Beelde en brûe

  • 0

Dit is nie noodwendig ’n goeie gedagte om tot die opportunistiese relaas van die dag toe te tree nie. Veral nie in hierdie landjie waar ons voete genestel sit nie. Maar, soms het ’n mens spesifieke denke oor ’n saak en soms, net gevoellens. Soms neem laasgenoemde mense op loop, en soms ketting hulle hulself aan standbeelde en sulke goeters vas.

Ander mense gooi toiletwater oor bronsbeelde, wat in alle geval deur die duiwe beswadder word. En dan word almal kwaad vir elkaar en skielik staan die hele land en sy kultuurgroepe met rustelose bene op die afgrondklippe van ineenstorting. Of so lyk dit vir my.

Ek wonder of die medeburgers wat tans so warmbloedig oor bewaring van monumente en beelde raak, ooit ’n ware besef het van wat die dooie klippe en brons, wat nou óf bewaar óf beweeg moet word, werklik behels?

In Pietermaritzburg staan Gandhi se bronsbeeld, waar dit voorkom of hy vir altyd vorentoe loop. Hy sit nie soos onse Jan Smuts, op vele plekke in Kaapstad, en bekyk die wêreld nie; nee, hy lyk progressief. Moontlik is daar iets van sy oortuiging en sy mense se gedrewenheid vir die res van ons hierin opgesluit.

In Bloemfontein staan die Naald van Onreg. Die Nasionale Vrouemonument is opgerig om “die tragedie te gedenk van sowat 26 000 Afrikanervroue en -kinders wat jare tevore in die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 gesterf het."

Eers veel later sou besef word hoeveel swartmense ook as gevolg van die oorlog oorlede is − en staan die monument vandag eweneens as ’n somber herinnering aan die lyding in alle konflikte wat met brute geweld besleg is, sonder om onskuldiges in ag te neem.

Die oprigting van die monument het destyds plaasgevind te midde van groot verdeeldheid onder Afrikanerleiers oor wat hulle as in die beste belang vir die land geag het. Die een groep het noue bande met die veroweraar, Brittanje, gepredik. Vir hulle was die nuwe Unie van Suid-Afrika immers ook ’n deel van die sogenaamde Britse Gemenebes. Die ander groep het gevoel dat die Boerevolk (Afrikaners) steeds sy eie heil weg van Brittanje moes uitwerk. Hier waar ek nou sit, met my stoel agteroor en die paragraaf op ’n afstand beskou, spring die Franse gesegde “déjà-vu”, skielik na vore. Was die Afrikaner nie al vantevore hier nie?

Of, het ons dalk nog nie juis hiervandaan vertrek nie?

In 1828, het Dingaan sy halfbroer Shaka, die denker en verstandiger leier, by Dukuza (hedendaagse Stanger) vermoor. Hy het daarna besluit om, as mags- en statusvertoon, ’n groot kraal in die Emakhosini-vallei op 'n helling van die Ntonjaneni-heuwels te bou. ( Lees iemand anders ook iets van nog ’n geskiedenis herhaling hier? – Mbeki / Zuma / Nkandla ...)

By Umgungundlovu het Dingaan en sy tjommies geheime vergaderings gehou om koning Shaka se moord te beplot. En vandag staan daar ’n monument waar Retief, sy seun, die saamtrekkers en hul knegte, ongeveer 100 mense, saam met duisende voor en ná hulle, deur Dingaan tereggestel is. En wat was sy nalatenskap... net die beendere van sy vyande wat deur die wilde diere skoon gevreet was. Dis al.

Dingaan het geen onderskeid tussen ras en kultuur gemaak nie; as jy nie sy onderdaan was nie, was jy sy vyand.... en weer is “déjà-vu” hier.

Ek is geensins kultureel begaaf genoeg of selfs erfenis bekwaam genoeg, om uitsprake oor die bewaring of verwydering van Suid-Afrikaanse monumente te maak nie. Ek twyfel egter of daar so ’n persoon bestaan.

Al waarvan ek redelik seker is, is dat daar ’n rede was waarom groepies mense dit nodig en belangrik geag het om beelde en klipgeboue en mure met prentjies te laat ontwerp en op te rig. Ongeag of die gedenkteken daar is om iemand soos Hector Pieterson in Soweto te huldig en ongeag of dit imposant in postuur is en gebou is met swaargekapte Kaapse graniet uit Tafelberg en of dit tempelagtig gevorm is of bloot ’n plakkaat teen ’n ou muur is; dit spoor die besoeker daarvan tot heroïese denke en patriotiese emosie aan. Dit skep geleentheid vir erkenning, beide in dankbaarheid en droefheid, vir die bestaansreg van elke monumentekyker.

Moet my nie vra hoeveel monumente ek al besoek het nie; dis seker net ’n handjie vol.

Skamerig sal ek egter ook moet erken dat ek geen bydrae gelewer het om ons seuns in die waarde van kulturele nalatenskap op te gevoed het nie. Wat ek wel weet, is dat ons gesin, familie en gemeenskap se gelukkige en vrye voortbestaan nie met die beswaddering van ’n ander se erfenis gewaarborg kan word nie, en dat niemand se toiletware op of kettings aan oom Paul Kruger op Kerkplein die afstand tussen waar ons was en waarheen iemand soos Ghandi sou wou hê ons moet saamloop, kan oorbrug nie.

Ons tyd is min, laat ons nou op wysheid hoop.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top