René Arendse se juniorskoolloopbaan begin in Distrik Ses, waar sy die klipstrate hand aan hand saam met haar pa elke dag moes uitloop. Hy is haar grootste inspirasie en mentor as Afrikaanse-onderwyser. Afrikaans en die onderwys is deel van haar DNS.
René is van 1995 tot 2005 voltyds in die onderwys en beklee die posisie van hoof van die Departement Kreatiewe Kunste en graadhoof vir verskeie grade. Sy dien op verskeie kulturele komitees en speel ’n groot rol in die kulturele verryking van haar leerders. Sy word ook voorsitter van die Tygerberg Kunssentrum, en dien op verskeie direksies en eisteddfodpanele.
In 2005 begin René haar eie besigheid en geniet die wêreld van verkope en bemarking.
In 2011 stig sy ’n musiekakademie in haar gemeenskap met die doel om alle kinders toegang te gee tot bekostigbare onderrig in klassieke musiek. Dit groei tot ’n aanstelling van vier musiekonderwysers en ’n studentetal van meer as 120 in verskeie instrumente.
Haar passie vir openbare redevoering, inspireringspraatjies en die bemagtiging van ander bly deurgaans ’n belangrike aspek van haar loopbaan.
As ’n vryskutkonsultant wat spesialiseer in die onderwys en die kunste bestuur René tans verskeie bemagtigings- en opvoedkundige projekte vir organisasies. René se ervaring met die bevordering van Afrikaans strek van skoolprojekte saam met die Afrikaanse Onderwysnetwerk tot streekskoorprogramme vir die Suidoosterfees, Rapport en die ATKV, sowel as programaanbieding op RSG, Kunstekaap se jaarlikse plattelandse uitreikprogram, mentorprogramme saam met die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans en mediapersoon vir DAK Netwerk.
Sy is in 2017 benoem as Ambassadeur vir Afrikaans en verteenwoordig Afrikaans.com in die Wes-Kaap.
In 2023 is René aangestel as die nasionale adjunkkoördineerder vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.