Ons leef in en met woorde. Met woorde verduidelik ek myself en met woorde verklaar ek my omgewing. Sonder woorde is ons geslote bedelaars wat nie weet waar om kennis te kry en hoe om wysheid toe te pas nie.
Ek gebruik ongestruktureerde woorde, soos Jackson Pollock wat ’n verfdoek bespat in die verklaring van sy denke. Dit is geen digkuns en geen poësie nie, ek laat bloot die woorde uitspat soos ek op daardie stadium voel. Ek noem dit Rammelskrif. Letterkundiges sal hulle koppe skud en die Pendoring sal verby my flits.
Ek is ’n oud-plaaskind, tegnies opgelei, voorheen werksaam by ’n Technikon, in die opvoedkunde (en straat-filosofie) ingefoeter en tans semi-pensioenaris in Jeffreysbaai.