"Ballade van die bloeddorstige jagter" deur GA Watermeyer: Fragmente
(Probeer die gedig kry en lees, dis lank en ’n skokkende aanklag teen die mens.)
Die geelkapél se kronkels lê
drie sirkels om die maan.
Met watter woede sal die wind
teen middernag sy tentseil slaan?
Uit elke kloof en krans
Hoor hy die klipdas skree,
Die ou wildvreemde roep
Van lang verstarde wee.
Oor kimme van die ooste ruk
Die werwelwind sy mane los.
Uit watter ribbes van die nag
Kruip wonde teen die swarthaakbos?
Koor van
verminkte
diere: Ons was die hoefslag teen die grond
die vlerkslag teen die lug;
maar ál wat lenig was het jy
in kronkels van die pyn ontwrig.
Jagter: Hy wat in die weerlig loop het my
uit dreuning van Sy stem geblaas,
my mag gegee oor al wat hier
in vleie en die vlaktes graas.
Koor: Ons kyk uit oë soos jy kyk
en asem uit dieselfde long
en deel die dydrif en die dors,
die angs waarmee die moeders jong.
Jagter: Die soetvleis en die sagte vleis
van al wat op die aarde loop
en in die seë swem, sal ek
na wellus in my hutte hoop.
Kraai: Wee as die skubbe van die haat
die weekvleis om die hart verdring;
laat elkeen wat hier donker lê
die sleepsel van sy lyding bring.
Wilde
kanarie: Ek kelk die sonlig in my keel
en rym die rondebessie ryp;
met kinderhand het hy, het hy
die fluite uit ons bors gegryp.
Olifant-
Trop: Ons wat die sterkstes is gaan stil
verby die koedoe en die kelkiewyn;
maar dreun die oerwoud oop en stort
die stamme in ons pyn.
Kraai: Met hierdie snawel het ek self
Elia in die grot gevoed,
vereffen jy jou skuld, o mens,
met moordslag en met lammerbloed?
Pieter

