Soos 'n veiligheidsbeampte
by die ingang
van 'n historiese gebou
troon jy kop en skouers uit
bo die laggende figure
in hul ontwerpersuitrustings
en blink gepoetste skoene
met hul aankoms vir
nog 'n koppestampsessie
in die parlement
Nes Lot se vrou
in daardie tragiese oomblik
baie lank gelede
toe sy omgekyk
en 'n soutpilaar geword het
staar jy stip
en sonder uitdrukking
na iets in die verte
Jou kop weier om
links of regs te draai,
jou arms word nie een keer gelig
om verbygangers te groet of
te verwelkom nie,
jou bene gee nie 'n enkele tree
vorentoe of agtertoe nie,
tog word jou daaglikse onvriendelikheid
as vanselfsprekend aanvaar,
niemand kla daaroor nie
hoe lank nog voor jy ook
met rooi verf besmeer word
en vandale soos aasvoëls toesak
om jou te verniel,
jy, wat dag in en dag uit
roerloos bly staan
en nie 'n vinger kan verroer
om jouself te verdedig?

