Behou die goeie

  • 2

Hier word baie gesê oor hoe betroubaar sommige wetenskaplike metodes en wetenskap as praktyk is. In die wetenskap word daar nie ’n kommissie belê wat besluit dat een navorser se argumente die beste is en dat sy teorie gebruik moet word nie. Die mees fantastiese argumente deur die briljantste navorsers beteken niks indien dit nie ondersteun word deur herhaalbare, betroubare waarnemings en geldige afleidings en gevolgtrekkings nie.

Derduisende mense doen navorsing, maak waarnemings, formuleer idees en stuur dit die wêreld in. Elke stukkie data of afleiding wat iemand publiseer word nie klakkeloos deur die res van die wetenskap gemeenskap aanvaar nie. Artikels word aan evalueerders voorgelê en afgekeur as daar voor die hand liggende foute of onondersteunde afleidings in is, maar evaluasie is nie ’n stempel van goedkeuring of ’n bevestiging dat die publikasie as ’n feit aanvaar moet word nie. Ander werkers in die veld gaan nie noodwendig saamstem nie en is onder geen verpligting om gepubliseerde resultate te aanvaar nie.

Enige nuwe metodologie, indien dit beter voorkom as bestaande metodes, gaan deur ander aangewend word. Onbetroubare metodes vind geen inslag nie omdat onherhaalbare resultate nie tot afleidings lei nie en nie publiseerbaar is nie.

Somtyds, indien genoeg navorsing in ’n rigting gedoen word, kan 'n samevloei van waarneming en verklaring stelselmatig uitgeken word. ’n Teorie ontstaan wanneer meer en meer navorsers b.g. samevloeiing raaksien en dit begin gebruik as ’n aanvaarbare verklarende raamwerk vir ’n stel verskynsels. Eindelik, as dit deur so ’n groot meerderheid werkers in ’n sekere rigting gebruik word, kan gesê word dat dit die standaard teorie in daardie veld op daardie tydstip is. Dit bly egter tentatief, gaan ontwikkel en verander en kan te eniger tyd verplaas word deur ’n beter teorie.

Wetenskaplikes is ook mense en verval in dogma en groepsdenke, word verlei deur foutiewe idees wat intellektueel bevredigend voorkom en raak betrokke by debatte wanneer hulle goed weet hulle saak is nie so sterk en onaanvegbaar as wat hulle voorgee nie. Gelukkig is die meeste wetenskaplikes ook utilitariste, wat net nie ’n instrument, metode of teoretiese raamwerk gaan gebruik as dit nie werk nie. Enige metode wat konstant onbetroubare en veranderlike resultate gee, sal vinnig in onbruik verval.

’n Soort natuurlike seleksie bepaal wat aanvaar word en wat vergeet word. Die teorieë wat oorleef is die wat nuttig is, die wat goeie verklarings vir waarnemings bied en akkurate voorspellings van toekomstige resultate maak. Die wetenskap is kragtig en, meestal, betroubaar omdat dit van ’n ou-ou beginsel gebruik maak. Amper alles word beproef en die goeie word behou ...

Stephan

  • 2

Kommentaar

  • Stephan,

    Baie dankie vir 'n baie goeie, maklik verstaanbare uiteensetting van hoe die wetenskap werk. Dit gee my net soveel meer vertroue in die wetenskaplike wereld van vandag.

  • Weer eens, mnr Stephan Marcus, ek lig my hoed vir jou en bedank jou en Kleinkoos vir jul uitstekende bydraes. Dit is 'n plesier om dit te lees en so ook die van Delusie wat nou vore kom. 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top