die Akademie.

Die samewerkingsverband wat nou in Brussel geteken is, is ’n sigbare bewys van toenemende internasionalisering, wat veral in die laaste jare deur Carstens en sy voorgangers as voorsitter van die SAAWK gedryf is.

Vier baie belangrike handtekeninge in ’n formele samewerkingsooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse en Vlaamse Akademies.

Ek het ’n paar vrae aan hom gestel.

“Wat was vir u die hoogtepunt tydens die ondertekening van die samewerkingsooreenkoms hier in Brussel?”

“Dit was vir my wonderlik om in Afrikaans, ’n mens se moedertaal, aan so ’n belangrike besluitnemingstafel te kon sit en met mekaar te kon praat, ek in Afrikaans en professor Gelders in Nederlands. Afrikaans reik uit na buite. Dis van groot betekenis.”

“Wat hoop u om met hierdie samewerkingsooreenkoms te bereik?”

“Ek hoop dat daar ’n uitruil van kennis sal plaasvind. Wetenskaplikes moet op so ’n manier met mekaar in verbinding gebring kan word. Akademielede se inligting oor hulle spesifieke fokusareas moet wedersyds digitaal beskikbaar gestel word, byvoorbeeld deur lede van die twee Akademies se CV’s op die Akademies se webwerwe beskikbaar te stel. Via die Suid-Afrikaanse en die Vlaamse Akademie moet wetenskaplikes mekaar kan uitnooi om oor hulle vakgebiede te kom gesels – hier in België, maar natuurlik ook in Suid-Afrika. ’n Ooreenkoms werk egter net as mense ook konstruktief en wedersyds daaraan saamwerk.”

In 1998 het die idee in Pretoria ontstaan dat die SAAWK moet uitreik na die moederlande van Afrikaans, met ander woorde Nederland en België. Die Vlaminge was van die begin af ontvankliker vir ’n samewerkingsooreenkoms as die Nederlanders. Destyds was die verhoudinge egter beperk tot die Belgiese Akademie vir Geneeskunde se betrokkenheid by die Groote Schuur-hospitaal. In 2000 het Carstens sy eerste besoek aan die Paleis van die Akademie in verband hiermee gebring. Sy kontakpersone was die destydse hoofsekretaris van die Vlaamse Academie, Niceas Schamp, en Dominique Willems. Dis is ’n proses wat moeisaam verloop het, maar die deurbraak het uiteindelik gekom toe Willems, voorsitter tot 2011, Suid-Afrika besoek het. Daarna het prosesse vinniger verloop. Willems se onvermoeide ywer vir die ooreenkoms het gehelp om oor die laaste bult tussen die twee Akademies te kom. Daar is kennelik ook mense aan hierdie kant van die wêreld wat die belang van so ’n samewerkingsooreenkoms verstaan.

“Hoe kan die Suid-Afrikaanse Akademie nog verder internasionaliseer?” vra ek verder.

“In Oktober en November vanjaar kom ek weer hierheen. Dan hoop ek om ’n samewerkingsooreenkoms te kan teken met die Koninklijke Academie voor Nederlandse Taal- en Letterkunde (KANTL) in Gent. Hulle het veertig lede. Ons proses met die Koninklijke Nederlandse Academie van Wetenschappen (KNAW), wat in Amsterdam gevestig is, is ook al ver gevorder. Hulle verkies voorlopig samewerkingsprojekte met verskillende universiteite in Suid-Afrika. Dit kom dus neer op ’n soort informele ooreenkoms. As hierdie nuwe samewerkingsooreenkomste later goed werk, hoop ek dat ons bande kan sluit met ander Europese lande waar alreeds Afrikaans onderrig word, soos in Pole en Oostenryk.”

Met hierdie laaste antwoord verpersoonlik Carstens die visie van die SAAWK. Sy en Van Coller se teenwoordigheid in Brussel voorspel nuwe groei vir die Suid-Afrikaanse Akademie, net soos die reën aan die begin van die somer in Europa die natuur se sluimerende groeikrag ondersteun.

 

  • 5

Kommentaar

  • Quintus van der Merwe

    Is dit reg dat daar nog na die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verwys word? Behoort dit nie die Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns te  wees nie? Let op die duidelike verwysing na die "Vlaamse" in die Koninklike Vlaamse Akademie van België vir Wetenskap en Kuns.

  • Dis heeltemal reg, Quintus. Volgens die Nuusbrief, jaargang 50, nommer 4 hier langs my van Desember 2012 is dit definitief die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

  • Quintus van der Merwe

    Carina, ek het eintlik die vraag gevra of dit nie tyd is dat die naam verander word nie.

  • Miskien, Quintus, miskien. Jou vraag wys in elk geval dat jy nadink oor die plek van Afrikaans in die breër wetenskaplike wêreld van Suid-Afrika.

  • Jacques Van Keymeulen

    Ik wil erop wijzen dat de naam van de taal van de Vlamingen Nederlands is en niet Vlaams, net zoals de taal van de Franstalige Belgen Frans is en niet Waals. Ik ben zelf vast secretaris van de Koninklijke Academie van Nederlandse Taal en Letteren in Gent. Vlaams is in eerste instantie een geografische aanduiding, geen aanduiding voor een taal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top