Matildie Thom Wium het in 2003 ’n B. Mus. graad (cum laude) aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, met klavier (uitvoerend) as hoofvak en sang (uitvoerend) as ekstra vak. Vanaf haar nagraadse studies was musikologie egter haar hooffokus, en sy behaal die graad M. Mus. (cum laude) in 2006 met ? tesis oor die laat klavierwerke van die Suid-Afrikaanse komponis Arnold van Wyk (1916-1983) onder die leiding van prof. Izak Grové. Sy is sedert Januarie 2007 dosent in die Departement Musiek van die Universiteit van die Vrystaat, waar sy voorgraadse modules van sistematiese musiekstudie onderrig, nagraadse studieleiding waarneem en saam met haar kollega Hans Huyssen ? vokale ensemble afrig wat spesialiseer in vroeë musiek.
Sy het reeds drie akademiese referate gelewer oor haar navorsing oor Arnold van Wyk by kongresse van die voormalige Suider-Afrikaanse Musiekwetenskapvereniging en die huidige South African Society for Research in Music, naamlik:
- "But it doesn't mean anything! - So we put in words": The emergence of meaning in Arnold van Wyk's Tristia (aangebied in 2007),
- "Egidius, waer bestu bleven?" - Arnold van Wyk's "Rondo desolato" (Tristia) as a song without words (aangebied in 2006), en
- Arnold van Wyk se Ricordanza (1974) as musikale aandenking. (aangebied in 2005).
Sy is op die oomblik ingeskryf vir ’n D. Phil. in musikologie, met gesamentlike studieleiding van dr. Stephanus Muller (Universiteit van Stellenbosch) en prof. Nicholas Cook (Royal Holloway, University of London). Die onderwerp van die studie is die verband tussen analise en komposisieproses in geselekteerde werke van Arnold van Wyk.
Matildie is ? bekwame sangeres en tree gereeld op in solo- en ensemblekonserte. Sy het gereeld musiekresensies vir Die Burger geskryf terwyl sy in die Kaap gewoon het, en doen tans nou en dan dieselfde vir Die Volksblad. Sy is op 15 Desember 2007 getroud met Daniël Wium, wat besig is met sy meestersgraad in astrofisika aan die Universiteit van die Vrystaat.