Bejaarde Jogi en die Ou Testament

  • 0

Ingevolge die Romeinse leges provinciae wat ongeveer 146 vC gepromulgeer is, was daar aan die provinsies (waarvan Judea een was en waar die HERE Jesus Christus in die voorval met die owerspelige vrou betrokke was) volle outonomiteit toegestaan, en het nie ingemeng met die vryheid van die onderskeie provinsies om hulle religie en kultuur te beoefen nie, mits dit nie die Romeinse Ryk en die Romeinse heerskappy ondermyn het nie.

Die doodstraf was in die provinsies vryelik toegepas, maar is voorbehou in strafregtelike gevalle en waar die Romeinse Ryk se belange ook betrokke was, soos byvoorbeeld waar ’n persoon ’n misdaad gepleeg het wat ook terselfdertyd sedisie of hoogverraad sou wees, sou die Romeinse howe dit moes verhoor om die straf te kon toepas. Dit is tipies wat die Sanhedrin met die HERE gedoen het – hulle het Hom by die goewerneur, Pilatus, laat aangekla vir sedisie teenoor Rome, sodat Pilatus die doodstraf moes oplê. Uiteraard het Pilatus die HERE onskuldig bevind, maar aan die Jode oorgegee om tóg maar gekruisig te word, as ’n politieke guns.

Dit is dus nie korrek om te sê dat die Sanhedrin nie die doodstraf kon uitvoer nie. Hulle het dit steeds vryelik vir hulle religieuse redes gedoen ooreenkomstig die ou “stenigingsgwette”. Handelinge 5:26, 7:57-60, 14:19 verwys juis na gevalle van bedreigde of gepleegde teregstellings (die steniging van Stefanus en Paulus maar laasgenoemde het dit wonderbaarlik oorleef nadat hy vir dood agtergelaat was); Hebreërs 11:37 verwys na verskeie gevalle van steniging en ander teregstellings wat deur die Jode toegepas is.

Verwysings na Levitikus 20:10 en Deuteronomium 22:22 is nie relevant nie, aangesien daardie wetsbepalings nie verg dat die man en die vou as oortreders in mekaar se teenwoordigheid moet wees as die steniging voltrek word nie en derhalwe kon hulle die steniging van die vrou ooreenkomstig hul stenigingswet vryelik voltrek (apart van die man), was dit nie vir die ingryping van die HERE nie.

Die kruks van die saak is enersyds die aanduiding van die onmeetlike Krag wat die HERE uitstraal weens die teenwoordigheid van die Heilige Gees, wat die mense laat koers kies het sonder om die vrou te stenig (dié besonderse Krag word verder só gedemonstreer deurdat Christus eenvoudig toegelaat is om vryelik in die tempels te preek sonder dat Hy as priester verordineer was; as twaalfjarige selfs die priesters en skrifgeleerdes onderrig het; vryelik tussen die Jode deur weggeloop toe die Jode Hom wou doodmaak – Lukas 4:28-30 - ens).

Andersyds is die kruks van die saak dat Christus gekom het juis om die mens van sy sonde te verlos en nié om almal wat sondig, te laat doodmaak nie. Duitswester verstaan nie die koms van Christus nie – Christus die Messias is die Gewer van vergiffenis en het juis gekom om die dood namens die sondige mens te smaak, sodat die mens kan Lewe in Christus! Daarom dat Christus sê dat Hy gekom het om die Wet te volbring – HY smaak die dood vir diegene wie Hom aanneem se sondes – vandaar dat HY vir die owerspelige vrou sê “… gaan en sondig nie meer nie”. Die Messias het die doodstraf om Homself geneem!

Verder het Christus as Seun van God, die vleesgeworde Woord van God, gekom om vir ons te leer hoe en wat die Wet beteken en uitgeleef en verstaan behoort te word, nadat die Jode dit verwring het (Mattheus 15:7-9) deur Sy Eie uitlewing van die Wet waarin ons Hom moet navolg. HY gehoorsaam die Wet (Mattheus 5:17-19) en verwag van ons dieselfde.

Jesus weerspreek geensins die Ou Testament nie, maar volbring dit namens ons as gelowiges.

Groete,

Kobus de Klerk

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top