Bedanking: UOVS-eredoktorsgraad 2012

  • 0

Bedanking, UOVS-eredoktorsgraad, Kanseliersete, Bloemfontein, Junie 2012

Mr Chancellor, Vice-Chancellor, Ladies and gentlemen

Congratulations to all the graduands. I was sitting there today, listening to all the interesting research topics, thinking how privileged we all are to be attached to a university where so many people are pushing ahead with fascinating projects in so many areas.

I attended the Schreiner Karoo Book Festival in Cradock last year, and as we sat down to a festive meal, I found myself in the company of two very different gentlemen.

The one gentleman was in the final phases of his PhD dissertation; he was wearing a tweed jacket and his mind was racing with interesting concepts.

The second gentleman, younger, wore a bush jacket. He had a level stare and a slow manner of speaking.

Even before the first glass of wine had been poured, the gentleman in tweed leaned over the table and addressed the young man in the bush jacket directly:

“So from what discourse do you come, would you say?”

The bush-jacketed man looked at the questioner without the slightest sign of comprehension.

Mr Tweed tried again: “So what is your theoretical perspective?”

The guy in the bush jacket didn’t bat an eyelid. He was slowly computing the question. Then he leaned forward, and in slow, flat, careful Boere-English he said: “I … am … a … tourrr… gaaid …”

Daar, in een kort gesprek, kon ek die komplekse transaksie sien waarmee ons – die skrywers van hierdie land – gemoeid is.

Aan die een kant die gretigheid om te teoretiseer, om aan kennis sin te gee, om te politiseer, selfs, om diskoers te skep.

Aan die ander kant, die harde realiteite van ons land, ’n land vir ’n bosbaadjie.

As skrywer bevind ek my in albei wêrelde.

My meelewing gaan uit na daardie gretige teoretikus in tweed wat als wil verklaar deur te kyk deur die lens van sy spesifieke teorie. Hy wil argument voer totdat dit teorie word. Hy wil verklaar, skik en orden, en verduidelik. Sy gereedskap is die voetnoot, die bron, die Harvard-metode, die konferensie en die dissertasie.

Maar my deernis gaan ook uit na die toergids-jongman in die bosbaadjie – wat ook kamoefleerdrag is. Hy bevind hom in ’n wêreld van groot onmiddellikheid: ’n tweespoorpaadjie deur die bos, ’n toergeselskap wat sonbrandmiddel benodig en alte gretig is na die eksotika van Afrika, ’n vierwielaangedrewe voertuig, ’n piekniekseil en ’n mandjie met bederfbare eetgoed. Verkykers en muskietafweermiddel.

Die skrywer, Meneer, is albei hierdie persone. 

Soos u weet – en nou is ons by die tweed jacket – is elke storie in die eerste instansie ’n argument. Die ganske literatuur, sou mens dalk kon beweer, voer die argument van menslikheid en wondbaarheid, van deernis en kompleksiteit.

Die generasie skrywers waartoe ek behoort, het die argument in Afrikaans gevoer teen diskriminasie in alle vorme, teen geweld, teen militarisering en teen vrot politici. Dit is die argument van ’n knorrige, ongemaklike tuiswees as die kinders van Verwoerd – daarom ons romans, verhale, gedigte, kabarettekste wat mites en vergrype uitbeeld.

Later kom die voorspellings van ’n nuwe land wat binnegegaan moet word, en nou weer, as ’n ou-ou les oor die geskiedenis, is daar in ons boeke die verkenning van ’n moeilike en uitputtende land; ’n land in ’n uitgerekte detokseringsproses.

Om van die gif van ’n koloniale geskiedenis ontslae te raak, is pynlik, en nuwe toedienings van gif kom daagliks by.

Tussendeur werk die skrywer met sy eie spoke, met die “private ache”, en moet jy oppas dat jou groter proteste nie as maklike metafore gebruik word om jou eie duiwels te besweer nie.

Jou ontwikkelende oeuvre, soos jy daaraan voortskryf, is ’n argument sonder einde, en sal onafwendbaar, soos alle goeie en nederige argumente, eindig met ’n vraag.

Dit dan die skrywer as draer van tweed.

Maar, tweedens, om hierdie argument te dryf, as ek so ’n werkwoord mag gebruik, moet jy as skrywer ook ’n bosbaadjie dra: jy moet toergids wees en jouself kan kamoefleer en jou inleef in verskillende buurte en landskappe en omgewings. Die romansier, by uitstek, speel as storieverteller die rol van daardie Cradockse jongman wat die teoretikus so direk in die oë gekyk en geantwoord het: “Ek is ’n toergids.”

Jy sê dit sonder die sofistikasie, of las, van teoretiese denke; daar is iets primitiefs daar.

En dit bring ander eise as die eise van die tweedbaadjie. Jy moet jou as kunstenaar dig teen die straat hou, teen die grond; jy moet ’n oog hê vir die harde besonderhede van tyd en plek. Dis die opdrag van ruik en voel en beleef; dis nie anders as die snuffelgang van ’n dier, neus styf teen die grond nie.

As die literatuur ’n plig het, is dit om die tweedbaadjie en die bosbaadjie aan dieselfde kapstok te hang – om te argumenteer, ja, maar ook om te verken.

Dan word jou boeke ’n soort toergids; ’n Baedeker.

En dit kan nie anders nie – ons leef in ’n land wat strek van sy seders in Waterkloof tot sy Soweto diamond chips (die nuwe “in”-term vir die kinders van tycoons) tot sy Somaliese vlugteling wat by Bellville-stasie oorleef deur bedags met ’n doodgewone badkamerskaal op die sypaadjie te sit en verbygangers R2 te vra om hulself te weeg.

Wat ’n fantastiese versameling stories oor mense wat elkeen sy of haar weg moet vind, met daardie verbete instink om te oorleef, om beter te word; dit wat die mens so ’n besonderse wese maak.

En in ons land, met sy verskeidenheid landskappe, is skrywers ons toergidse na die kaarte van ons plase en stede, en na die innerlike kaarte van die gemoed.

Dis iets besonders om daarvoor vereer te word, en ek bedank u.

I accept this honour – and it is a deeply humbling honour – as a celebration of what all our country’s storytellers engage with – the difficult craft of storytelling, the space, the Kalahari, opening up before you once you’ve penned those initial, classic words, ”Once upon a time …”

It is then that it becomes your duty to make the stone more stony, to fight the habitual both in language and in form, to grapple with the particular laws of art, to write against the easy conclusion and the glib truth.

To see story as both an argument and as a tour; and while the tour lasts, to enjoy the ride.

Meneer die Kanselier, meneer die Visekanselier, en gaste, ek het ondersteuning en aanmoediging gehad in my skrywersloopbaan – van baie mense en instansies. Ek bedank my vrou, Kaia, spesifiek. Sy is my eerste leser, my “reader of first instance”, en sy lees met die diagnostiese oog van die geneesheer. Ek bedank ook my universiteit, die Universiteit van Kaapstad, wat die grasie het om skeppende geeste te verduur.

Many thanks to everyone here, for this honour, for this lovely evening – to those who laid these tables, served us our meal, poured the wine, got us all here, and who will clean up after we have all left.

These things are greatly appreciated.

I thank you all.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top