Reg Dodds

Reg Dodds se aanspraak op roem is dat hy vir langer as enigiemand wat hy ken rekenaarwetenskap op universiteitsvlak onderrig het. Tans, in 2025, gee hy steeds bystand aan nagraadse studente.

Sy loopbaan het in Julie 1963 afgeskop toe hy Fortran aan derdejaarwiskundestudente aan die Universiteit Stellenbosch doseer het, en hy was deel van die span wat in Februarie 1968 rekenaarwetenskap daar begin aanbied het. Ná hy rekenaarwetenskap by die Universiteit van Natal en die Universiteit van Port Elizabeth gedoseer het, is hy in 1975 terug in Stellenbosch waar hy tot sy aftrede in 2003 ’n rekenaarwetenskapdosent was. Benewens Fortran en samesteltaal, het hy Algol, Basic, Lisp, PL/I, Pascal, C, C++, Logo, Modula II, Oberon, Java, en Python gedoseer en daarin geprogrammeer.

Daarna het hy by die Universiteit van Wes-Kaapland klasgegee tot die einde van 2017, waar hy lesings gegee het oor datastrukture en algoritmes, teoretiese rekenaarwetenskap, vertalerontwikkeling en masjienleer. Hy het in die afgelope aantal jaar saam met studente en kollegas verskeie artikels oor masjienleer die lig laat sien.

Saam met Willie Hewett het hy die Universiteit Stellenbosch se salarisstelsel in samesteltaal op ’n IBM 1620 geïmplementeer. Dit het hulle 10 weke geneem, en die eerste gerekenariseerde uitbetalings het op 31 Mei 1965 begin.  Hulle is elk R400,00 betaal vir die tien weke, wat gelykstaande was aan die maandelikse salaris van ’n voltydse senior professor.

In 1983 het hy die Retrograde woordeboek van Afrikaans saam met Johan Combrinck uitgegee. Hy het dit onlangs digitaal laat herleef. In 1984 het hy sy Rekenaarwoordeboek, ’n woordeboek van Engels-Afrikaanse rekenaarterme, gepubliseer.

Reg is ’n behendige gebruiker van LaTeX.

Digitale profieldekomposisie

Carl Rohwer, Reg Dodds LitNet Akademies (Natuurwetenskappe) 2025-08-31

"Hierdie artikel bespreek die ekonomiese stoor en transmissie van ’n algemene gekwantifiseerde profiel of ’n histogram. Ons toon aan dat een goeie kandidaat ’n spesifieke diskrete pulstransform is, gebaseer op die klas van sogenaamde LULU-gladstrykers."

Top