Ek is 'n DPhil-student aan die Universiteit Oxford, waar ek die voorreg het om 'n departement met Jocelyn Bell Burnell te deel – die vrou wat die teiken van my navorsingswerk ontdek het! In 1967 het sy die eerste pulsar, 'n neutronster wat radiopulse uitstuur, met 'n radioteleskoop in Cambridge bespied.
Vandag is pulsarnavorsing 'n breë studieveld, met baie opwindende vooruitsigte. Die MeerKAT-teleskoop, en daarna die SKA, gaan byvoorbeeld pulsars inspan om gedetailleerde toetse van Einstein se algemene relatiwiteitsteorie uit te voer en uiteindelik ook swart gate se eienskappe te ontleed.
Ek bestudeer die afdruk van die interstellulêre medium op pulsarseine. Dit laat ons toe om die struktuur van die interstellulêre medium in fynere besonderhede te ontleed, iets wat tot dusver maar sleg verstaan word.
Hou gerus die joernaal Monthly Notices of the Royal Astronomical Society dop vir my artikel, "The frequency dependence of scattering imprints on pulsar observations", wat binnekort verskyn.