Bekentenis van 'n verraaier

  • 2

Die slim mense sê dat versoening en wedersydse aanvaarding die plaveistene vir die pad na volksgeluk moet wees. Dis jammer dat dieselfde slim mense nie ’n tuiste aan die stuur van daardie afdeling se sake kon vind nie.

Hier en nou, vandag, in die vyftiende jaar van die nuwe eeu, in die herfsdae van my bestaan, bevind ek my strompelend tussen die duisternis van onsekerheid aan die eenkant en in die volksverraaier se beskuldigdebank aan die anderkant. Hier grawe ons en ontbloot ek die armoedigheid van my volkstrou, meer as Pik, maar minder as Piet (skiet) Rudolph ...

Die lende waaruit ek gesny was en die lende en lappe voor hulle, was blykbaar nie almal Afrikaners nie. Volgens sekere algemene rondgaande beskrywings en benaming en beryming van die Afrikanerdom, let wel nie andersom nie, was die voorgeslagte wat in die myne gewerk, die treine gestook, in die kroeë bedien, plaatmetaalwerkers en Vrymesselaars was, nie heeltemal en altyd welkom in die “kring” van die ware Afrikaners nie.

Daarenteen was erfgename van die Boere-oorlog, akademici, politici, teoloë, landbouers en rugbyspelers van die uitverkorenes, wat die eer van van die dorsland met volkspele en ’n voetbal kon beïndruk en beskerm.
Wonder watter een van hierdie pragtige volkskatte kon toe die rooi aanslag van die tyd weerstaan?

Ek kan nie onthou dat ek al in my lewe ’n voortrekkerkappie en kakie-safaripak, vellies en wye-randhoed aangetrek het nie. Ook nie of ek op oom Manie se fyndraai-in-die-waenhuis-settees onder die naald getiekiedraai en saam gestofdans het nie. Ek het wel ’n keer of wat die saal ónder die perd vasgegespe deur een of twee van die uitrustingstukke, na die onhebbelike invloed van wyn, vir die vermaak van verlore vriende aan te trek. Tog sou dit nie onder nugtere omstandighede gebeur het nie.

Vanoggend stuur ’n mater vir my ’n kiekie oor die lug. 'n Kiekie van ’n blesbok. Die opskrif wat saam met die bokgesig op my rekenaarskerm land is “go bokke”. ’n Blesbok my ou?!

Sonder woorde skets daai een prentjie egter die hele afswaai van ons ander Afrikanerheiligdom, rugby. Die Springbok is dood; lank lewe die Blesbok ... of dalk die boerbok, wie weet?

En nou, vandag, in die vyftiende jaar van die nuwe eeu, in die herfsdae van my bestaan, bevind ek my volkloos. Spanloos. Histories verwaarloos en kultureel verbrokkel en broos.

Ek is ’n Europeër wat nie in Europa gebore is nie. ’n Vaal bles “bok” wat dit nie in die grasvelde van Afrika sal waag wei nie; ’n Europeër wat in afsondering saam met my mede Europeërs in voorheen heininglose voorstede en dorpe woon, dieselfde woonbuurte waar die destydse planters van die lowergroen tuine en bome nou hul tuiste agter veiligheidsmure in aftreedorpe met verpleegsters in bont rokkies en eetsale gaan soek.

Ek ken net ’n oorwegend Europese opvoeding, ek is met ’n vrou uit my deel, die aanvaarbare deel, van die dorp getroud. Ek het Europese gesinswaardes, spyskaarte, klere, skoene en ’n hond wat die Britte vir eendevang geteël het.

In my skooldae se geskiedenisboeke was die boere se aanslag en Retief en die Voortrekkers se heldedade die een helfte van die boek en die Europese geskiedenis en die wêreldoorloë die res. Die konings van die Tswana’s en leiers van die Nama was ten beste moontlik êrens saam op ’n bladsy terloops genoem. Die Afrika-geskiedenis het begin en geëindig met die Duitsers, wat in Duitswes-Afrika verslaan is en daarmee saam, ook my belangstelling.

Ek praat Afrikaans want dis my huistaal, maar bedags praat ek Engels, want dis my werkstaal. Ek het nie vriende wat nie êrens in hul voorgeslagte Europeërs was nie en ek kook graag bredie in ’n swart pot. In teenstelling met die Kaapse kultuur het ek nie ’n braaikamer nie, maar ek maak graag vuur. Sondae braai ons hoender en enige ander dag wat ons kan, rooivleis. Ek luister klassieke musiek op RSG en soms na ’n paar van die stukke op Mafikizolo se album wanneer ek ’n vuur aansteek. Tog verkies ek om meer gereeld na Jan Blohm, Mumford and Sons en die manne vir die laataand “blues”, Leonard en kie, te luister.

Ek ken nie die ware wese van modern Europeërs nie, maar ek ken ook nie die ware wese van die moderne Afrikaner, Indiër óf Zoeloe nie!

Ek ken nie al die spelers in die Springbokspan nie en ek ken niemand in die sokker-, hokkie- en netbalspanne nie. Ek weet nie of ons ’n tennispan of selfs ’n internasionale veerpyltjiespan het nie.

Ek lees nie Die Burger en Die Huisgenoot nie en ek “gesels nie saam nie”. Ek gaan nie elke Sondag kerk toe nie en ek sit nie by die winkel se deur met ’n blikkie om geld vir die honger mense in te samel nie. Ek neem nie aan die Sakekamer se dinge deel nie en ek skenk ook nie bloed nie; alhoewel ek darem destyds rugby gespeel het.

Hier en nou, vandag, in die vyftiende jaar van die nuwe eeu, in die herfsdae van my bestaan, bevind ek my spreekwoordelik in die beskuldigdebank, met die onverdedigbare aanklag in rooi op die hofbevel ... Jy is ’n volksverraaier; sonder ’n volk!

  • 2

Kommentaar

  • Jy dwaal op sommige plekke hier. Die akademici, politici, teoloë edm waarvan jy praat se ouers en grootouers, in die oorgrote meerderheid van die gevalle, was plaatmetaalwerkers, skrynwerkers, messelaars, myners, die soort van mense. Mense wat hulle vingers stomp gewerk het om hulle kinders 'n opvoeding en opleiding te gee sonder om te eis deur bande te brand en klippe te gooi.
    Jy is per definisie nie 'n Europeër nie want, soos jy sê, jy is nie in Europa gebore nie; jy is 'n Kaukasiër wat in Afrika gebore is. Niks eienaardigs hier nie want daar is insgelyks Negroïdes en Asiërs wat in Europa gebore is.
    So 5 of 6 jaar voor die aanvang van die derde millennium het ek ook Engels gepraat by die werk; nie uit vrye keuse nie maar omdat ek verplig was om dit te praat sodat ons meesters my kon verstaan. Ek vermoed dis maar met jou ook die geval; jy MOET want die base wil dit hê.
    Jy verwys na die Boere-oorlog, ek vermoed jy bedoel die Engelse oorlog.
    Jy praat van die 'boere se aanslag', ek vermoed jy bedoel die 'Boere se aanslag'.
    Soos jy maak ek ook bredie in 'n swart pot, lees ook geen Afrikaanse koerante nie en kom slegs in die kerk met doopseremonies, huweliksbevestigings en so aan. Ek ken nie een van ons nasionale sokkerspan se spelers nie en ken ook nie die woorde van Nkosi nie maar dit laat my geensins voel soos 'n volksverraaier nie, inteendeel . . .

  • Dag Hennie,
    Ek dink ek lewe presies soos jy, behalwe dat ek dit op die eiland Tasmania doen. Ek lewe nie tussen my volksgenote nie, maar ek lewe tussen Europese afstammelinge, dis 'n groot verskil tussen hier en by jou.
    My dae is baie besig, eerste lig vanoggend was ek langs die meer om 'n forel te hoek. Toe nie. Daarna 'n koffie-en-koerant in die dorpie en daarna 'n paar wit balletjies slat. En toe vat ek die res van die dag af.
    Cheers
    Duitswester

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top