The Barber of Seville: prettige opera in intieme teater bied groot vermaak

  • 1

Foto-erkenning: Kim Stevens

Danksy verskeie mense se bydraes, het opera die afgelope paar jaar meer toeganklik vir die breër publiek geword. Maar die wonderlike werk van Magdalene Minnaar van Kaapstad Opera, wat die sexy teruggesit het in opera en nie net nie-opera-liefhebbers nie, maar ook kinders en tieners met oop monde na opera laat luister, is onbetwisbaar.

Miskien is dit die mooi kostuums, die mooi stelle, of bloot die goeie publisiteitfoto’s wat opera meer tersaaklik maak, wat mense se harte steel nog lank voor hulle in die teater arriveer.

Hoe dit ook al sy, ek het nooit enige oorreding nodig om die werk van teatermaker Sylvaine Strike as regisseur te ervaar nie en beslis nie om ’n vertoning by Theatre on the Bay in Kampsbaai te gaan kyk nie. Ek het egter nog nooit opera daar gaan kyk nie en was dus baie nuuskierig om te sien hoe hierdie opera – groter as die lewe self – in hierdie intieme ruimte gaan uitspeel.

Die persvrystelling van Kaapstad Opera vooraf het verklaar dat “Strike, bekend vir haar vindingryke, fisies-ekspressiewe storievertelling, uit haar diep agtergrond in teater en commedia del’arte put om ’n produksie te lewer wat ryk is aan sjarme, beweging en lewendige karakterisering. Haar regie versterk die komedie deur ekspressiewe gebare en fisiese humor, wat Gioachino Rossini se vonkelende partituur en vokale vuurwerke laat skyn bo-op ’n visueel dinamiese, karaktergedrewe fondament. The Barber of Seville is Strike se eerste keer dat sy ’n opera regisseer.”

En oor die opera lees ons: “[D]it vereis uitsonderlike vokale ratsheid en ekspressiewe flair, en lewer pittige resitatiewe en onvergeetlike melodieë wat gehore wêreldwyd bly vermaak.”

Oor die kleiner teater maak Sylvaine se opmerking heeltemal sin: “Die produksie kanaliseer die gees van 18de-eeuse Italiaanse operahuise. Die kleiner skaal van die lokaal word ’n kreatiewe voordeel – ‘grand opera in bonsai-vorm’ – wat gehore ’n noue en emosioneel-resonante ervaring gee.

“As jy nog nooit opera gekyk het nie, moet jy hierdie produksie probeer,” sê sy, “dis heerlik snaaks, gevul met fisiese humor, liefde, intrige en storiewendinge.”

Rossini sou self in sy noppies gewees het dat sy 1816-opera buffa (komiese opera), Il barbiere di Siviglia, meer as 200 jaar later nou met ’n lekker Suid-Afrikaanse kleurtjie – en humor – spog.

Die opera is gegrond op Pierre Beaumarchais se Franse komedie, The Barber of Seville, van 1775.

Die storie in 30 sekondes (danksy die pragtige program wat ek by die deur kry):

Bedryf 1: Graaf Almaviva arriveer in Sevilla in die hoop om Rosina se hand te wen, wat deur haar voog, Bartolo, agter slot en grendel aangehou word. Hy probeer – vermom as ’n arm student – om haar te nader. Hy span kragte saam met Figoro, die skerpsinnige plaaslike barbier, wat voorstel dat die Graaf die huis as ’n dronk soldaat binnegaan.

Bedryf 2: Die soldaat-plan misluk, so Almaviva keer terug vermom as ’n musiekonderwyser om nader aan Rosina te kom. Meer chaos volg soos Bartolo toenemend agterdogtig raak. Uiteindelik onthul die Graaf wie hy is, Rosina stem in om met hom te trou en notarisse arriveer net betyds om die paartjie te trou. Bartolo word uitoorlê en die liefde seëvier.

Mensig, is ek uitgeboul deur nie net die ongelooflike kostuums nie, maar die goue draad van Sylvaine se aanslag. Ek was mal oor haar hantering van The tempest, Spring awakening en The promise die afgelope paar jaar, maar die opera vat die koek.

Die aand se betowering begin met ’n glas vonkelwyn in die foyer, waar die gees hoog loop. In my koevert met kaartjies is ’n briefie van Kaapstad Opera om dankie te sê vir ons ondersteuning. As dit nie stylvol is nie, dan weet ek nie.

........
Die lekkerte begin sommer nog voor die gordyn vir die eerste bedryf lig, wanneer Jan Hugo, die musikale regisseur, met sy manelpak en pluiskeil deur die teater stap en agter die vleuelklavier inskuif.
.........

Die lekkerte begin sommer nog voor die gordyn vir die eerste bedryf lig, wanneer Jan Hugo, die musikale regisseur, met sy manelpak en pluiskeil deur die teater stap en agter die vleuelklavier inskuif. Hy word regdeur die opera deel van die vertoning met verskeie lede van die rolverdeling wat direk met hom praat as “maestro”. Hy word soms gemaan om stadiger te speel as die sangers kamtig uitasem raak van die vinnige pas van die opera en soms word hy aangehits om meer te speel om atmosfeer te skep.

Allegra Bernacchioni wat vir die stel en kostuums verantwoordelik was, sit agter ons in die boks en sjuut-sjuut die gehoor kort voor die gordyne open, maar gesels dan self onderlangs! Dis heeltemal te verwagte van openingsaand en om haar handewerk in ’n volgepakte teater te sien, moet opwindend – en senutergend – wees. Sy kon egter gerus wees, alles was voorwaar uit die boonste rakke.

Daar is ’n rooi en blou rolverdeling vir die speelvak. Ons sien in die blou rolverdeling vir William Berger (Bluebeard’s castle, The sound of music) as Figaro; Thando Zwane is die rooi rolverdeling Figaro. Ná sy debuut as Graaf Almaviva vir die English National Opera by die London Coliseum in 2024, is Innocent Masuku (rooi) in dié rol en deel met Dumisa Masoka (blou). Masuku, ’n voormalige Kaapstad Opera Judith Neilson Young Artist, het verlede jaar internasionale opslae gemaak toe hy vierde in Britain’s got talent geëindig het. Maar ons geniet vir Masoka terdeë. Al was sy stem by tye effe sag, het hy later sy plek volgestaan.

Die bekoorlike Rosina word gespeel deur die Wene-gebaseerde gaskunstenaar, Megan Kahts (blou), en Kaapstad Operahuis-solis, Brittany Smith (rooi), en bring hulle komiese flair en vokale briljantheid tot hierdie vinnige verhaal van liefde, vermomming en speelse rebellie.

Ander kunstenaars sluit in Lonwabo Mose en Conroy Scott as Bartolo; Monde Masimini as Don Basilio; Garth Delport as Fiorello; Luvo Rasemeni as Ambrogio; Lusibalwethu Sesanti as Berta en ’n manlike stem-ensemble van die Kaapstad Operakoor.

Berta laat die gehoor uit haar hand eet met haar komiese vertolking, en die energie wat sy bring, rol oor die gehoor soos ’n wafferse Mexican wave.

Daar is selfs ’n regte Kaapse geurtjie by: Op ’n stadium kom dit ewe onverwags van die verhoog: “Hey jy!” en die gehoor skaterlag.

En teen die tyd wat die sangers wonder hoe dié avontuur sal eindig, sit die gehoor op die punte van hul sitplekke. Daar is spontane applous na ingewikkelde sangstukke en ’n paar keer hoor ons “bellissimo” – nie van die boks agter ons nie ...

........
Aan die einde van die 180 minute – 20 minute pouse ingereken – is die gehoor op dieselfde adrenalien-hoogtes as die sangers! Staande ovasies is aan die orde van die dag en kort voor lank kom maak almal agter die skerms wat hierdie heerlikheid moontlik gemaak het, ook hul buiging.
........

Aan die einde van die 180 minute – 20 minute pouse ingereken – is die gehoor op dieselfde adrenalien-hoogtes as die sangers! Staande ovasies is aan die orde van die dag en kort voor lank kom maak almal agter die skerms wat hierdie heerlikheid moontlik gemaak het, ook hul buiging.

Ek stem heelhartig met Sylvaine saam: As dit jou eerste opera moet wees, is jou opera-pad met goud beslaan!

Ek is verheug om te sien die stuk gaan ook na die Toyota Stellenbosch Woordfees by die Spier-amfiteater.


The Barber of Seville

Met: William Berger, Megan Kahts en 14 lede van die Kaapse Operasangers
Deur: Gioachino Rossini
Regie: Sylvaine Strike
Stel en kostuums: Allegra Bernacchioni
Musikale regie en klavier: Jan Hugo
Beligting: Josh Lindberg
Koormeester: Antoinette Huyssen
180 minute

Theatre on the Bay, Kampsbaai
Italiaans met Engelse boskrifte
Barber of Seville: 5 tot 17 Augustus, saans om 19:00; Saterdag om 18:00 en Sondag om 14:00.
Kaartjies deur Webtickets of die Theatre on the Bay-kaartjieskantoor by 021 438 3300. Die vertoning gaan ook vanjaar na die Toyota Stellenbosch Woordfees by die Spier-amfiteater. Vertonings is op 12, 14 en 16 Oktober om 19:30.

 

  • 1

Kommentaar

  • Jannie Hanekom

    Goeiedag.
    Ek het op Sondag 10 Augustus die rooi rolverdeling gesien en dit was uitsonderlik goed, hoogs genotvol - baie geluk aan al die betrokkenes.
    Ons was 4 en almal was dit eens - 'n uitstekende produksie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top