Dit is skandelik om te dink dat die DA en Helen Zille ’n publisiteitsveldtog sal voer oor gister se aansluiting by die party van iemand wat se bevoegdheid in die verlede sterk deur die party in twyfel getrek is.
In 2008 het Zille verwys na Balindlela se tyd as premier van die Oos-Kaap deur te sê dat dit gekenmerk was deur aantygings van korrupsie, asook gebrekkige dienslewering.
Zille het ook indirek bevraagteken hoekom Balindlela nie afgedank was toe dit aan die lig gekom het dat sy geweier het om die Pillay Kommissie se ondersoek na 'n half-biljoen rand se korrupsie vry te stel nie.
Die steun wat Balindlela na die party sal bring moet ook bevraagteken word aangesien sy deur die ANC afgedank is as premier van die Oos-Kaap en toe by Cope aangesluit het en nou helaas haar ‘tuiste’ by die DA gevind het.
Vir die DA om so terug te gaan op verklarings en kommentaar wat in die verlede gemaak is, is hipokraties en nie wat die party se lede van hom verwag nie. Dit bewys ook dat die party behep is met ras as maatstaf vir sukses in die SA-politiek. Die party kan op sy eie uitstyg en hoef nie so laag te daal om die ANC en COPE se afval te eet nie.
Charl Linde


Kommentaar
Hipokraties? Seker hipokrities / huigelagtig / skynheilig / geveins.
Johannes Comestor
Jy klink soos ’n politieke kommentator; beskryf wat in die sepie aangaan en dit het geen invloed op die rigting waarin die storie ontvou nie naamlik afdraand (in SA se geval): A doen B in maar intussen is A se kleinneef besig om C by te kom wat die aangenome dogter van B se skoonsuster, D, is en dié skuld vir A afpersgeld wat sy eintlik wou skenk aan A se niggie, E, vir ’n lypo. Die soort van ding, ’n onbeduidende laggertjie.
Charl
Stem saam. Indien daar oor hoe moraliteit uitbasuin word (die DA), is dit teleurstellend dat hulle soveel prominensie vir ’n opportunis soos vir die Balendlela "washout" gee, en veral in ’n tyd dat die DA pogings aanwend om COPE se samewerking in opposisie geledere te probeer verkry.
Jaco Fourie
Johannes my lief - damn it, dit was my desliksie wat die a/i debakel veroorsaak het... Jammer.