Sedick is ’n inboorling van die kusdorp Strand in die Wes-Kaap, waar hy ook sy skoolloopbaan voltooi het. Hy is ’n gegradueerde van die Universiteit van die Wes-Kaap, waar hy twee diplomas en twee BA-grade verwerf het. Hy het ook ’n meestersgraad in Publieke Administrasie en het vir ’n jaar in Siena, Italië studeer.
Sedick was vir 12 jaar ’n onderwyser by Strand Sekondêre Skool in die Strand. Hy verlaat die onderwys in 1998 en doseer by verskillende instellings, soos die IMM Graduate School en Isa Carstens Academy. Hy vervul mettertyd die rol van fasiliteerder, opleier, breier (coach) en verskeie verwante rolle.
Hy word mettertyd as konsultant gekontrakteer deur verskillende staatsdepartemente, oa die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, Departement van Seevissery, Departement van Vervoer, Departement Omgewingsake, verskillende staatsbeheerde instellings (soos Transnet, Landbank, Denel en SANParks), munisipaliteite, korporatiewe kliënte, nieregeringsinstellings, die Universiteit van Kaapstad en die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie. Hier bied hy opleiding aan en verrig fasiliteringswerk vir onderwerpe soos beter kommunikasiemetodes, konflikhantering, diversiteitsopleiding, interpersoonlike verhoudings, finansiële bestuur, probleemoplossing, tydsbestuur en dies meer.
Hy is betrokke by gemeenskapsorganisasies en dien in die direksie van of tree as trustee op vir verskillende organisasies. Hy beklee tans die pos van spesiale trustee in die trust van die gemeenskapsradiostasie Stem van die Kaap, waar hy ook voorheen ’n omroeper van sy eie program was. Hy was voorheen voorsitter van die Strand Opleidingskollege en Boland Opleidingskollege, en direkteur van die Elgin Learning Foundation (ELF) en Bergzicht Opleidingskollege. Sedick is verantwoordelik vir die skryf van twee boeke wat onder sy naam gepubliseer is, naamlik Introduction to the RDP en sy onlangse My Apartheid diary.
Verder is hy ’n groot sportliefhebber en kyk hy graag rugby, krieket, atletiek en sokker.
Sedick het ’n groot voorliefde vir skryf en vir die natuur.