Baie melk en twie sykers: De Vries laat haar karakters én haar hartsplek lewe

  • 0

Outeur: Anastasia de Vries
Uitgewer: Protea
ISBN: 978-1-86919-345-4
Bladsye: 104
Prys: R120

 

"Heerlik, heerlik, heerlik!" wil mens uitgil wanneer jy hierdie bundel met sy 30 rubrieke klaar gelees het. Of jy Ravensmead in die Kaap ken of nie, die skrywer laat jou anders kyk na dié gebied waar “te baie vrae nie antwoorde het nie”. Sy skryf met deernis, maar ook met humor, oor haar “komvandaanplek”.

Soms lag jy – jy raak self “so uitgekletter soes ’n love letter”; ander kere sluk jy hard aan die knop in jou keel. Nie omdat die skrywer iets daarin wil afdruk nie, maar oor sy so delikaat omgaan met gebeure, karakters, rituele en selfs  maatskaplike kwessies, waaronder tikverslawing, kinderverdwyning en alkoholmisbruik.

Op die omslag word De Vries met reg beskryf as ’n “baanbreker vir hedendaagse Kaapse Afrikaans”. Sy skryf in dié variant en mens besef net weer hoe verruklik wyd Afrikaans is.

Haar taalgebruik is so beeldend, sy laat haar karakters én haar hartsplek lewe. Die vrou met die “bricklayer-hanne” kan byvoorbeeld ’n “uit-die-koers-uit-mansmens klap lat hy hoor hoe kom hy aan …”  Dan is daar die karakter wat haar lyf en ouderdom “sommer net so in reverse gear” gooi, ene ant Sannie wie se onderkaak so wyd oophang soos “die deure van ’n trein se derdeklaswa” en ’n man met lippe so lank “jy kan skoensole uit hulle sny”.

Mens ervaar die milieu “waar jy nie haastig met stadige goete hoef te wees nie”, proe-proe en ruik-ruik. Só was die skrywer se pa “die alchemis wat magic uit name soos borrie, komyn, masala, koljander, roosmaryn, dille, tiemie en pens-en-pootjies kon optower”. Maar vir só ’n kok gaan dit om soveel meer as die kosmaak-daad. Hy leer sy dogter dat kosmaak “’n geniet-ding is, ’n soort paringsdans, dat jou hart moet sing sodat geel en ligbruin speserye, sout, peper, bloederige vleisstukke en bossievis in jou hand die liefdesoffer word as ‘ek is lief vir jou’ maar swaar oor jou lippe kom”.

Die rubrieke is lekker dig en ’n goeie voorbeeld van hoe sulke kort stories met ’n goeie struktuur moet lyk. Dikwels laat ’n slotsin jou hart ruk so onverwags is dit. Maar dan besef jy ook: geen ander einde sou so goed kon werk nie. "Mens sonder weerga"se slot klink byvoorbeeld só:

En nou nog, as jy mooi kyk, sal jy ’n naald of koppiespelde voor op haar rok of hemp vasgesteek sien. Want dalk, net dalk leef sy iewers ’n uithangsoom raak, ’n naat wat losgetorring het.
Sy is die mens wat ek wil wees as ek eendag groot(s) is.

Mense noem haar Juffrou.

Ek noem haar Mamma.   

Die leser word eweneens ingetrek in stories oor gay-wees ("Frikkie in my kind") en Alzheimer-siekte ("’n Seer saak met William"), en wanneer jy klaar gelees het, lees jy weer om agter te kom hoe die skrywer dit regkry om haar sê so subtiel, maar tog ook met groot impak, te sê.

Kritiek het ek nie. Dalk net ’n voorstel: Wat van ’n woordelysie agterin? Daar is enkele woorde wat sommige lesers dalk beter sou wou verstaan, al kan jy die betekenis naastenby aflei; soos vyltrêns, vyflaastrek en voorstebos

De Vries skryf boeke is vir haar “padwysers wat jou gees en wêreld verruim, jou vlerke gee sodat jy hoog, hoog bokant verontregting en vooroordeel kan uitstyg”. Baie melk en twie sykers is ’n waardevolle bydrae tot dié kultuurskat.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top