Reana Steyn

Reana Steyn is ’n deurwinterde regskundige wat reeds twaalf en ’n half jaar lank haar merk in die ombudswêreld maak. Na sewe jaar in die kredietombudsman se kantoor is sy in 2017 aangewys as die ombudsman vir bankdienste – die eerste vrou wat in hierdie posisie aangestel is.

In die aanloop tot ’n uitmuntende loopbaan, het Reana haar BCom- en LLB-grade met vlieënde vaandels verwerf en haar klerkskap by die welbekende Deneys Reitz Attorneys (nou Norton Rose Fulbright) in Johannesburg voltooi. Daarna het sy nege jaar lank privaat gepraktiseer met spesialiteitsgebiede wat die spektrum van lugvaartreg en versekeringsreg tot mediese nalatigheid dek. Nog ’n dekade lank was sy ’n versekeringsregdeskundige by een van Suid-Afrika se voorste versekeringsmaatskappye. En in 2006, met haar aanstelling as die eerste regsadviseur vir die Nasionale Kredietreguleerder, het sy die wêreld van kredietreg en die gepaardgaande regulatoriese kwessies betree, gerugsteun deur senior bestuursvaardighede wat sy in die ouditreus KPMG se nakomings- en regulatoriese departement geslyp het.

Reana se beduidende bydrae tot die ombuds- en alternatiewe dispuutoplossingsfeer is voorafgegaan deur sewe jaar by die Kredietombudsman vir Suid-Afrika, vyf jaar lank in die posisie van adjunkombudsman. Afgesien van haar baanbrekerswerk as ombudsman vir bankdienste, is sy tans ook die voorsitter van die Internasionale Netwerk van Finansiële Ombudskemas (INFO Network), asook voorsitter van die Ombudsmanvereniging van Suid-Afrika.

Reana is ’n passievolle kampvegter vir regverdigheid in alternatiewe dispuutbeslegting asook die rol wat sy kan speel om verbruikers van hul regte bewus te maak. Sy is onwrikbaar verbind tot die toenemende bevordering van verbruikers se opvoeding ten einde hulself te beskerm wanneer dit by banksake en kredietkwessies kom.

Reguit met Robinson: Sukkel jy met jou bank? Als oor die bankombudsman.

Freek Robinson, Reana Steyn Onderhoude 2022-05-18

Waarom is daar ’n bankombudsman? Hoe help haar kantoor gewone mense? Is haar kantoor onafhanklik? Wie oorsien hulle werk? Hoeveel klagtes kry sy? Hoe vaar Suid-Afrikaanse banke in vergelyking met dié van die buiteland? Freek Robinson het dié en ander vrae aan Reana Steyn gestel.

Top