Mike Ford is tans in die PhD-program in geskiedkundige musiekwetenskap aan Columbia-universiteit in New York, waar hy grotendeels onder Ellie Hisama en George Lewis werk. Hy het in 2016 ’n MA in musiekwetenskap aan Rutgers-universiteit (New Jersey) verwerf. Sy verhandeling, onder Eduardo Herrera, handel oor die wyses waarop Richard Beaudoin en Georg Friedrich Haas musikale aanhalings en praktyke uit die Renaissance in hulle hedendaagse komposisies gebruik, met behulp van mikrotydsberekening en mikrotonaliteit onderskeidelik. Hy het in 2012 in BMus (Uitvoerende Kuns) aan die Universiteit van Pretoria voltooi, waar hy onder Gerben Grooten in orkestrale dirigeerkuns gespesialiseer het. Sy miniverhandeling, onder Heinrich van der Mescht, ondersoek die verhouding tussen die werk van Charles Darwin, Friedrich Nietzsche en George Crumb.
Mike gebruik navorsingsmetodes uit ’n verskeidenheid velde en sy primêre belangstelling sluit onder meer die musiek van die 20ste en 21ste eeu, intertekstualiteit, musikale aanhaling, semiotiek, musikale gebare en psigoanalise in. Hy is betrokke in die akademiese ruimtes van die VSA én Suid-Afrika, waar hy gereeld praatjies by nagraadse, plaaslike, nasionale en internasionale kongresse lewer. Sy navorsing oor Haas se musiek is in die Europese joernaal Musicologica Olomucensia gepubliseer (2015) en hy is ’n bydraende redakteur van die eerste volume van die Vladimir Drozdoff Publication Project (2016).
As voorgraadse student het Mike nie net in verskeie orkeste en ensembles fagot gespeel nie, maar hy het ook gespesialiseerde groepe gestig, dirigeer en administreer. Deesdae speel hy ook graag tjello in kamermusiekgroepe. Hy het as sekretaris van die Rutgers University Musicological Society gedien en was ook op die groep se kongreskomitee. Verder het hy Rutgers op die Lincoln Center Student Advisory Council verteenwoordig. Benewens verskeie beurse en reistoelae van al drie universiteite waaraan hy verbonde was, is sy studies ook deur die Oppenheimer Memorial Trust ondersteun.
Mike woon sedert 2014 in New York.